Luke Dollimore het vroeër vandeesweek soos verskeie ander Kapenaars welkome sonskynweer benut om met sy Duitse wyser-honde, die woelige ses maande ou Dakota en die ouer Kaila, by die berg se Slangolie-ravyn bokant Bakoven te gaan stap. 

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf


Dakota het waarskynlik toe hy met Kaila gespeel het gegly en oor ‘n afgrond verdwyn. “Ek was paniekerig, buite myself…” sê Luke ons nou. Daar was immers aanvanklik geen teken van sy geliefde beste jong vriend nie.

“Maar ek moes gefokus bly want ek het ook die ander hond by my gehad.”

Hy vertel hoe ‘n stapper wat hy net as Bianca ken en “die regte kontakte” gehad het dadelik hand bygesit en oproepe begin maak het.

Binne 20 minute is die Kaapse Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (KGH-DBV) en Wilderness Search & Rescue (WSAR) in kennis gestel. Terwyl Luke self eers Dakota probeer opspoor het, het Bianca en nog ‘n verbyganger, Fiona, ook na Kaila omgesien.

“Ek het sover moontlik af gegaan en oor die rand probeer sien waar hy was, maar kon nie.”

Kort daarna het twee klimmers, MJ van Dorssen en ‘n vriend, Garth, wat hoër op met die voetslaanroete geklim het, verbygekom, en ook dadelik ingespring om te help soek.

“Ons kon Dakota later na my hoor roep. Hy het gestres geklink, maar nie in pyn nie. Dit was nie daardie soort roep nie – so wou ek glo,” beduie Luke.

MJ en Garth is verder teen die hang af, en binne omtrent ‘n uur was hulle by Dakota op die lys. “Ek was so verlig toe hulle boontoe roep en sê hy’s ok… ek het immers geweet hoe ver onder toe hy getuimel het.”

redding, hond
Dakota wag saam met Garth en MJ vir beter toerusting van bo af. Foto: Verskaf/MJ van Dorssen

MJ en Garth het klimhelms en toue gehad, maar nie die ideale toerusting om Dakota heelpad ondertoe na veiligheid te neem nie. Maar WSAR en Jaco Pieterse, hoofinspekteur van die KGH-DBV, het intussen ook kom help.

“WSAR het ‘n tou van meer as 100 m na MJ-hulle laat afsak,” vertel Luke.

redding, hond
Die WSAR-span laat sak die regte toue en toerusting van bo af na die twee klimmers en hond op die rotslys. Foto: Verskaf

WSAR het verduidelik hoe hulle tou- en katrolstelsels aan die rotse en ou waterpype en metaalstrukture van die sogenaamde Pipe Track-voetslaanroete ver bo die twee klimmers en Dakota geanker het.

“Die twee was baie dapper om daar af te gaan, daar was nog ‘n baie steil afgrond onder hulle en die terrein was boonop ongelyk en dig begroei, met los klippe,” vertel Jaco, wat vir die meer as drie uur van die reddingsoperasie op die toneel was.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Garth en MJ het Dakota in ‘n rugsak gesit – nie ‘n maklike taak nie, maar as hy ‘n moeilike hond was, sou hulle dit dalk glad nie reggekry het nie!”

En so, met Dakota veilig in die rugsak toegegespe en net sy kop wat uitsteek, het hulle toe tot heel onder geabseil… en daarna weer met WSAR se begeleiding met hom tot heel bo by Pipe Track gestap waar die ander gewag het.

Dit was toe al donker, ná sewe die aand, terwyl Dakota reeds ‘n rukkie voor drie die middag oor die afgrond is.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

“Luke was oorstelp, dit was ‘n emosionele hereniging…” onthou Jaco. 

Die gesig van Dakota wat ewe “in sy rugsak, heel ontspanne” daar bo aankom, “was een van die beste oomblikke van ons lewe”, sê Luke nou.

“Ek het hom net vasgehou. Maar toe ek sy leiband aansit, sleep hy my al weer teen die berg af.” WSAR het almal toe daar van bo af tot onder by ‘n 4x4-pad geneem.

Foto: Verskaf
Terug by sy eienaar. Luke help Dakota uit die rugsak uit. Foto: Verskaf

Luke kan skaars sy dankbaarheid beskryf. “Al die mense wat betrokke was, was ongelooflik...”

redding, hond
Dakota, oorgehaal vir nog 'n wandeling die oggend ná sy bergavontuur. Foto: Verskaf

Dakota haal reeds weer sy ou laaie uit.

“Hy’s ‘n groeiende seun, met ‘n sterk wil, entoesiasties… soos enige pup grawe hy gate. Soms trek hy die besproeiing uit. Ek probeer hom juis ‘n bietjie meer opgevoed te kry,” grinnik Luke.