Hy was die steunpilaar waar ook al daar nood was, die oor wat simpatiek sou luister, die skouer waarop gehuil kon word. Ook in die moeilike tyd – die tyd van die coronaviruspandemie en dikwels hartseer impak van die inperking – was hy daar om na sy gemeente se vrese en verdriet te luister.

Dit alles – sy mense se swaarkry en seer – het die dominee met hom saamgedra. Want vir sy vrou en vyf kinders was hy ’n liefdevolle man en pa, maar vir die Hervormde gemeente van Carletonville in Gauteng was hy ’n herder. Maar ook hý het seer gehad.

Tog, al het ds. Henk Calitz se vrou, Martie, geweet hy ly aan depressie, het sy nooit gedink dit sou hom daartoe dryf om sy eie lewe te neem nie. Maar op Vrydagoggend 19 Junie het die 40-jarige leraar van die Hervormde kerk op die myndorpie aan die Wes-Rand homself op die verhoog van die kerksaal om die lewe gebring.

Henk calitz
Henk tydens ’n doop. Foto: Verskaf

“Hy was ’n sprankelende mens. As enigeen ’n probleem gehad of gesukkel het met iets, het hy gesê: ‘Moenie worry nie; ek sal ’n plan maak,’ en hy hét,” vertel Martie oor die man met wie sy die afgelope 11 jaar getroud was.

Die skok oor die geliefde dominee se dood aan sy eie hand het tot ver buite die pastorie uitgekring waar sy gesin nog worstel om dit te verwerk, tot ver anderkant die gemeente se grense. Want die vorige keer dat Henk die nuus gehaal het, was dit met ’n bemoedigende plasing in April op Facebook.

Nadat hy “slegte stories” oor “magsmisbruik” gehoor het, was hy gespanne toe die polisie hom buite Parys in die Vrystaat by ’n padblokkade voorkeer, het hy erken.

Toe die polisiekaptein hoor hy is ’n predikant, het hy gevra dat Henk vir hulle bid. Sy fyn humorsin skemer deur waar hy in sy plasing op Facebook vertel: “Ek weet nie of die Heer my Engels lekker verstaan het nie, maar die kaptein het sy span bymekaargeroep en ek het vir hulle gebid. Ek het gebid vir hulle wat in hierdie moeilike tye ook harde houe vat.”

Henk calitz
Martie en Henk. Foto: Verskaf

In hierdie tyd moes Henk duidelik self ook kwaai teenslae verduur. Weens die inperking moes hy Sondae in ’n leë kerk sy preek lewer, met net sy vrou daar wat ’n video-opname daarvan maak om dit in die gemeente te versprei.

“Miskien was dit nie vir hom genoeg nie,” wonder Martie nou hardop. “Miskien is dit omdat hy nie by al die mense kon uitkom nie. Ek weet dit het hom baie gepla dat ons ou mense so afgesonder is.”

In stilte het hy soms swaar gedra aan die gemeenskap se laste, vertel sy. En in dié tyd van die covid-19-pandemie was daardie laste soveel swaarder.

“Ek dink hy het soms gesukkel omdat hy nie mense se pyn kon deel of regmaak nie. Hy het met my daaroor gepraat, maar selfs dan was hy versigtig. Hy kon enige geheim hou.”

Soos sy eie geheim van gedagtes om sy eie lewe te neem. ’n Dag voor sy dood was hy en Martie nog saam by sy sielkundige.

“Hy was stil, maar nie ek of die sielkundige het enigiets agtergekom nie. “Miskien het hy nutteloos gevoel,” sê-vra die weduwee in haar soeke na antwoorde.

“Henk het eenkeer vir my gesê hy vra altyd vir mense hoe dit met hulle gaan, en hy luister, maar niemand vra hom hoe dit regtig met hom gaan nie.”

Dit is die tweede Sondag sedert die donkerkopvrou met die vriendelike oë so onverwags ’n weduwee geword het. In die pastorie staan die kombuis vol blomme wat gemeentelede, vriende en hokkiespelers die afgelope 10 dae gebring het.

Henk, ’n oudonderwyser, het verskeie hokkiespannne – van die Laerskool Dagbreek en die Hoërskool Carletonville, asook ’n klubspan en Suid-Gautengse provinsiale spanne – afgerig.

“Ons is dankbaar daarvoor. Dit het my staande laat bly en laat besig bly, want ek is bang as dit stil raak, breek ek,” sê Martie in die sitkamer waar ons met haar en haar dogters, Kyla (18) en Carli (14), uit haar eerste huwelik gesels. “Maar Henk is ons pappa,” sê Kyla en byt haar onderlip. Hy was ook die pa van ’n seun, Handré (13), uit sy eerste huwelik en van sy en Martie se tweeling, Benja en Drikus (9).

Henk calitz
Martie en twee van hul kinders, Carli (links) en Kyla. Foto: Onkgopotse Koloti

Hulle het vir die naweek saam met hul oupa Hennie Calitz (68) gaan troos soek by die viswaters. “Een van die seuns het nog glad nie gehuil nie,” vertel Carli bekommerd. “Ek dink nie hulle besef al heeltemal dat Pappa weg is nie.”

Op ’n Sondag soos dié voor die covid-19-pandemie sou Martie en die kinders saam kerk toe gegaan het om na Henk se preek te luister.

“Toe ek Henk ontmoet het, was hy my predikant. Ek weet nie hoe ek ooit na iemand anders op die preekstoel sal kan luister nie,” sê Martie. “Ek mis hom,” sê Kyla.

“Hy sou my vanoggend uit die bed geroep het met ‘Kyla, hoe lief is jy vir ons?’ omdat hy skimp vir koffie,” sê sy. Toe hulle die oggend voor sy dood vir oulaas saam ontbyt geëet het, het Kyla opgemerk Henk lyk hartseer.

Sy het hom daarna gevra, maar hy het bloot gesê hy voel maar net ’n bietjie hartseer. Hy was aangedaan toe hy haar by die skool groet, vertel Kyla, wat vanjaar in matriek is.

Henk het daardie oggend, soos soveel ander dae, vir sy kinders gesê hy is lief vir hulle en hy gaan by die kerk werk. Om halfnege het hy deur die hekkie gestap tussen die pastorie en die kerk met sy weerhaan wat op die dorp uittuur.

Hy het twee briewe daar agtergelaat – een vir sy geliefdes en een vir die administratiewe klerk van die kerk, Elmarie Myburgh. Op ’n tafeltjie op die verhoog het hy die Bybel by Psalm 91 oopgeslaan.

“Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind . . . ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.’ ” Met ’n geel band – waarmee stoele in die kerksaal gewoonlik in stapels vasgebind word – het hy homself op die verhoog opgehang.

Henk calitz
Henk is in die Hervormde kerk op Carletonville dood waar hy byna 10 jaar gepreek het. Foto: Onkgopotse Koloti

“Elmarie het haar brief gekry toe sy by die werk aankom,” vertel Martie. “Daarin staan: ‘Moenie dat die seuns by die kerksaal inkom nie. Bel dadelik die polisie.’ Sy het by die saal ingeloer en gesien.

“Terwyl sy wag, het die seuns hul pa kom soek. Sy het gelukkig vinnig gedink en vir hulle gesê hy het saam met ’n oom gery en hulle moet by die huis gaan wag.”

Martie was in die landdroshof op die dorp waar sy administratiewe werk doen toe sy ’n stemboodskap van Henk kry. Nog voor sy kon luister, het ’n polisieman wat ook ’n gemeentelid is die sitting kom onderbreek om haar buitentoe te roep.

“Henk het in sy stemopname gesê hy is baie lief vir my en ek moet asseblief mooi na die kinders kyk. Dit is dit. Selfs in die brief wat hy gelos het, sê hy hoe trots hy op die dogters is. Hoe dankbaar hy vir sy ouers is. Hoe lief hy my en die seuns het. Dat hy altyd my man sal wees, maar hy gee geen rede vir sy besluit nie. Niks.”

Sy is teleurgesteld oor Henk se besluit daardie dag, sy sterfdag. “Ek wens hy het net vir een oomblik aan die kinders gedink. Ek is gebreek. Sy ma, Ria, sukkel. Sy sit net,” vertel sy oor haar 64-jarige skoonma wat haar enigste seun verloor het.

Henk laat ook twee susters agter. ’n Week voor sy dood het hy vir byna elk van die 200 gesinne in sy gemeente ’n persoonlike stemopname gestuur. “Hy het hulle op die naam genoem en gevra hoe dit met hulle gaan,” vertel Martie.

Hy was ’n omgeemens wat hokkietoks en -stokke vir minderbevoorregte spelers ingesamel het. “My pa het vir ander skole goaly kits bymekaargemaak en gaan aflaai,” vertel Kyla, en haar oë word rooi.

“Hy was so ’n goeie mens,” sê Martie. “Ek wens ons het geweet hoekom.” Maar in hierdie tyd – die tyd waarin seer en swaarkry dikwels in stilte verduur word – is daar soms geen antwoorde nie.

  • Omdat hoogstens 50 mense tydens die inperking ’n begrafnis mag bywoon, het die familie teen druktyd beplan om Henk se gedenkdiens na agt ander lokale op Carletonville uit te saai.