Gewilde skrywer François Bloemhof. Foto: Facebook

Sy grilverhale soos Die nag het net een oog, Die duiwel se tuin, Koue soen en Bloedbroer laat sedert die negentigs lesers ril en se tone krul. Sy boek Nagbesoeker het in 1997 uitgekom.  

Die fliek gaan op hierdie boek gegrond word, vertel François aan Huisgenoot. "Dit het beslis wel geen wetenskapfiksie-element gehad het nie! Ek het net gedink dit sal goed werk," vertel hy.

Die verhaal handel oor ’n suksesvolle model van die stad wie se suster op ’n stranddorpie vermoor word, en sy is nie die eerste slagoffer nie.  Die meisie keer terug daarheen, waar haar lewe al hoe meer gekompliseerd raak. Sy is in ’n vaste verhouding, maar ook aangetrokke tot 'n nuwe inwoner op die dorp. Vriende tree vreemd op. Gou raak dit duidelik dat sy en mense na aan haar in gevaar is en sy weet nie meer op wie sy kan vertrou nie . . ," verklap François aan Huisgenoot.

“Ek vrek oor flieks en is superopgewonde. Ek gaan self die draaiboek skryf. Die gawe regisseur het laat weet: ‘We are planning to move forward with your synopsis for The Night Visitor as an international sci-fi/thriller film project. We hope to start the ‘contract process’ by the end of second quarter of 2018, if not earlier. Thank you for your patience’,” skryf hy verder aan sy volgelinge in die sosiale media.

Sy eerste “amptelike fliek” tot dusver was Double Echo wat in 2017 voltooi is. Dis gebaseer op sy boek Doodskoot/Double Echo. “Met Pad Na Jou Hart, Vir Altyd en Vir Die Voëls het ek wel insae in die draaiboeke gehad en het ek bydraes gelewer en voorstelle gemaak, maar daar beskou ek myself eintlik bloot as die skrywer van die boek wat saam met die fliek verskyn het,” vertel François verder aan Huisgenoot.

“Soos jy jou kan indink, word ek nie deur plaaslike rolprentmakers oorval vir 'n sci-fi-konsep nie, want dis eenvoudig te duur. Die draaiboek bestaan nog nie, maar dit gaan nie te moeilik wees om te skryf nie aangesien die storie reeds daar is, hoewel natuurlik met ’n paar groot veranderinge. En dit moet ‘filmies’ word. Dan weer, ek skryf in elk geval filmies . . ,” sê hy.

“Maar dis mos wat wonders! Nou het ons al ’n Blomkamp [Suid-Afrikaanse regisseur van District 9] en ’n Bloemhof daar. Een van die dae herdoop hulle Hollywood na Bloemfontein,” skryf die bekende musiekskrywer, Anna-Retha Green, in reaksie op sy Facebook-inskrywing.

“Ek is vragte dank verskuldig aan Amore Bekker [aanbieder op RSG], wat my by hierdie mense aanbeveel het sodat ek een van dié kon wees wat my pitch in die hoed gooi,” skryf hy op Facebook. “Dánkie, Vrou Met Mooi Stem!”