Elke dag worstel Christine Stewart-Brockbanks met een vraag: Wie het Leslie van Zyl op 28 Augustus 2000 by die King George Hotel in dié dorp in die Wes-Kaap doodgesteek? Daar is destyds niks by Leslie gesteel nie. 

“Die gedagte van my dogter se moord spook elke oomblik van elke dag by my. 'n Deel van my, my eksman en my seun het daardie dag saam met Leslie doodgegaan,” skryf Christine per e-pos uit Brittanje waar sy saam met haar tweede man, Ian, woon. 

Elke jaar op die herdenking van haar dogter se moord, vra sy die plaaslike koerant in George om ’n storie oor haar dogter se moord te plaas. 

Sy hoop ná 18 jaar dat iemand met nuwe inligting oor haar dogter se dood, na vore sal kom.

Sy sê dis nie dat sy die saak heropen nie. “Wat my betref, was dit nog altyd 'n oop saak”. 

Christine vertel sy het deur die jare sterk gebly deur om haar dogter se herinnering lewendig te hou. 

“Ek sal niemand toelaat om haar ooit te vergeet nie.”

Hoewel die persoon wat Leslie vermoor is nog nooit vasgetrek is nie, weet Christine binne in haar dat Leslie haar moordenaar geken het.

“Sy het die deur vir iemand oopgemaak en met wie ook al dit was, baklei. Haar noodkrete was selfs by die ontvangs aangemeld. Maar niemand het dit opgevolg nie.” 

Vier jaar nadat haar eerste man aan kanker dood is, het Christine haar huidige man, Ian, ontmoet en het saam met hom na Brittanje  geïmmigreer. “Ek het geïmmigreer omdat ek nie meer hier veilig gevoel het nie”. 

Christine het wel haar prokureur, Dolf Louw, gevra dat haar dogter se klere wat sy 18 jaar gelede op die dag wat sy grusaam vermoor is, gedra het, herondersoek word vir enige forensiese bewyse wat dalk voorheen misgekyk is. 

Wanneer ons vra wat sy vir haar dogter se moordenaar sou sê as sy kon, sê sy daar is nie iets wat sy vir hom sou wou sê nie.  

“Ek sal nooit met die persoon wat my pragtige dogter van ons ontneem het, wil praat nie. Ek sou graag eerder wou sien dat hy doodgaan. Dit pla my wel dat die persoon wat my dogter vir geen rede doodgemaak het, steeds vry in die strate loop. Ek bid dat voordat ek sterf, hy (die moordenaar) agter tralies sal wees”.