Rochelle Billing
Geliefdes van Rochelle Billing (REGS) treur oor haar skielike dood nadat sy in ’n motorongeluk gesterf het. Hier is sy saam met haar vrou, Sharleen, en haar seun, Luann. Foto: Verskaf

Dit was ’n toneel wat selfs die gehardste nooddienswerkers geroer het: ’n Verskrikte hond wat op die ongeluktoneel besaai met motorwrakstukke rondtrippel, ’n lewelose en bebloede vrou wat meters ver tot in die veld geslinger is, en dié se vyfjarige seuntjie wat vergeefs probeer om sy ma wakker te skud.

Ook klein Luann se geliefde Staffordshire-terriër, Dennis, het aan sy nooi kom lek om haar te help bybring.

Maar Rochelle Billing (36) het op slag gesterf in die ongeluk op 12 Mei op die Randfonteinpad naby die Sibanye Cooke 3-plantasie in Westonaria, Gauteng.

Sy was op pad om Luann by die kleuterskool af te laai toe haar motor teen omstreeks 07:30 teen 'n ander voertuig gebots het, vertel Ilze van Deelen, ’n hegte vriendin van haar.

Rochelle Billing
Rochelle en Luann het ’n spesiale ma-en-seun-band gehad, vertel geliefdes. Foto: Verskaf

Luann en sy hond, Dennis, wat saam met hulle in die motor was, het “wonderbaarlik” geen beserings opgedoen nie. Maar sedert die ongeluk is die hond skoonveld. En nie net worstel Luann nou met die hartseer oor sy ma se dood nie, maar ook met die verlange na sy geliefde staffie.

“Hy en Luann was soos Bonnie en Clyde: Dennis het by hom geslaap, hulle het saam gespeel en was soos beste maats. Hy vra nou elke dag of ons hom gekry het en hy wil niks weet van ’n ander hond nie. Daarom is dit vir ons so belangrik om Dennis op te spoor,” verduidelik Ilze.

Vermoedelik het die drie maande oue Dennis óf verskrik van die ongelukstoneel af weggehardloop óf iemand het hom langs die pad opgetel. Hy het ’n groen halsband om sy nek gehad, maar geen mikroskyfie om hom te identifiseer nie.

Ook Day 9 Animal Rescue, ’n organisasie sonder winsbejag, help nou na Dennis soek. Hulle bied ’n beloning van R8 000 aan vir inligting wat tot sy opsporing sal lei.

Oor die ongeluk wat Rochelle se lewe geëis het, is weinig bekend. Geen insittendes van die ander voertuig is beseer nie.

“Ons het soveel vrae, maar omdat daar geen ooggetuies was nie, is daar nie antwoorde op een van hierdie vrae nie. Al wat ons in hierdie stadium weet, is dat Rochelle beheer oor die voertuig verloor het nadat die twee motors gebots het. Sy is op slag dood – die impak van die botsing het haar deur die voorruit geslinger,” vertel Ilze.

Rochelle Billing
Die motorwrak. Foto: Verskaf

“Toe die voertuig tot stilstand kom, het Luan by die agterruit van die motor uitgeklim om na sy ma te soek. Hy het meer as ’n uur langs haar liggaam staan en huil. Luann het later vertel Dennis, wat ook intussen uit die motorwrak gekom het, het aan Rochelle gelek om haar te probeer wakker maak, maar vergeefs.” 

Insleepdienste en die polisie was glo eerste op die toneel. Hierna het Rochelle se vrou, Sharleen Billing (50), ook op die toneel aangekom.

“Sharleen het langs haar gesit toe ek daar aankom,” onthou Ilze vandag. “Nooddienswerkers het haar darem toegegooi sodat sy nie haar vrou se geskende liggaam moes sien nie. Hulle was 12 jaar lank getroud.”

Rochelle Billing
Luann kry nou berading om hom te help om die traumatiese gebeure van die ongeluk te verwerk. Foto: Verskaf

Luann is na die Lenmed Randfontein-hospitaal gehaas waar dokters hom vir inwendige beserings ondersoek het, sê Ilze. Maar buiten vir ’n paar skraapplekke aan sy gesig was hy ongedeerd.

Nou probeer Rochelle se geliefdes opnuut die legkaartstukke van Dennis se verdwyning aanmekaar sit. Dennis was, soos nooddienswerkers vertel, nog op die toneel toe Luann na die hospitaal geneem is.

Wat van hom geword het toe die motorwrakstukke verwyder is en Rochelle na ’n lykshuis geneem is, weet niemand nie.

Rochelle Billing
Luann en Dennis was voor die ongeluk onafskeidbaar, vertel Ilze. Foto: Verskaf

“Dit breek ons harte. Sharleen en Luann was Rochelle se álles; dit sou haar hart gebreek het as hulle ongelukkig was. Dis hoekom ons nie gaan ophou soek nie – ons grootste begeerte is om Luann met sy hondevriend te herenig,” se Ilze.

Rochelle Billing
Dennis, ’n Staffordshire-terriër, is al twee weke lank vermis. Foto: Verskaf
Rochelle Billing
’n Beloning is uitgeloof vir inligting wat lei tot die opsporing van Dennis. Foto: Verskaf

’n Gedenkdiens is verlede week vir Rochelle gehou. Die familie hoop nou dat iemand vorendag sal kom met inligting oor Dennis. 

Luann is in Sharleen se sorg en het gister met beradingsessies begin. “Hy is geweldig getraumatiseerd,” vertel Ilze. “En al weet ons niks kan die verlies van sy ma beter maak nie, sal dit vir ons die wêreld beteken as ons hom minstens met Dennis kan herenig.”

  • Die polisie in Gauteng het nog nie op navrae van Huisgenoot reageer nie.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe