Gerrie moet van voor af elke oggend sy gesin leer
Gerrie moet van voor af elke oggend sy gesin leer ken nadat sy geheue vyf jaar terug uitgewis is. Foto: Fani Mahuntsi

Die afgelope vyf jaar is elke oggend vir hom ’n eindelose kykweertoneel oor ’n lewe waarvan hy die intieme besonderhede oor en oor moet leer ken: Sy eie. 

“Jy word wakker en jy voel dat hierdie plek jou eie is, maar jy weet nie regtig wat aangaan nie,” vertel Gerrie Kachelhoffer (47).

Maar elke oggend is daar genadiglik ook een konstante ding: die mens wie se naam en gesig hy nie bymekaar kan bring nie.

Dan stel sy haarself weer aan hom voor:  “Ek is jou vrou . . .” En vir sowat ’n uur lank, soos elke oggend sedert die traumatiese misdaadvoorval wat hom sy geheue laat onderdruk, vertel Yvonne Kachelhoffer (48) vir haar huweliksmaat van die afgelope 26 jaar oor homself, sy gesin, en sy leefwêreld.

“Ek maak altyd seker ek is voor hom wakker. Sodra hy wakker is, is ek by hom,” vertel sy.

“Dan begin ek hom vertel dat daar in 2016 iets met hom gebeur het en hy daarom niks onthou nie. Ek vertel van ons laatlammetjie, Ansuré (3), ek vertel hom van ons familie en dat hy nou ’n oupa is.”

Gerrie kan Ansuré glad nie onthou nie. Hy het wel geleer om sy twee volwasse dogters, Su-Mari (24) en Anneri (21), te onthou, maar soos met Yvonne sukkel hy om hul naam by hul gesig te pas. 

Ek moet hom herinner waarmee hy die vorige dag besig was: dat hy gister die gras wou sny, en om vandag blare op te hark.

Su-Mari, wat saam met haar man, Warren Joubert, en ses weke oue baba, Isabella, by haar ouers woon, moet haarself elke oggend aan haar pa voorstel.

As Gerrie soggens vir Ansuré sien, herken hy ook nie dié klein blondekoppie van hom nie.  

“Ek moet elke oggend vir hom ’n prentjie inkleur,” sê Yvonne.

“Ek moet hom herinner waarmee hy die vorige dag besig was: dat hy gister die gras wou sny, en om vandag blare op te hark.” 

Die afgelope jaar moet sy hom soggens weer inlig oor die pandemie, verpligte gesigmaskers en sosiale afstand.

“Dis vir hom elke oggend ’n skok.”

Dit is maar moeilik om in die oggend wakker te word en jy kan niks onthou nie, maar ek bly positief. Ek kan myself jammer kry of ek kan die dag aangryp en voluit gaan.

Yvonne se hand rus liefdevol op sy been terwyl sy haar “oggendrympie” vir jou uitlê.

Gerrie luister aandagtig, sy gesig ’n mengsel van vertroue en verwondering.

“As Vonna my eers van alles vertel dan sit jy daai legkaart aanmekaar,” sê hy dan.

“Maar ek het vanoggend weer ’n paar surprises gehad. Ek het gehoor ek het ’n laatlammetjie . . . was ’n groot skok vir my gewees.

“Dit is maar moeilik om in die oggend wakker te word en jy kan niks onthou nie, maar ek bly positief. Ek kan myself jammer kry of ek kan die dag aangryp en voluit gaan,” vertel Gerrie, wat nie meer kan werk of self bestuur nie.

Gerrie kan glad nie onthou dat hy 'n dogtertjie va
Gerrie kan glad nie onthou dat hy 'n dogtertjie van drie het nie. Hy moet Ansuré elke dag van voor af leer ken. Foto: Fani Mahuntsi

Hy ontvang wel terapie vir die trauma wat sy geheue onderdruk by Pretoria se Denmar- psigiatriese hospitaal. 

Yvonne beaam deernisvol: “Party dae is makliker as ander. Hy is baie geduldig en neem alles in. Hy het baie keer opvolgvrae en lyk soms verward, maar die meeste van die tyd aanvaar hy dit en gryp die dag aan.” 

Wat onveranderd bly is Gerrie se liefde vir Yvonne.

“Was dit nie vir die Hemelse Vader wat my elke dag deurtrek en my vrou wat so mooi na my kyk nie, weet ek nie waar ek nou sou gewees het nie,” vertel hy.

Sy vryf glimlaggend oor sy been. “Ja, dit is so . . . Hy raak elke dag van vooraf verlief op my.”

Terwyl Yvonne vertel van die dag wat Gerrie se geheue uitgevee het, luister hy soos iemand wat dit vir die eerste keer hoor.

Dit was 20 Junie 2016 toe Gerrie, destyds ’n tegnikus by ’n bousaak, na Lebowakgomo in Limpopo gereis het vir werk. Yvonne werk as projekbestuurder by dieselfde maatskappy. 

“Hy het nog vir ons oggendgodsdiens by die werk gehou,” vertel Yvonne.

“Met Skriflesing het hy ons as kollegas drie keer gevra:  ‘As die Here vandag besluit dis jou laaste dag, waar gaan jy wees?’”

Sy het haar man gegroet en hy het gery.

Later het sy vir hom ’n WhatsApp-boodskap gestuur, maar hy het dit nie gelees nie.

“Ek het gedink hy’s dalk net besig.” 

Daardie aand kry sy die skokoproep: Gerrie word vermis. Sy wit Toyota-bakkie is verlate gevind.

“Sy selfoon en karsleutels was nog in die bakkie, maar sy Bybel en beursie met R4 000 was saam met hom weg,” vertel sy. 

Yvonne moet elke oggend vir Gerrie 'n oggendrympie
Yvonne moet elke oggend vir Gerrie 'n oggendrympie opsê sodat hy weet wie sy gesin is en wat tans in die wêreld aangaan. Foto: Fani Mahuntsi

Sy kollegas en die polisie het ’n groot soektog begin. Van Yvonne se familielede het gaan help, maar sy het tuis gebly. Hulle het die hele dag en nag gesoek.

Yvonne het eers die volgende dag ’n bietjie probeer slaap. 

“Ek het die gevoel gekry iemand kom sit agter my op die bed. Dit het gevoel of die bed insink en toe ek kyk, is daar niemand,” onthou sy en begin huil.

“Ek het daar vir die Here gesê ek weet hy gaan terugkom. Hy gaan weer agter my rug kom lê.” 

Omstreeks negeuur daardie aand het die nuus gekom dat Gerrie in ’n hospitaal in Polokwane is.

’n Taxibestuurder het hom herken danksy ’n pamflet wat deur die soekendes uitgedeel is, en na ’n polisiekantoor geneem.

“Maar daar was stakings in Hammanskraal en ons kon eers die volgende dag deurry,” vertel Yvonne. 

Haar familie het hom intussen gaan sien en vir Yvonne vertel hy kan hulle glad nie onthou nie.

“Ons het gedink as ons daarheen ry sal hy sy gesin onthou,” vertel sy.

Gerrie Kachelhoffer kan weens 'n traumatiese gebeu
Gerrie Kachelhoffer kan weens 'n traumatiese gebeurtenis niks onthou nie. Sy vrou, Yvonne, moet hom elke dag herinner wie hy is. Foto: Fani Mahuntsi

Sy was geskok toe sy hom die volgende dag in sy hospitaalbed sien met ’n blou oog, skaafwonde aan sy bene en hoofbesering.

“Sy eerste vraag aan my was: ‘Ken jy vir Jesus’? Hy kon ons glad nie onthou nie.”

Sy kon hom dieselfde dag huis toe neem, en het gehoop die geheueverlies sou kortstondig wees. 

“Maar hy het heeltyd gevra of ons hom na sy mense gaan vat. Dit het weke lank so aangegaan. Ons moes later vir hom sê ons gaan hom na sy mense toe vat, maar ons gaan hom net eers hier by ons huis versorg. Eers ná drie weke het hy ons name begin onthou.” 

Veral die eerste drie maande terug by die huis was bitter moeilik vir almal.

“Hy kon niks onthou nie. Hy kon nie onthou hoe om aan te trek of te bad nie. Ek moes hom bad en al gesprekke wat ons kon voer, was oor die Bybel.” 

Gerrie saam met sy oudste dogter, Su-Mari, sy klei
Gerrie saam met sy oudste dogter, Su-Mari, sy kleinkind, Isabella, Yvonne en hul laatlamdogtertjie, Ansuré. Foto: Fani Mahuntsi

Hy kan ook nie onthou hoe om te lees, skryf, of self motor bestuur nie.  

Hulle het Gerrie na ’n neuroloog en ’n slaapkliniek geneem, en hy spreek tans ’n psigiater.

Yvonne wys vir ons die psigiatriese verslag waarin dr. Ilse du Plessis, Gerrie se psigiater, in 2016 bevestig het dat hy ’n breinskandering en bloedtoetse ondergaan het, en dat kognitiewe toetse wys sy lang- en korttermyngeheue is afwesig.

“Dokters kan glad nie vir ons sê wat die oorsaak is nie. Hulle skryf dit toe aan trauma. Ons weet ook nie of sy geheue ooit gaan terugkom nie, maar hy het al baie vordering gemaak. Hy kan vir homself sorg,” vertel Yvonne moedig. 

Maar sy erken dit was aanvanklik bitter swaar. 

“Ek het elke oggend met die hoop wakker geword dat hy vandag gaan onthou, en dan gebeur dit nie. Dit het my moedeloos gehad. Maar ek net op ’n dag besef dis die Here se wil. Ek het dit so aanvaar, en ons vat dit dag vir dag.”

Gerrie is medies ongeskik gevind om te werk.

Haar groot hoop is dat hy weer sal kan lees en skryf sodat hy ’n daaglikse joernaal kan hou en self lees.

Sy herinner hom elke dag aan spesifieke werftakies om te doen, of sit die televisie vir hom aan.

Aanvanklik het sy die motorhek se afstandbeheerder weggesteek uit vrees dat hy sal uitgaan en verdwaal wanneer sy by die werk is.

Deesdae mag hy om die blok stap.

“Ons huiswerker hou ’n oog en maak seker hy kom weer by die huis uit.” 

Haar groot hoop is dat hy weer sal kan lees en skryf sodat hy ’n daaglikse joernaal kan hou en self lees.

Maar tot dan sal sy haar oggendrympie geduldig vertel. En sy bly positief en vriendelik vir hom.“Anders gaan hy dink hy’s met ’n draak getroud.”

En Gerrie verseker jou hy onthou altyd sy vrou en haar liefde vir hom.

“Ek weet sy is myne. As jy my in ’n kamer sit met ’n ander vrou, sal ek dadelik vir jou sê dis nie my vrou nie.” 

Hulle glo hy sal weer homself word.

“Dokters sê ons moet dit tyd gee,” vertel Yvonne.

“Ons hoop en vertrou op die Here. Ons weet nog nie wat Sy plan is nie, maar ons moet net glo.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe