Daniel Janse van Rensburg se vrou, Melanie, sê sy
Daniel Janse van Rensburg se vrou, Melanie, sê sy het gedink sy sou haar man nooit weer lewend sien nie. Foto: Verskaf

In sy nagmerries herleef hy steeds die grudade wat hy in een van die gevaarlikste tronke ter wêreld aanskou het. Moord, verkragting, die ergste dinge denkbaar . . .

Hy is meer as ’n jaar lank daar aangehou nadat sy sakeverhouding met ’n diktator versuur het.

Sy ontberings het hom fisiek, emosioneel en geldelik verpletter.

Maar vandag – sewe jaar ná sy vry­lating in 2015 – kan Daniel Janse van Rensburg (55) eindelik begin om sy lewe te herbou.

Die hooggeregshof in Kaapstad het onlangs gelas dat die adjunkpresident van Ekwatoriaal-Guinee, Teodoro Nguema, aan hom skadevergoeding van ’n volle R39 miljoen moet betaal omdat hy onregmatig in dié land in die tronk gestop en aangehou is.

Vir die sakeman van George is die suksesvolle einde van sy uitmergelende regstryd om vergoeding ’n berg van sy skouers af.

“Ek voel baie verlig,” sê hy oor die hof se uitspraak. “Om nie weer daarna hoef terug te verwys nie, om nie meer oproepe van prokureurs te kry nie, beteken ek kan nou op genesing fokus.”

Sy reis tot op hierdie punt was pure hel, want ’n gevaarliker “sakevennoot” om mee uit te val kan jy jou beswaarlik ­indink. Nguema is benewens sy land se adjunkpresident ook ’n rapmusiek-entrepreneur, internasionale pierewaaier – en boonop seun en witbroodjie van pres. ­Teodoro ­Obiang, wat al 42 jaar oor Ekwatoriaal-Guinee heers.

Die adjunkpresident van Ekwatoriaal-Guinee, Teodor
Die adjunkpresident van Ekwatoriaal-Guinee, Teodoro Nguema. Foto: Getty Images/Gallo Images

En toe Daniel se transaksie skeefloop om ’n lugredery vir die land op die been te bring, was die berugte Black Beach-­tronk – volgens die Verenigde Nasies die ergste ter wêreld – in 2013 sy voorland.

Tydens sy sowat 400 dae in haglike omstandighede in Black Beach het hy serebrale malaria opgedoen en op vrot kos vol wurms oorleef. En toe hy eindelik in 2015 daar uitkom, was hy ’n wrak.

In sy onlangse uitspraak het regter James Lekhuleni gesê dat Daniel weens ernstige posttraumatiese stressteuring dalk nooit weer sal kan werk nie.

Deur R39 miljoen in skadevergoeding aan Daniel toe te ken wil die regter ’n sterk boodskap uitstuur dat magsmisbruik deur regeringsleiers nie ongestraf sal bly nie.

Vir Daniel is die uitspraak die wonderwerk waarop hy gehoop het. “Dankie aan al die mense wat vir ons gebid en ons ondersteun het. Dit het ’n verskil gemaak.”

Daniel, van Hoekwil naby George, het teen 2013 al jare lank sake in die olieryke Ekwato­riaal-Guinee gedoen.
Dit het hom in kon­tak gebring met die uitgebreide regerende gesin. Sy lugredery-transaksie was eintlik met Nguema se oom Gabriel “Angabe” Bela.

Daniel was glo jare lank vriende met Angabe.

“Ek het sy kinders voor my sien grootword,” vertel hy.

Angabe het geld in die nuwe lugredery belê, maar toe trek hy in 2013 skielik kop uit.

“Twee jaar lank het ek aan die kon­trak gewerk, al die nodige lisensies gekry en die regte vliegtuie aangekoop, maar toe wil hy alles kanselleer. Tot vandag toe weet ek nie hoekom nie.”

Angabe het die saak in Ekwato­riaal-Guinee voor die hof gebring, en toe ’n regter daar die saak uitgooi, het hy hom na sy broerskind gewend. Nguema is in beheer van veiligheid en grensbeheer, en Daniel is in die selle van die sogenaamde Guantánamo-polisiekantoor in die hoofstad, Malabo, gegooi.

“Ek het verraai gevoel,” sê Daniel. “Ek het sy gesin persoonlik geken. Ek was goeie vriende met sy vrou en is vele kere vir aandete na hul huis genooi.”

Daniel het hom ver­skeie kere na die land se howe gewend. Maar elke keer wanneer ’n regter hom vrygespreek het, het Nguema hom weer deur soldate laat aankeer. In 2013 is hy ná ’n ruk in huisarres na Black Beach gestuur.

Die berugte Black Beach-tronk. Foto: Wikipedia.com
Die berugte Black Beach-tronk. Foto: Wikipedia.com

“Dis so na aan hel op aarde as wat kan kom. Die eerste ding wat jy in daardie tronk doen, is om hoop te verloor.”

Hy moes ’n sel met 400 ander gevangenes deel. Daar was geen lopende water of toiletpapier nie. Gevangenes het hulself ná ontlasting met hul hande afgevee.

Hy moes aas vir kos: dikwels ou brood, rys vol maaiers en vrot vleis. Toe hy serebrale malaria opgedoen het, het hy geen medisyne gekry nie. Daniel het sy oorlewing te danke aan gevangenes wat hul kos met hom gedeel en hom versorg het.

As jy jou die ergste tronke voorstel wat jy in flieks gesien het en jy maal dit met 10, kry jy dié plek.

“Ek het by die moordenaars geslaap, want dit was die veiligste plek in daardie tronk,” sê hy. “Almal is bang vir hulle.”

Die gille wat hy gehoor het, en die vele moorde en verkragtings, spook steeds by Daniel.

“As jy jou die ergste tronke voorstel wat jy in flieks gesien het en jy maal dit met 10, kry jy hierdie plek. Dit is soos ’n hok en mense word net daar ingegooi. Dis skrikwekkend.”

Tuis in Suid-Afrika het sy vrou, Melanie (54), ineengestort die dag toe sy hoor Daniel is na Black Beach geneem. “Ons het toe al hoeveel keer probeer om hom uit Ekwatoriaal-Guinee te kry. Dit was net te veel,” vertel sy.

Daniel, Melanie en hul twee kinders, Abigail en He
Daniel, Melanie en hul twee kinders, Abigail en Hendrik. Foto: Verskaf

Sy en hul kinders, Hendrik (30) en Abigail (28), kon net aan hul geloof bly vasklou. Melanie het boekhouwerk gedoen om die pot aan die kook te hou. Daniel se ma, Martha, het daagliks die ambassades se lyne warm gebel.

“My ma was die steunpilaar,” beaam Daniel. “Sy het almal gebel waaraan sy kon dink. Sy was fantasties.”

Daniel se ma, Martha, was ’n groot steunpilaar vir
Daniel se ma, Martha, was ’n groot steunpilaar vir hom. Foto: Verskaf

Eindelik het Daniel ’n Spaanse gevangene in Black Beach ontmoet wat vir hom die dienste van sy prokureur aangebied het. Sy saak is die soveelste keer aangehoor en hierdie keer is hy finaal vrygespreek.

“Dit was deur die genade van God dat dit ’n ander regter was,” sê Daniel. “Die regter het gesien daar was geen saak teen my nie, die dokumente gestempel en gesê ek is vry.”

In September 2015 het Daniel met die hulp van die Suid-Afrikaanse ambassade huis toe gekom.

Die inteken by Malabo se lughawe was senutergend, want hy het gevrees hy kan enige oomblik weer in hegtenis geneem word. “Ek het geweet hierdie keer sou hulle my doodmaak.”

Maar ure later was hy eindelik weer veilig op Suid-Afrikaanse bodem.

“Daardie oomblik was ongelooflik,” sê Melanie. “Ons was so oorweldig toe ons hom sien. Dis moeilik om te beskryf, ons was absoluut verheug.”

Terwyl Daniel met sy trauma worstel, lei Nguema (53) steeds die lewe van ’n skatryk pierewaaier. Op Instagram spog hy met sy luukse motors, seiljagte en vakansies by eksotiese bestemmings.
Hy het eiendom in Amerika, Frankryk en Switserland – en ook ’n voorliefde vir Kaapstad.

Hy het glo R50 miljoen aan ’n dubbelverdiepinghuis in Clifton en ’n woonplek in Bishopscourt bestee.

Toe Daniel in 2016 besluit om Nguema te dagvaar, het sy prokureur, Chris Schoeman, aansoek gedoen dat daar op sy Kaapse eiendomme beslag gelê word sodat die hooggeregshof in Kaapstad ­jurisdiksie oor die saak kon hê.

As Nguema versuim om die R39 miljoen aan Daniel te betaal, sê Chris, sal sy huise opgeveil word.

Daniel vertel hy wil van die geld gebruik om die berg regskuld te delg wat hy aangegaan het. En dan wil hy sy reis na genesing voortsit met ’n boek oor sy ontberings.

“Elke dag was ’n stryd om oorlewing,” vertel hy – maar hy het daardie stryd oorwin om die storie te vertel.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe