Sy het die man wat haar seun sou help om te sterf eenkeer vlugtig ontmoet, maar daarna het hy uit haar lewe verdwyn. 

Toe die nuus kom dat prof. Sean Davison (57) van die moord op haar seun aangekla word, was dit vir Wilma du Pisani van Port Elizabeth net so ’n groot skok soos vir mense landwyd.

Sean het destyds verstaan. Hy het geweet hoe ondraaglik sy vriend se pyn was en begryp waarom die Kaapse dokter Anrich Burger (43) nie meer wou leef nie.

In die twee jaar dat Sean en Anrich mekaar geken het, het hulle hegte vriende geword. Soms het die professor die dokter in die tuin van sy huis in die Paarl in sy rolstoel rondgestoot; ander dae het hulle saam skaak gespeel.

Hulle het elke dag oor die foon gesels. Toe Sean op 2 November 2013 na ’n hotel in die Waterfront in Kaapstad ry, het hy geweet een van die moeilikste take van sy lewe lê voor. Hy moes sy verlamde vriend help om deur genadedood te sterf.

“Hy kon nie meer met die pyn saamleef nie. Dit was sy besluit om te gaan en ek moes hom bystaan,” het Sean, die stigter van Dignity SA, ’n plaaslike organisasie wat hom vir die wettiging van genadedood beywer, toe aan Huisgenoot vertel.

Anrich en sy ma, Wilma. Foto: Verskaf

In die hotelkamer het Sean vir sy vriend ’n drankie met ’n dodelike dosis van die kalmeermiddel fenobarbitoon gemaak. Dit sou Anrich, ’n kwadrupleeg ná ’n motorongeluk op 3 Julie 2005, eindelik verlos uit die onhoudbare pyn wat hy langer as agt jaar verduur het.

Nou, vyf jaar ná Anrich se dood, moes die tenger professor onlangs in die landdroshof in Kaapstad verskyn. Die aanklag? Die moord op Anrich Burger, want genadedood is onwettig in Suid-Afrika.

Maar “die professor het Anrich nie vermoor nie”, sê Wilma toe Huisgenoot haar enkele dae ná Sean se hofverskyning in die hande kry.

“Hy het hom gehelp om ’n waardige dood te hê.” Die hartseer breek deur. “Ek voel baie seer.”

Wilma en Sean het mekaar destyds ontmoet toe sy in die Kaap by Anrich gaan kuier het. “Ek kon sien hy gee baie om oor ander se pyn en lyding. Hy en Anrich was regtig goeie vriende.”

Anrich het Sean, ’n pa van drie jong kinders, twee jaar voor sy dood genader om hom te help om te sterf omdat hy nie meer met sy pyn wou saamleef nie.

Sean, ’n forensiese professor aan die Universiteit van die Wes-Kaap, het bekend geword nadat hy sy ma, Patricia Ferguson (85), wat kanker gehad het, in 2006 in Nieu-Seeland met haar selfdood bygestaan het.

Hy is daar in hegtenis geneem en van poging tot moord aangekla. Nadat hy ’n pleitooreenkoms aangegaan en op ’n aanklag van selfdoodbystand skuldig gepleit het, is hy in 2011 tot vyf maande huisarres gevonnis.

In dieselfde jaar het hy die organisasie Dignity SA gestig. Toe Anrich deur vriende van Sean hoor, was hy al desperaat vir ’n uitkoms. Wilma onthou die laaste keer dat sy saam met haar donkerkopkind gekuier het. Dit was met sy verjaardag op 14 September 2013.

“Dit was met ’n ete in sy woonkompleks,” onthou sy.

Minder as twee maande later was hy dood. Wanneer Wilma nou aan haar seun dink, is die prentjie in haar kop nie een van die verswakte man in die rolstoel wat gehelp moes word nie. Sy onthou haar lang, lenige, lewenslustige seun wat so lief was vir die buitelug en fietsry.

“Dit is moeilik,” sê sy. “In my hart leef Anrich nog. Nie ’n dag gaan verby dat ek nie aan hom dink nie. Hy was my alles.”

Anrich se wens om te sterf was nie destyds vir haar ’n geheim nie. Hy het kort ná sy ongeluk vir sy ma vertel hy oorweeg genadedood.

Dit het haar hart gebreek, maar sy het haar kind se wens verstaan en aanvaar. Hy wou nooit vir haar sê wanneer hy dit gaan doen nie; daarom het hulle nooit amptelik van mekaar afskeid geneem nie.

Maar sy het geweet die dag sou kom. “Aan die binnekant wil jy nie doodgaan nie, maar die dood sal vir my ’n verlossing wees,” het Anrich immers ook voor sy dood aan Huisgenoot vertel.

Dieter Harck, wat aan motorneuronsiekte ly, vertel hoekom hy eendag die keuse sal wil hê om in die laaste fases van sy siekte sy lewe te beëindig of nie. Foto: Onkgopotse Koloti

Die ma se stem raak weer hartseer aan die ander kant van die telefoon.

“My kind was agt en ’n half jaar lank in verskriklike pyn. Hy het lank uitgehou. Maar ek weet hy is nou sonder pyn. Dit is my troos.”

Iemand wat Anrich se innerlike stryd goed verstaan en omgekrap is oor Sean se inhegtenisneming, is Dieter Harck (69), ’n Johannesburgse pa van drie volwasse kinders.

Dis moeilik om te glo die gryskop wat nou so moeisaam praat en met ’n kierie loop, het in sy gesonde jare vier keer die Comrades gehardloop en meer as 30 marathons en fietsrenne voltooi.

Maar toe motorneuronsiekte (MNS) in 2013 by hom gediagnoseer is, het sy lewe vinnig en drasties verander. Dié siekte tas die spiere in so ’n mate aan dat ’n mens eindelik ’n hulpelose gevangene in jou liggaam raak.

Dieter, ’n voormalige onderwyser in liggaamlike opvoeding en daarna ook ’n eiendomsagent, moes twee jaar nadat MNS by hom gediagnoseer is noodgedwonge sy onderneming verkoop.

Sy spraak het so verswak dat hy nie meer kon werk nie. Dieter weet wat sy eindelike lot sal wees. Hy het dieselfde siekte waaraan die Springboklegende Joost van der Westhuizen gesterf het, en nes Joost sal hy eendag aan ’n rolstoel gekluister en van versorgers afhanklik wees.

Hy sal later glad nie meer kan praat nie en eindelik versmoor omdat die spiere om die longe nie meer kan funksioneer nie.

Dit is nie noodwendig die pad wat hy wil stap nie; daarom steun Dieter vir Sean en het hy hom vroeër tot die hof gewend om genadedood te wettig.

Dieter en een van sy dokters, dr. Sue Walter, het in 2017 saam ’n aksie in die hooggeregshof in Johannesburg gerig om genadedood te wettig.

Sue is self terminaal siek met beenmurgkanker. Dié aksie sal volgens adv. Hendrik van Nieuwenhuizen, hul regsverteenwoordiger, hopelik volgende jaar aangehoor word.

Dis bekend dat mense Switserland toe gaan om wettig hul lewe te beëindig, maar dis nie wat Dieter wil doen nie, vertel hy toe ons mekaar in Johannesburg ontmoet.

“Ek bly dan hier in Suid-Afrika. Hoekom moet ek Switserland toe gaan vir my basiese menslike reg wat in ons Handves van Menseregte opgeskryf staan en wanneer ek die grondwetlike reg het om vryheid van keuse toe te pas?”

Wil hy doodgaan?

“Niemand wil doodgaan nie, maar uiteraard is dit onafwendbaar. En wanneer ek soveel ly dat ek nie meer kans sien om voort te gaan nie, wil ek ’n keuse hê.”

Wat dink hy daarvan dat Sean, wat sy vriend uit sy pyn help verlos het, ná vyf jaar van moord aangekla word?

“Dit is wraaksugtig. Dit moes nooit gebeur het nie. Genadedood behoort wettig te wees. Niemand sê my voor wat ek moet doen en hoe ek my lewe moet lei nie, solank ek binne die wet bly. Wat die dood betref, behoort die vryheid om met menswaardigheid te sterf ook ’n wettige keuse te wees.”

  • Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê Sean Davison word nou vervolg omdat hy lank in die buiteland was en eers onlangs teruggekeer het. “Die toksologieverslag het ook lank geneem om gefinaliseer te word,” sê hy.
  • Sean is op borgtog van R20 000 vrygelaat en sal weer op 16 November in die hof verskyn. Sy prokureur, Josua Greeff, sê hy gaan in dié stadium geen onderhoud toestaan nie.
Die wet in SA

Bystandsdood en genadedood verskil, sê Sally Buitendag, regsverteenwoordiger 
van Dignity SA, die organisasie wat hom vir die verandering van wetgewing hieroor in Suid-Afrika beywer.

Met bystandsdood skryf ’n dokter medikasie voor wat die pa­siënt self kan toedien om sy of haar eie lewe te neem.

Tydens genadedood word dié medikasie deur ’n dokter toegedien as die mens te swak is om dit self te doen. Albei is onwettig in Suid-Afrika.

Dignity SA het aansoek gedoen om ’n eiser te wees in die saak van dr. Sue Walter en Dieter Harck en wag om te hoor of die hof dit sal toelaat.

Hulle wil genadedood in Suid-Afrika laat wettig.