Gesog? Wát?

Daardie lastige weekdiertjies wat in oeste en in beddings amok maak en boer en tuinier ewe veel grief? Ja, sowaar, goeie ou Suid-Afrikaanse slakke kan nou kos op die tafel sit vir smulpape en gemeenskappe rondom Mosselbaai en selfs in restaurante in Europa en China beland.

Dit is ons land se eerste slakfabriek.

“My grootste droom is dat daar nie meer rede sal wees om honger te ly as jy slakke kan optel nie,” vertel Wally Hammond (53), een van die stigters van iVitl in Mossdustria.

By dié aanleg aan die Suid-Kaapse kus kan jy nou vanaf R30/kg verdien wanneer jy volgroeide slakke aflewer. Dit is ons land se eerste slakfabriek, waar die skulpdiere verwerk word om hul vleis, dop en slymerige afskeiding te benut.

'Ons vertrou die Here'

Wally is opgewonde ter wille van die Khoisan-gemeenskap van Friemersheim, sowat 10 km die berge in van Groot-Brakrivier af. Hulle het 5 ha bosbougebied by die staat gekry en die grond is net-net te klein om met skape en beeste te boer, maar ’n beoogde slakplaas wat nog slakke aan die fabriek lewer, kan hulle help om ’n bestaan te voer.

Hulle tel al slakke in die omgewing op en lewer dit teen betaling aan die fabriek; daarom sal ’n slakboerdery volgens Wally vir ’n volhoubare inkomste kan sorg.

Ons vertrou die Here vir ’n goeie seisoen met die slakke.

“Dit gaan gesond, dankie,” sê Jerome van Aswegen (54), senior hoofman van die Gourikwa-huis van dié Khoisan-gemeenskap, alombekend as Chief Tiekie.

“Ons ervaar droë jare en dis nie goed vir die slakke nie.

“Ons vertrou die Here vir ’n goeie seisoen met die slakke as dit eers koel en nat is, want dan kan die mense en hul kinders eet. Ons kan saam met die slakke ook entrepreneurs kweek.”

In dié gemeenskap woon sowat 100 gesinne wat van die aarde afhanklik is.

“In die meantime vra ons dat boere rondom ons wat groente soos kool verbou nie gifstowwe spuit voor ons die slakke kom optel het nie,” sê Jerome.

'Aardemense'

Ook die Jonkersberg-bosbougemeenskap tussen Groot-Brak en George hoop om binne die volgende jaar meer slakke aan die fabriek te lewer.

“Hulle is aardemense; daarom het ek besluit om ’n projek daar te begin,” vertel Colin Marais (52), ’n chemiese ingenieur van Mosselbaai wat in 2016 ’n skeidingspakket aanvaar het. Hy wou iets doen om die gemeenskap te bemagtig. Toe hy van die slakfabriek hoor, het hy besef dit kan werkgeleenthede skep.

Onder sy aanmoediging verdien 30 gesinne in dié gemeenskap nou ’n ekstra inkomste.

“Die mense van Jonkersberg kan in die veld gaan stap en kos op die tafel sit,” vertel hy.

Omdat die slak-oesseisoen kort is, tipies van middellente tot laatsomer voor hulle in hul winterslaap gaan, oorweeg hy dit om ’n slakplaas met kweekhuise in die omgewing te begin.

Die slakfabriek

Toe die eerste slakke einde Augustus vanjaar by die fabriek aankom, was dit vir Wally die verwesenliking van ’n sewe jaar lange droom.

“Die gevoel was ongelooflik; ek kon dit nie glo nie,” sê hy.

“Die verwerking van slakke is heeltemal uniek en ons moes almal leer en leer steeds aangesien dit die eerste slakfabriek in die land is. Toe ek en my vrou, Ronel, sewe jaar gelede hieroor begin praat, het mense vir ons gelag. En nou is die droom bewaarheid.”

Wally het weens die droogte sy varkboerdery in Bloemfontein in die Vrystaat in Januarie verlede jaar prysgegee en Mosselbaai toe getrek.

“Ek het 10 jaar gelede al alternatiewe nisboerderye begin oorweeg,” vertel hy.

Hy het agtergekom die wêreld het ’n tekort aan eetslakke, ’n goedkoop proteïenbron. Maar daar is reeds talle slakplase in Suid-Afrika en van hulle voer tonne lewende eetslakke uit na veral China en Europa. Omdat hy “iets anders” wou doen, het die idee van ’n verwerkingsaanleg posgevat.

Op Mosselbaai het sy pad gekruis met dié van Fanie Pretorius, ’n meganiese ingenieur wat ná 24 jaar in Nelspruit, Mpumalanga, sowat drie en ’n half jaar gelede Suid-Kaap toe getrek het.

Fanie voor die fabriek in Mosselbaai waar hulle beplan om tot 1 t slakke per dag te verwerk. Foto: Misha Jordaan

Wally se slakdroom het Fanie geïnspireer en saam met die beleggers en nou mededirekteurs Marius Wait en John Smit, bankiers, en Jacques Groenewald, eienaar van ’n roltrapmaatskappy, het iVitl tot stand gekom.

'n 'Slakpale'

Einde Julie vanjaar was hul fabriek klaar gebou en ingerig. Fanie het 99 persent van die gespesialiseerde masjiene in die fabriek self ontwerp en gemaak. Maar hoe dit lyk en werk om die slakke vir onder meer die kospotte gereed te kry, bly hul geheim.

’n “Slakpale”, noem Fanie die fabriek. Hy is uitvoerende hoof van die onderneming.

“Ons fabriek is groen. Daar is min afvalprodukte, want selfs die doppe en binnegoed word verwerk.”

Hul plan was aanvanklik om net slakke uit die natuur te gebruik en mense aan te moedig om dit te versamel en dan lewend aan die fabriek te verkoop.

Maar slakke is meestal net vir ’n kort tydjie van die jaar, in Oktober, November en Desember, beskikbaar. Hulle word ook blootgestel aan klimaatsveranderings, en omdat daar nou weens die droogte ’n tekort is, moes die fabriek in die beginfase ook slakke van slakplase in die Oos-Kaap en Mpumalanga bekom.

Waarom slakke?

In Augustus het hulle op klein skaal “prototipes” van produkte begin ontwikkel met slakke van groente-, vrugte- en wynplase naby Hermanus en uit die Langkloof. Dié produkte word nou in onafhanklike laboratoriums getoets, want voor dit verkoop kan word, moet die fabriek eers aan alle plaaslike en internasionale standaarde voldoen.

Die kaste waarin die slakke aangehou word. Foto: Misha Jordaan

Hulle eksperimenteer nog met 500 tot 600 kg slakke wat hoofsaaklik tot dierekos verwerk word.

’n Ton slakke moes uit Pole ingevoer word om die produksie van eetslakke goed op dreef te kry.

“Die hoë kalsiuminhoud in slakdoppe maak dit ideaal vir veevoer. Dit versterk onder meer hoenders se beendere en eierdoppe en laat kurpers (varswatervisse) vinniger groei,” verduidelik Fanie.

Wanneer die fabriek in volle produksie is, sal dit tot 1 t bruin landslakke per dag kan verwerk, voorspel Wally. Die vleis, doppe en afskeiding wat die diertjies gesond maak wanneer hul dop byvoorbeeld breek, word gebruik. Die vleis gaan aan restaurante verskaf word in vakuumverpakte pakkies van ses of 12 slakkies.

Op die oomblik kom die meeste slakke op fynproewerstafels wêreldwyd uit Europa. Die Mosselbaaiers beplan om tussen 25 en 30 persent van die verwerkte eetslakke plaaslik te verkoop en die res uit te voer.

Die fabriek het reeds agt heeltydse werknemers en nog sowat 60 mense verdien ’n inkomste deur slakke te lewer.

Van 'slapende slakke' tot die tafel

En hoe kom die slakke aan hul einde? Hulle word eers in ’n hibernasiestatus gebring waar hulle slaap. Die temperatuur waar hulle aangehou word, word met 5 °C verlaag. Hulle dink dis winter, trek terug in hul dop en slaap. Dan word hulle vir 3 minute in kookwater gesit.

Die eerste ding wat jy opmerk wanneer jy by die fabriek met sy 450 m²-vloeroppervlak instap, is die torings van 1 m²-houtkaste met gaasdeure. Binne-in hang plastiekvelle soos gordyntjies waarteen die diertjies self opseil. Elke kas kan tussen 200 en 300 slakke huisves, waar hulle ’n mengsel gevoer word om hul ingewande te reinig.

Clinton Wannies spuit die diertjies nat. Foto: Misha Jordaan

“Dié klompie is vir troeteldierkos,” sê die 24-jarige Clinton Wannies terwyl hy die slakke met water spuit. Hulle installeer tans sproeiers tussen die kaste om die klimaat te beheer.

“Dit is seker weird om so elke dag met die slakke te werk, maar dis ’n nuwe ding om te leer,” vertel Clinton. Dan wys hy trots na die slakspoortjies wat silwer teen die gaas opkronkel.