Skadevergoeding van R11 miljoen moet aan Andrew Me
Skadevergoeding van R11 miljoen moet aan Andrew Merryweather uitbetaal word. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die wiele van die gereg draai dalk soms stadig, maar hulle draai tog.

In die 15 jaar nadat ’n sinnelose aanval hom van die bors af ondertoe verlam gelaat het, moes Andrew Merryweather (39) nie net dag ná dag deur terapiesessies spook om sy lyf weer te leer gebruik en met verlammende depressie sukkel nie – hy moes ook vasbyt terwyl sy pogings om in die hof geregtigheid te kry telkens op niks uitgeloop het.

Maar eindelik – lank nadat baie mense al sou tou opgooi – het Andrew se deursettingsvermoë vrugte afgewerp.

Die hooggeregshof in Kaapstad het onlangs beslis R11 miljoen se skadevergoeding moet aan hom uitbetaal word.

Wat my van die begin af frustreer het, is dat die verdediging gemaak het asof ek omgeval en vir my eie verlamming verantwoordelik was.

Andrew was destyds ’n restaurantbestuurder toe hy by ’n vulstasie in die Kaapse voorstad Claremont deur ses skoolseuns aangeval is.

Hulle het hom beledigings toegesnou, waarna een van hulle, Oliver Scholtz, hom platgeduik het. Die beserings wat Andrew in die proses opgedoen het, het hom in sy onderlyf verlam gelaat.

“Om te wen het ’n gevoel van verligting daarmee saamgebring,” sê hy oor dié hofsege waarvoor hy hom ’n dekade en ’n half lank beywer het.

“Wat my van die begin af frustreer het, is dat die verdediging gemaak het asof ek omgeval en vir my eie verlamming verantwoordelik was,” vertel Andrew aan Huisgenoot. “Dit voel of die hof se beslissing my nou gelyk gee.”

Oliver Scholtz (toe 18) en vyf vriende is almal ná die aanval van poging tot moord aangekla, maar hulle is deur die hof in Wynberg onskuldig bevind.

Eerder as om te aanvaar dat geregtigheid hom gaan ontwyk, het Andrew Oliver vir skadevergoeding gedagvaar.

In 2013 het dit gelyk asof daar eindelik lig aan die einde van die tonnel is toe Andrew die saak gewen en die hof Oliver beveel het om hom R10,3 miljoen te betaal.

Maar Oliver het aansoek gedoen dat dié bevel ter syde gestel word en die beslissing is in 2016 omgekeer.

Steeds het Andrew nie moed opgegee nie. In 2019 het hy Oliver weer hof toe gesleep.

In Junie vanjaar het die hof eindelik beveel Oliver moet R11,4 miljoen opdok om Andrew se mediese en regsonkoste en die koste van sy ekspertgetuies te dek.

Dit sal nog ’n paar maande duur voor die geld in Andrew se bankrekening sal wys omdat ’n ingewikkelde proses nog voorlê waar die prokureurs van albei partye dokumente aan die hooggeregshof moet indien wat dan goedgekeur moet word.

Intussen dagvaar Andrew se broer, Nicholas, wat ook in die skermutseling in 2006 betrokke was, Oliver in ’n voortslepende saak boonop vir R25 000.

Met behulp van die ReWalk-robotpak kan Andrew weer
Met behulp van die ReWalk-robotpak kan Andrew weer loop. Foto: Verskaf.

Andrew sê hy het sy aanvallers vergewe.

“Dit was net die verkeerde tyd en die verkeerde plek. Dit was ’n tragedie vir al die betrokkenes. Ek glo regtig nie dit was hul bedoeling om my dood te maak nie.”

Maar dit beteken nie hy kon die saak net daar los nie. “Die mediese onkoste, wat nie weens my eie toedoen was nie, is hemelhoog. Dis hoekom ek ongelukkig die regsroete moes volg.”

Om ’n parapleeg te wees behels veel meer as dat jy bloot nie kan stap nie, sê Andrew.

’n Hele klomp mediese kwessies gaan met die besering gepaard. Allerlei dinge wat jy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, is skielik duur. En alles kos geld.

“Ek moes byvoorbeeld onlangs ’n operasie aan my blaas hê as gevolg van die ruggraatbesering, en die rekening was R40 000,” vertel hy.

Ek is regtig, regtig gelukkig, want die eerste dae was so erg. Jy raak wakker en jy kan nie eens jou neus krap nie.

“Wanneer mense iemand in ’n rolstoel sien, dink hulle dikwels: ‘Ag foeitog, hy kan nie loop nie.’ Maar benewens dit is daar heelwat ander probleme. Deel daarvan is al die hospitaalbesoeke en gesondheidsprobleme. Ek het ’n verswakte immuunstelsel, kry gedurig spierspasmas, ervaar asemhalingsprobleme, die lys gaan net aan en aan.”

Hy is wel dankbaar hy het darem nog ’n mate van gevoel en beheer oor sy lyf.

Hy ondergaan reeds jare lank ses dae per week fisioterapie – soms by die huis en soms by die terapeut – en danksy die terapie het hy nou die volle gebruik van sy regterarm, beperkte gebruik van sy linkerarm en ’n mate van gevoel in sy bene.

“Ek is regtig, regtig gelukkig, want die eerste dae was so erg. Jy raak wakker en jy kan nie eens jou neus krap nie,” sê Andrew.

Maar hy spot ook soms oor die gevoel wat na sy onderlyf terugkeer.

“Ek weet nie aldag of dit ’n seën of ’n vloek is nie, want vyf minute nadat ek in my rolstoel gaan sit het, raak my boude aan die slaap,” lag hy.

Andrew sê sy dienshond, Oslo, het hom al baie emos
Andrew sê sy dienshond, Oslo, het hom al baie emosionele ondersteuning gebied. Foto: Verskaf.

Hy het ’n dienshond, Oslo, wat hom help om deur die dag te kom. “Ek het hom gekry vir bystand, maar ook omdat ek regtig swaargekry het en in ’n stadium baie depressief en afgesonder gevoel het. Die emosionele steun wat hy my gee, is wonderlik.”

Party nagte droom Andrew hy kan weer loop. “Die waarheid is wanneer ek soggens wakker word, is die rolstoel die eerste ding wat ek sien. Ek het nog nooit regtig die rolstoel aanvaar nie. Dit voel soos ’n tronk.”

Andrew, wat as ’n finansiële raadgewer werk, raak soms so depressief dat hy sukkel om uit die bed uit op te staan. In sulke tye sluit hy hom van die wêreld af.

Wat my hartseer maak, is dat ek ’n gesin wou hê, ’n huisie en kinders. Dit is van my af weggeneem, en dit maak regtig seer.

“Ek kruip in my huis weg en probeer my gedagtes verwerk. Op daardie afdae raak ek gefrustreerd met wat ek nie kan doen nie, en allerlei gedagtes oor hoe anders dinge kon gewees het, duik in my kop op, soos: ‘Wat sou gebeur het as ek nie daardie nag uitgegaan het nie?’

“Wat my hartseer maak, is dat ek ’n gesin wou hê, ’n huisie en kinders. Dit is van my af weggeneem, en dit maak regtig seer,” sê hy.

Andrew was in ’n verhouding toe die aanval gebeur het, maar sy gestremdheid was ’n uitdaging wat die romanse nie kon oorleef nie.

Later het hy weer verloof geraak, maar sy verloofde het die verhouding in 2015 verbreek. “Sy het haar redes gehad, en as ons paaie eendag weer kruis, sal ons kan sit, koffie drink en ek sal uitvind wat dit was.”

Ondanks al die swaarkry wat hy as gevolg van daardie nag beleef, is Andrew nogtans dankbaar vir dit wat hy wel in die lewe het.

Ná twee liefdesteleurstellings het Andrew liefde g
Ná twee liefdesteleurstellings het Andrew liefde gevind by Alice Cumming. Foto: Verskaf.

“Ek leef, ek het ’n bietjie gevoel in my bene, en ek het ’n wonderlike ondersteuningsnetwerk,” sê hy oor sy nuwe meisie, Alice Cumming (33), sy broer, Nicholas (35), sy ma, Joy (63), en sy stiefpa, Clive Smith (71).

Andrew se pa, Peter, was een van sy steunpilare voor hy in 2016 weens orgaanversaking oorlede is. “Dit sou lekker gewees het as hy hier kon wees om die hofuitspraak te hoor,” sê Andrew.

Hy het Alice in 2018 aanlyn ontmoet, en hulle het kort daarna begin uitgaan. Andrew spot dat Alice meer verlief was op sy hond, Oslo, as op hom.

“Ons geniet mekaar se geselskap baie, en ons sien daarna uit om lank in mekaar se toekoms te wees.”

  • Huisgenoot het Oliver deur sy prokureurs genader, maar hy was nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Bykomende bronne: Capetalk.co.za, www.SAFLII.org, News24.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.