Goue strande, asemrowende sonsondergange, luukse wonings en skemerkelkies met ’n uitsig op die see maak Plettenbergbaai in die Oos-Kaap ’n speelplek vir die rykes. Dis ook die kusdorpie waarop duisende matrieks elke jaar toesak om die einde van hul skoolloopbaan te vier. En elke jaar op 31 Desember word die nuwe jaar met groot partytjies hier ingewag.

Maar in een vakansiehuis op dié dorp was die koms van die nuwe jaar nie so vreugdevol nie. In ’n roomkleurige dubbelverdiepingstrandhuis in ’n gegoede buurt op die dorp het die voormalige grootbaas van Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika, Jason Rohde (49), glo die vakansie deurgebring.

Sy vrou, Susan (47), is op 24 Julie 2016 dood aangetref agter die badkamerdeur van haar en Jason se hotelkamer op die Spier-wynlandgoed waar sy haar oënskynlik met die kabel van ’n haartang opgehang het.

Maar toe ’n nadoodse ondersoek vrae laat ontstaan oor die manier waarop sy gesterf het, is Jason van haar moord aangekla.

Ná ’n uitmergelende eerste paar maande van sy moordverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad verlede jaar is Jason se borgtogvoorwaardes aangepas sodat hy van 10 Desember tot 4 Februarie Plettenbergbaai toe kon gaan.

Maar toe die verhoor op Maandag 5 Februarie hervat, was daar geen teken van die sakeman nie.

Jason stap die volgende dag geboei by die hooggeregshof in Kaapstad in.

Sy kliënt is siek en is in ’n Kaapse hospitaal, het adv. Pete Mihalik verduidelik en twee mediese briewe by die hof ingedien. Regter Gayaat Salie-Hlophe was nie daarmee tevrede nie en het daarop aangedring dat Jason se dokter die volgende dag oor sy siektetoestand kom getuig.

Die Dinsdag kon die verrigtings weer nie voortgaan nie omdat Jason se advokaat daarop gewys het die strafproseswet vereis sy kliënt moet in die hof wees wanneer sy psigiater, dr. Kevin Stoloff, oor sy geestestoestand getuig.

Die regter het toe ’n lasbrief vir Jason se inhegtenisneming uitgereik. Daardie middag is hy, geklee in ’n turkoois kortbroek, wit T-hemp en grys sweetpaktop, by die Crescent-kliniek in die suidelike voorstede van Kaapstad in ’n rolstoel na ’n polisiemotor gestoot.

Hy het strak voor hom uitgestaar terwyl hy sy gesig agter sy regterhand probeer wegsteek het.

Op daardie oomblik was niks te sien van die fiere sakeman wat gewoonlik kop omhoog in ’n netjiese pak in die hof verskyn nie. Met dowwe oë en ’n grys stoppelbaard het hy bedremmeld en afgerem gelyk toe die polisiemotor se deur toeklap en met hom wegry na die polisieselle op Stellenbosch, waar hy oornag het.

Die volgende dag was hy in die hof toe sy psigiater getuig dat Jason in Januarie erg depressief geraak het.

“Hy het gevoelens van pessimisme en hopeloosheid, en hy voel dis nie meer die moeite werd om te leef nie.”

Die saak kon hom al tot R2,5 miljoen gekos het. Dit kan hom maklik tot R4 miljoen kos tot vonnisoplegging.
Dr. Llewellyn Curlewis, ’n senior lektor in strafprosesreg aan die Universiteit van Pretoria

Kommer oor geldsake rus moontlik swaar op Jason se gemoed. As uitvoerende hoof van Sotheby’s het hy sowat R100 000 per maand verdien, maar hy is intussen afgedank. Hy sukkel nou finansieel en skuld sy regspan honderdduisende rande, het Netwerk24 berig.

“Die saak kon hom al tot R2,5 miljoen gekos het,” reken dr. Llewellyn Curlewis, ’n senior lektor in strafprosesreg aan die Universiteit van Pretoria. “Dit kan hom maklik tot R4 miljoen kos tot vonnisoplegging.”

As hy skuldig bevind word en sou appelleer, sal die koste verder die hoogte inskiet.

Sy borgtog nadat hy in Augustus 2016 in hegtenis geneem is, het hom reeds R1,1 miljoen uit die sak gejaag. Benewens Pete bestaan Jason se regspan uit advv. Graham van der Spuy en Ross McKernan en sy prokureur, Daniel Witz.

’n Regspraktisyn – of dit nou ’n advokaat of ’n prokureur is – se fooi kan tussen R1 500 en R3 000 per uur of tussen R10 000 en R20 000 per dag beloop, maar kan selfs meer wees. 

“Dit word bepaal deur faktore soos senioriteit en ondervinding, asook die spesialisgebied waarin jy werk,” verduidelik Llewellyn. Volgens Netwerk24 is die Rohde-gesin se woonhuis op ’n landgoed langs die Bryanston-gholfbaan in Johannesburg sedertdien vir ’n onbekende bedrag verkoop, maar uit ’n soektog by die aktekantoor blyk dit die oordrag daarvan is nog nie afgehandel nie.

Omdat die huis op Susan se naam was, is die geld in ’n trustrekening en kan Jason dit nie gebruik nie. Die huis, wat sy oorlede vrou keurig in pastelkleure ingerig het, was al in Mei 2016 – twee maande voor haar dood – teen R10,3 miljoen te koop.

Die Rohde-gesin se spoghuis in Bryanston is glo reeds verkoop.

In ’n verklaring wat kort ná sy inhegtenisneming by die hof ingelewer is, sê hy hy en Susan het saam besluit om die huis te verkoop omdat hul oudste dogter gematrikuleer het en hul twee jonger dogters in ’n ander provinsie sou skoolgaan.

Jason en Susan het twee aanbiedings van R8,5 miljoen van die hand gewys, soos Ester Kruger, ’n eiendomsagent van Sotheby’s, in ’n brief bevestig wat by Jason se verklaring aangeheg was.

Huise op die eksklusiewe Wentworth Village-landgoed is aan die ouer kant, sê George Aldrich, ’n RE/MAX-agent van Johannesburg wat al daar sake gedoen het. Hy reken R10 miljoen is ’n billike prys.

“Dit hang alles daarvan af of daar werk aan die huis gedoen is en hoe groot die huis en erf is,” voeg hy by. Sou die omstredenheid oor die hofsaak moontlike kopers afgeskrik het?

“Dit verskil van mens tot mens,” sê George. “Ek sal nie so ’n huis wil koop nie, maar daar het jy (die forensiese ondersoeker) Paul O’Sullivan wat (die Tsjeggiese mafiabaas wat tronkstraf uitdien vir dwelmhandel en poging tot moord) Radovan Krejcir se huis gekoop het.”

In ’n verklaring het Jason ook destyds bekendgemaak sy familie besit eiendom op Plettenbergbaai. Die huis, wat in sy naam geregistreer is, is in 2012 vir R2,1 miljoen gekoop, maar dit lyk asof hy ondanks sy moontlike geldprobleme tog nie van plan is om dit nou te verkoop nie.

Die dubbelverdiepinghuis met ligblou luike is goed versorg. Verder af in die straat is selfs luukser huise. Die gemiddelde prys vir eiendom in die Beachy Head-omgewing, waar Jason se “familiehuis” geleë is, is sowat R2,8 miljoen, sê ’n eiendomsagent van Plettenbergbaai.

Die gemiddelde prys vir eiendom in die Beachy Head-omgewing, waar Jason se “familiehuis” geleë is, is sowat R2,8 miljoen.
’n Eiendomsagent van Plettenbergbaai

Jason kon die afgelope Desembervakansie op Plettenbergbaai deurbring, waar hy ’n huis besit.

“Dit is ’n baie eksklusiewe gebied, maar dit hang af aan watter kant jy jou bevind. As jy aan die see se kant is, kan die pryse tot sowat R30 miljoen styg. Daardie huis is nie aan die see se kant nie; daarom is dit nie so eksklusief nie.”

Dit is sentraal geleë en is minder as 5 km van die Plettenbergbaai-buiteklub, verskeie gimnasiums en winkelsentrums.

Al is dit op die oog af die ideale plek om jou batterye aan die einde van ’n lang en moeilike jaar te herlaai, het Jason hom skynbaar in die somervakansie skaars gehou. Vakansiegangers en inwoners sê hulle het hom nie met ’n oog gewaar nie.

Die saak is tot 21 Februarie uitgestel.

Intussen word Jason in die kliniek behandel. Of hy gesond sal wees om dan sy plek in die beskuldigdebank in te neem, sal net die tyd leer.

“Jason wil nie die saak uitrek nie,” het sy psigiater in sy getuienis in die hof gesê. “Hy wil dit afhandel.”

  • Familielede van Jason en Susan wou nie kommentaar lewer oor die voortslepende hofsaak nie.
EKSTRA BRON: NETWERK24.COM
FOTO'S GALLO IMAGES/ NETWERK24/JACO MARAIS, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, SOTHEBYSREALTY.CO.ZA