Riette is 'n joernalis en skrywer wat veral bekend is vir haar misdaadboek, Vlees en Bloed, en die blitsverkoper Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste, die eerste Suid-Afrikaanse en Afrikaanse boek oor dié onderwerp.

Riette, wat in die noordelike voorstede van Kaapstad woon, het Donderdag op Facebook onthul dat daar by haar huis ingebreek is. “Ten spyte van die beams en alarm is daar toe laasnag ingebreek. Hulle het presies geweet waar om 'n venster uit te saag. Ek het nie besef die alarm is diervriendelik nie, so in daardie gebied was dit gedeaktiveer.

“Ek is permanent wakker, so ek kan nie glo dat ek deur alles geslaap het nie,” het sy op Facebook vertel.

“Eintlik behoort mens darem veilig in jou eie huis te wees,” sê Riette.

Ek glo al die jare in die goedheid van die mens
Riette Rust. Foto: Verskaf

“Ja-nee, ek het nooit gedink dat ek ‘n inbraak – veral van hierdie aard – sou beleef nie. Ek glo al die jare in die goedheid van die mens,” vertel Riette aan Huisgenoot.

“Dis buitendien net ‘n klein persentasie van ons wat misdadigers is. Die res is goed. Hoewel ek glad nie voorheen bang was nie, was ek nog altyd veiligheidsbewus, veral sedert my man, JD, se dood,” vertel sy. JD is twee jaar gelede oorlede.

“Ek aktiveer die alarm reeds vroegaand. Dit sluit die strale (‘beams’) wat buite op liggaamshitte reageer, in.”

Die polisie en die sekerheidsmaatskappy reken hierdie inbraak is ’n absolute raaisel, sê Riette. Die alarm was, soos elke ander aand, geaktiveer.

Terwyl Riette geslaap het,het die inbrekers op een of ander wyse die strale in die tuin en die sensors aan elke buitedeur omseil. ‘n Venster in die studeerkamer/biblioteek is netjies uitgesaag.

Ek is ‘n uiters ligte slaper

Die grootskermtelevisiestel, i-Pod met sy luidsprekerstelseltjie (‘docking station’) en ‘n DVD-speler is ook gebuit.

“My gefortifiseerde wynversameling – in die kombuiskas - is in sy geheel uitgedrink. Die leë bottels is voor die kas op die vloer uitgepak. ’n Leë vodkabottel wat in ‘n besondere verpakking was, het op die sitkamermat gelê.”

Riette, die polisie en die alarmmense krap nie net kop oor hoe die inbrekers die alarm omseil het nie, maar ook oor hoe hulle die reuse televisiestel uitgesmokkel het. Die opening wat die ruit gelaat het, is hopeloos te klein. Daarby was al die buitedeure die volgende oggend steeds gesluit en die alarm steeds geaktiveer.

Ek oorweeg dit om ’n waghond aan te skaf

“Ek is ‘n uiters ligte slaper (die kinders sê ek is oombliklik wakker wanneer hulle my nodig het) en kon nie glo dat ek deur alles geslaap het nie. Die inbrekers moes baie sag te werk gegaan het. Dalk was daar net een.

“Vriende bespiegel oor moontlike bedwelming, maar ek het nie die volgende dag gevoel soos een wat dalk iets suspisieus ingeasem het nie.”

Sy hoor nou elke geluid en toe ’n vrou helder oordag in die straat gil, het sy dadelik gedink sy word aangerand.

“Ek is snags bang en deurgaans effens paranoïes, want as die inbrekers dít ten spyte van die muur om die huis én die alarm kon regkry, kan mens mos nie meer veilig in jou eie huis voel of wees nie.

“Ek beplan om berading te kry vir my angs, vrees en nagmerries. Hoe anders sal ek weer rustig kan slaap?”

Ek sal nie toelaat dat die inbrekers my lewensvreugde ook steel nie

Twee aande voor die inbraak het Riette se alarm twee keer afgegaan. Ook haar buurvrou s’n.

“Ek vermoed dat die inbrekers toe reeds die posisie van die strale nagegaan het om te kyk waar en hoe hulle dit kon omseil,” meen Riette. “Ek het wel die sekerheidswag daardie nag laat kom, maar hy kon niks verdags vind nie.”

Sy oorweeg dit om ’n waghond aan te skaf. En wanneer die alarm snags "vir niks" afgaan, sal sy iemand van haar sekuriteitsmaatskappy vra om haar "die volgende aand of twee besonder goed op te pas".

"Ek probeer doelbewus om nie te dink aan wat kón gebeur het nie.”     

Haar vriende is ongelooflik, vertel Riette. “Almal is so bly dat ek en my huishulp van 30 jaar, Susanna Williams, wat ’n kamer op die erf het, nie fisiek seergekry het nie . . . Familielede reken ek is ’n sterk vrou wat alles kan oorkom. Hulle weet maar net nie van die angs, paniek, paranoia en wakkerlê nie . . .

“En tog . . . Ek sal nie toelaat dat die inbrekers my lewensvreugde ook steel nie.”   

Riette studeer tans sielkunde van vooraf, “dié keer deur Unisa en bloot vir die genot”.