Sy straal van trots terwyl sy na haar man kyk. Pres. Nicolás Maduro is nou wel ’n korrupte diktator wat Venezuela op sy knieë gedwing het, maar vroulief staar na hom asof hy ’n held is. Hoe kan sy so blind wees?

Vir sommige is die antwoord eenvoudig: Sy is nog korrupter as hy. Cilia Flores is in haar land so gehaat dat mense na haar as die “Lady Macbeth van Suid-Amerika” verwys. Terwyl haar man van die een ramp na die volgende beweeg, glo talle Cilia, ’n voormalige prokureur, is die poppespeler wat die toutjies trek.

“Sy’s ’n Venezolaanse Claire Underwood,” sê John Polga-Hecimovich, ’n assistentprofessor in politieke wetenskap aan die Amerikaanse Vlootakademie, met verwysing na die konkelende presidentsvrou wat Robin Wright in die trefferreeks House of Cards speel.

Cilia (62) is glo nie net magshonger nie; sy is ook gulsig, en dit lyk nie of sy ’n duit vir haar mense omgee nie. Terwyl talle Venezolane sukkel om een ete per dag te bekostig, skeel dit haar min om saam met haar man aan steak weg te lê.

Op een foto wat verlede jaar in die sosiale media gedeel is, eet hulle steak van R3 800 wat deur die sjef Salt Bae berei is. Met dié dat Nicolás se presidentskap wankelrig begin lyk, is daar ook gerugte dat die twee miljarde die land uitgeneem en in oorsese bankrekenings versteek het.

Daar is bewerings van verduisterde oliegeld, goudstawe wat uit die sentrale reserwebank verdwyn het en ’n geheul met dwelm- en wapensmokkelaars. Dinge lyk so sleg dat Kanada haar naam by ’n lys van mense gevoeg het wat hulle as “verantwoordelik vir die agteruitgang van demokrasie” beskou.

Intussen het die Amerikaanse departement van finansies sanksies teen Cilia ingestel vir haar rol in die “bevordering van korrupsie, dwelmhandel en menseregteskendings”. Dit beteken al haar eiendom en bates daar is gevries. En die besluit het ’n senuwee raak geboor.

Nicolás (56) was woedend. “Jy mors nie met Cilia nie,” het hy in ’n televisietoespraak gesê. “Jy mors nie met die familie nie. Moenie lafaards wees nie. Haar enigste misdaad is sy is my vrou.”  

Toe haar man in 2013 president word, het Cilia die titel “presidentsvrou” verwerp. Dis “te kleinburgerlik”, het sy gesê. Sy sou bekend wees as “die eerste vegter van die vaderland en die eerste vrou van die mense”. Maar deesdae word sy net beskou as ’n lewende bewys van hoe mag tot verdorwenheid lei.

Cilia het in ’n beskeie huis in Tinaquillo grootgeword, en haar liefde vir motorfietse het haar die bynaam Biker Girl besorg. Sy het met haar hoërskoolliefde, Walter Gavidia, getrou, drie kinders gehad en in die 1980’s ’n regsgraad aan die Santa María-universiteit behaal.

Cilia het deur die jare een van haar man se grootste – en glo ook luidrugtigste – ondersteuners gebly.

As lid van Hugo Chávez se regspan het sy ’n sleutelrol daarin gespeel om die revolusionêr uit die tronk te kry ná sy mislukte staatsgreeppoging in 1992. Hy was van 1999 tot 2013 die president van Venezuela en die een wat Cilia aan haar toekomstige man voorgestel het.

Nicolás, ’n gewese busbestuurder, het deur die vakbonde se geledere opgang gemaak en was ’n vurige ondersteuner van Hugo se sosialistiese revolusie. Nadat Hugo in 1999 president geword het, was Nicolás minister van buitelandse sake en ook ’n ruk lank adjunkpresident.

Hugo het Cilia ook vir haar lojaliteit beloon deur haar die voorsitter van die land se wetgewer te maak. Sy is later as prokureur-generaal aangestel. Hoewel Nicolás en Cilia sedert die vroeë 1990’s ’n paartjie is, het hulle eers in 2013 afgehaak. Hy was toe reeds president. Hy het die pos oorgeneem nadat Hugo (58) aan ’n hartaanval dood is ’n paar maande nadat hy vir sy vierde termyn as president ingehuldig is.

Die stylvolle Cilia is gedurig aan haar man se sy. Die pre­sidentsvrou het haar bes gedoen dat haar man meer plat-op-die-aarde oorkom sodat mense van hom sal hou, maar sommige sê sy sal wat dit betref net nooit kan wen nie.

Buiten haar nuwe rol as presidentsvrou het Cilia toe ook oorgeneem as adjunk in die land se nasionale vergadering. Maar daar was omstredenheid toe dit aan die lig kom sy het haar invloed gebruik om te verseker meer as 40 van haar familielede kry aanstellings in verskeie politieke ampte.

“Cilia is ’n intelligente en ambisieuse vrou,” sê die joernalis en politieke aktivis Noris Argotte. “Die pro-regeringsmedia hou haar as vegter voor, maar hatige teenstanders beskou haar as ’n vrou wat haar posisie misbruik om luuks te leef.”

Bronne sê sy is Nicolás se “hoofraadgewer” en hy neem geen besluit voor hy haar eers geraadpleeg het nie. En dis hoekom talle haar vir die land se rampspoedige agteruitgang blameer.

Die ekonomie van die olieryke Venezuela, eens Latyns-Amerika se welvarendste nasie, het met byna 50% gekrimp sedert Nicolás aan die bewind gekom het. Kenners sê dis weens korrupsie en wanbestuur; en nou ly gewone mense daaronder.

Die gesondheidstelsel het ineengestort en kruidenierswinkels is leeg. Maar selfs al was daar kos, sou die meeste mense dit nie kon bekostig nie. Die Internasionale Monetêre Fonds verwag Venezuela se inflasiekoers gaan vanjaar 10 miljoen persent bereik, een van die ergste gevalle van hiperinflasie in die moderne geskiedenis.

Intussen het Nicolás, desperaat om aan mag vas te klou, kritici van sy regime in die tronk begin stop. Maar wanneer hy saam met sy vrou gewaar word, lyk hy sorgeloos – hulle hou hande vas, speel skaak en stap met ingehaakte arms.

Sy en haar man tree gewoonlik in die openbaar uiters liefderik teenoor mekaar op.

Cilia is gretig om sy beeld te poets en het ’n werklikheidsreeks begin aanbied waarin sy plekke soos pediatriese hospitale en ouetehuise aandoen en met kabinetsministers oor die Bolivariaanse sosialistiese revolusie gesels. Maar dit was vervelig en kykertalle het oes gelyk.

Hoewel Cilia beweer sy volg die Kabbalah-geloof en gedurig boodskappe van teenmaterialisme verkondig, word sy gereeld in ontwerpersklere gewaar. Intussen word haar drie seuns uit haar eerste huwelik, Yosser, Walter en Yoswal, in Amerika ondersoek vir hul beweerde rol in ’n reuseinternasionale geldwasskema waar geld uit Venezuela se nasionale oliemaatskappy geplunder en in geheime bankrekenings versteek is.

Hulle het met dié twyfelagtige skema na bewering sowat R2,7 miljard in hul sak gesteek. Hoewel die bewerings nog bewys moet word, kan almal sien die drie geniet die lekker dinge in die lewe.

Baie Venezolane was ’n ruk gelede ontstoke toe dit aan die lig kom Yoswal en Walter het R600 000 op luukse verblyf van 18 nagte in die Ritzhotel in Parys geblaas. Die rekening is gelykstaande aan die gesamentlike maandelikse salarisse van 2 000 Venezolane.

Intussen dien twee van Cilia se neefs, Efrain Flores (31) en Franqui Flores (33), in Amerika 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle R270 miljoen se kokaïen in die land probeer insmokkel het. Die twee, wat deur Cilia en Nicolás grootgemaak is, het in 2017 in hofdokumente beweer hulle smokkel dwelms om geld in te samel “om hul familie in magsposisies te hou”.

Deesdae lyk dit of die net ál stywer om Nicolás trek. Ná bewerings van stemknoeiery in verlede jaar se verkiesing erken talle lande Juan Guaidó, hoof van die opposisie, nou as die land se regmatige president.

Talle mense dink Cilia se liefde vir ontwerpersklere pas nie by die teenmaterialismeboodskap wat sy so gereeld verkondig nie.

Teen druktyd het Nicolás geweier om die presidentskantoor te ontruim. Die beleërde president het te midde van betogings om hom sy tassies te laat pak vir mense gevra om vir hom te bid.

“Ek vra dat julle my jul seën sal gee. Ek vra genoeg liefde om die leisels van die land oor te neem en die land na ’n beter bestemming te lei.”

Al is liefde onder sy mense maar yl gesaai, kan hy ongetwyfeld altyd op sy vrou staatmaak. Want as sy die sê gehad het, was hy ten spyte van die lot van sy landgenote lewenslank president.

Bronne: Caracaschronicles.com, Foxnews.com, Dailymail.co.uk, Aljazeera.com;

Foto's: Gallo Images/AFP, Gallo Images/Reuters, Realtime Images, Twitter/@conciliaflores