Regter Desai het Maandag die verrigtinge begin deur 'n opsomming te gee van adv. Pieter Botha se argumente wat verlede week in die hof aangevoer is.

Hy sê die advokaat het dieselfde argumente aangevoer as tydens die verhoor en het gesê in die afwesigheid van enige ander faktore buiten Henri Van Breda se jong ouderdom en geen ander kriminele oortredinge, is die straf wat hy opgelê is, gepas.

Henri van Breda is op drie aanklagte van moord en een van poging tot moord, asook regsverydeling skuldig bevind.

Adv. Pieter Botha.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het betreklik gou opgevul met die onderskeie regspanne, waaronder adv. Pieter Botha en prok. Lorinda van Niekerk (vir Van Breda), adv. Susan Galloway (vir die staat), die media en belangstellendes.

Van Breda en sy meisie van die afgelope paar jaar, Daniellé Janse van Rensburg, het nie vandag se verrigtinge bygewoon nie. 

Adv. Botha het aangedui hulle gaan binne 15 dae skriftelike vertoë tot die Appèlhof lewer om daar aansoek te doen om teen die vonnis en uitspraak appèl te kan aanteken.

'n Absolute verdraaiing van die reg

Daniellé Janse van Rensburg het tydens 'n opspraakwekkende onderhoud met die Australiese aktualiteitsprogram 60 Minutes aangedui dat die uitspraak teen Van Breda 'n geval van absolute verdraaiing van die reg is.

Volgens haar het Van Breda geen dwelms gebruik nie en dat die bewering dat hy die aand voor die grusame bylmoorde op sy familie 'n program oor 'n bylmoordenaar sou kyk, as bog afgemaak. Dit was glo 'n program wat deel van die aand se normale televisieskedule was en volgens Daniellé is dit ook so aan hulle verduidelik.

"Hulle het Star Trek daardie aand gekyk," hou sy vol.

Wat van die gerugte rondom 'n gewas op Van Breda se brein? Ook hierop reageer Daniellè met 'n geloofwaardige antwoord: "Dit was deel van 'n studentemaat se studie en daar is 'n skandering van Henri se brein geneem. Die kol wat opgeduik het, was glo net iets soos 'n waterblasie."

En die gebrek aan emosies wat by Van Breda te bespeur was? Oscar Pistorius se naam word hier genoem om te verduidelik hoekom daar oënskynlik geen emosie sigbaar was by die man wat skuldig bevind is daaraan dat hy feitlik sy hele gesin met 'n byl uitgewis het nie.

"As hy nie huil nie, is hy emosieloos, maar as hy huil word dit as bloot toneelspel gesien." Daarom het Van Breda sy emosies in toom gehou sodat mense nie "iets gehad het om mee te werk nie".

Sy erken sy het vir hom 'n slaapmiddel ingegee die aand voor die uitspraak in die hof gelewer is en sê dis waarskynlik hoekom dit voorgekom het asof hy slaperig in die hof was. Hy het glo eers 04:00 die oggend aan die slaap geraak en twee uur later weer opgestaan.

Daniellé sê die noodoproep wat eers deur die operateur as 'n poets beskou is en die keer toe Van Breda in die hof met die replika-byl die aanval moes demonstreer was terselfdertyd frusterend en skokkend.

'Beskermende broer'

Arina Smit, 'n maatskaplike werker van die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders (Nicro), het ongeveer drie weke gelede met Aarti Narsee van eNCA gepraat oor hoe sy Van Breda tydens konsultasie voor sy skuldigbevinding en vonnisoplegging ervaar het.

Sy sê kinders wat ernstige geweldsmisdade pleeg, sal byvoorbeeld diere en ander kinders mishandel. Maar geen van daardie tekens was kleintyd by Van Breda te bespeur nie.

"Alles dui op 'n gesonde, funksionele gesin."

Hy kom as 'n baie beskermende broer teenoor Marli voor en dat hy in alle waarskynlikheid oorbeskermend teenoor haar sou wees en alles vir haar sou doen," het Arina die verhouding tussen die twee opgesom.

Marli, benewens Van Breda, is die enigste oorlewende van die gesin wat in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 met 'n byl doodgekap is. Die brutale aanval het byna haar lewe geëis nadat haar hoofslagaar met die byl afgekap en sy ook breinbeserings tydens die aanval opgedoen het. Sy is sedert haar ontslag uit die hospitaal onder die kuratorskap van adv. Louise Buikman.

Kelly Phelps, 'n senior dosent in kriminele reg aan die Universiteit van Kaapstad, het aan die Weekend Argus gesê die aansoek om appèl kon 'n skaflike kans tot sukses staan na aanleiding van die dokumentasie wat deur Van Breda se regspan voorgelê is.

Sy het terselfdertyd die staat se saak as oortuigend genoeg beskryf, maar die gebrek aan 'n motief laat sekere vrae opduik, asook die moontlikheid dat die luukse gholflandgoed se sekuriteitstelsel nie noodwendig voldoende beskerming aan die inwoners gebied het nie.