Die pa van die vermiste blondekopkleuter, Liam Nortjé (3), is Maandag ná ’n vlugtige verskyning in die landdroshof op Harrismith in die Oos-Vrystaat borgtog geweier.

Nantes Nortjé (47), wat daarvan aangekla word dat hy in November verlede jaar sy seuntjie ontvoer en toe gevlug het, wil volgens die polisie steeds geen inligting verskaf oor Liam se welstand, veiligheid of waar hy hom kan bevind nie.

Nantes is in Julie vanjaar in ’n informele nedersetting in Ladysmith in KwaZulu-Natal opgespoor, maar daar was geen teken van Liam nie.

Nantes Nortjé

“Hy (Nantes) sal nie borgtog kry voor die kind (Liam) gevind is nie,” het sers. Mmako Mophiring, 'n plaaslike polisiewoordvoerder, Dinsdag aan Huisgenoot gesê.

Mophiring sê die dossier is na die kantoor van die direkteur van openbare vervolging vir verdere insae verwys. Hy kon nog nie ’n datum van Nantes se volgende verskyning verskaf nie.

“Die polisie is steeds besig om leidrade op te volg wat hulle daartoe kan lei om Liam te vind. Die jongste ondersoeke op Harrismith en omgewing het nog niks opgelewer nie,” sê hy.

Leon van Eck (28), die verloofde van Cheinelle Nortjé (42), Liam se ma, het Woensdag aan Huisgenoot gesê haar vervreemde man se hofverskyning het haar erg emosioneel laat voel.

“Sy het dit baie swaar gevat om hom weer te sien. Sy het dit nie verwag nie,” het hy gesê.

Liam en sy ma, Cheinelle.

Cheinelle het vroeër in ’n eksklusiewe onderhoud aan Huisgenoot vertel Nantes het vermoedelik hul kind ontvoer nadat sy voorgeneem het om van hom te skei.

Hulle was ten tyde van die beweerde ontvoering al ’n tyd lank vervreem, hoofsaaklik omdat hy jare lank geen poging aangewend het om werk te soek en vir sy gesin te sorg nie. Hy het glo heeldag in sy onderbroek sit en rekenaarspeletjies speel.

’n Emosionele Cheinelle het toe gepleit sy wil net weet waar haar kind is en vertel sy vrees die dag dat hy borgtog kry.

“Ek is bang hy sal reguit gaan na waar Liam is en hom en Liam iets aandoen, en dan sal ons nooit weet waar Liam is nie.”

Sy het vertel in die tyd toe sy die eerste keer vir hom gesê het sy wil hom verlaat, het hy homself probeer vergas.

Cheinelle Nortjé, Liam se ma, sê al waarop sy wag, is die oproep dat Liam gekry en gesond is. Foto: Rowyn Lombard.

Tania Opperman van South Africa Support Initiative (SASI), ’n organisasie wat daarin spesialiseer om vermiste mense op te spoor, en Cheinelle en haar ander twee dogters (15 en 18) bystaan, sê hulle doen ’n beroep op almal om hul oë oop te hou vir Liam.

“Ons wil ’n baie groot beroep doen op almal om te help om Liam te vind. Tot dusver was daar nog geen vordering van die polisie se kant af nie. Daar is ook nog geen inligting van sy pa nie.

“Ons wil vra dat mense moet kyk na hul onmiddellike omgewing, bure, vriende en familie. Wie ook al vir Liam wegsteek, moet besef dat hulle ook in hegtenis geneem kan word. SASI bedank almal vir die hulp en bystand tot dusver en vra dat almal nog help soek.”

Liam word al agt maande vermis.