'Geen kind verdien dit nie' – hartverskeurende nuus vir ouers ná baba Mienke aan melk stik

akkreditasie
“Vandag was die dag wat ons almal gehoop het vir goeie nuus, en in een sekonde het dit gevoel asof ons wêreld uitmekaarval,” is die woorde van die sewe maande oue Mienke se ma nadat hul ergste nagmerrie waar geword het.

“Duisende vrae: Hoekom? Waarom? Trane van hartseer en pyn wat onophoudelik loop!” het Verna Rheeders Mulder Donderdag op haar Facebook-blad geskryf.

Mienke is sowat twee weke gelede na die Mediclinic Nelspruit geneem nadat sy by 'n dagsorgsentrum aan melk gestik en blou in die gesig begin geraak het.

Mienke was skynbaar reeds dood toe sy by die hospitaal aankom, maar 'n kwartier later het hulle weer 'n polsslag gekry. Sy is per lugambulans na die hospitaal in Midrand geneem, waar sy aan ’n ventilator gekoppel was.

Sedertdien het Verna en haar man, Ryno Mulder, gehoop vir ’n wonderwerk.

Mienke saam met haar ma Verna in die hospitaal. Foto: Facebook

Maar ná verskeie breinskanderings blyk dit nou dat hulle klein dogtertjie nooit weer dieselfde sal wees nie.

“Mienke se MRI-resultate het vandag (Vrydag) gekom; dit was nie waarop ons gehoop het nie. Mienke se belangrikste deeltjie van haar brein het skade opgedoen,” sê haar ma.

Volgens haar het Mienke ernstige breinskade opgedoen.

Verna sê die neuroloog het hulle in kennis gestel dat Mienke lewenslank gestremd sal wees.

“Sy sal nie kan loop, hardloop, sien, praat, ens. nie! Sy is so klein en onskuldig en het nog ‘n hele lewe voor haar!”

Sy het verder in die inskrywing haar hart uitgestort.

Verna se hart is in stukke nadat haar klein dogtertjie erge breinskade opgedoen het.

“Ek wil net weer jou laggies hoor wanneer mamma jou kielie of vir jou gesiggies trek. Jy moet nog saam met jou twee sussas by die trap op- en afklim en fietsie ry, bal skop en alles doen wat kinders veronderstel is om te doen.”

“Maar, my pop, God het die laaste sê. Ons Hou aan bid vir volkome herstel, dat die liewe Vader haar breintjie sal genees.

“Geen kind verdien dit nie; geen ouer verdien dit nie.

“Mienke, my pop, mamma is so jammer; my hart is in stukke gebreek!

“Maar weet my liefde vir jou is meer as ooit. Ek sal jou handjie nooit los nie! Saam gaan ons dié ding beveg, want jy is Jesus se kryger en ons eie Miracle Mienke,” het sy haar inskrywing afgesluit.

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees