’n Intieme oggenddiens is vir die susters, Tanya (37) en Anna-Marie “Ounooi” (33), in die kapel van die Groep-Begrafnisorganisasie, bekend as GBA, in Germiston gehou.

’n Groter roudiens is daarna vir hul ouer broer, David (38), in die Trinity Metodistekerk, in Boksburg gehou.

Die negejarige Kian, wat sy pa, tannies en oupa in die treurspel verloor het, het tydens die diens byna verslae rondgedwaal terwyl hy hom met ’n swart-en-wit kussing in sy arms vertroos het. Af en toe het ’n traan oor die seuntjie se wange geloop.

In die begrafnisbrief het hy aan sy pa geskryf: “Pappa, ek lief jou baie. Ek wens ek kon nog by jou wees. Ons gaan jou mis. Ons gaan baie huil.

“Ek het vir jou in my gedagtes elke dag, aan jou gedink aan watse stoute goed ons gedoen het. Ek gaan jou mis. Lief jou, Kian.”

Kian Brody (9) se briefie aan sy pappa.

Vriende en familie moes sy ma, Vanecia Becker (29), deurentyd staande hou. Sy het haar lewensmaat en kind se pa verloor. Sy het hartstogtelik gehuil toe sy hom ná die diens buite die kerk groet.

Nadat die lykswa met David se oorskot weggery het, het sy op haar knieë inmekaargesak.

Vanecia Becker, David Brody se verloofde, word deur familie en vriende ondersteun waar sy na sy roudiens by die kerk uitstap.
Vanecia Becker, David Brody se verloofde, word deur familie en vriende ondersteun nadat sy roudiens verby is.
Vanecia Becker, David Brody se gebroke verloofde, in die kerk met sy roudiens.

Die treurspel het op 5 Junie in die oggendure by die gesin se huis in Shrikestraat 5 afgespeel.

Johan het eers sy seun gebel. Hy het vir sy seun gesê Vanecia en Kian moet die pad vat. Hy was by haar in hul kothuis op dieselfde erf toe hulle die eerste skoot hoor.

Johan het eers sy dogters, wat ’n kamer in die huis gedeel het, vermoedelik in hul slaap doodgeskiet.

Die moordhuis in Shrikestraat, Elsburg, Germiston.

David, wat Woensdag as die “held” in die tragedie uitgebeeld is, het gaan ondersoek instel. Dit is toe dat sy pa hom in die gang aantref en trompop doodskiet. Johan het Vanecia toe self verjaag voor hy homself in die huis, in die hoofslaapkamer, doodgeskiet het.

Op die roudienste is nie ’n woord gerep oor die sibbes se pa en wie hom gaan begrawe nie.

Leonora de Jesus, ’n familievriendin, het vroeër aan Huisgenoot gesê Johan het sowat ’n maand voor die voorval sy werk verloor.

Die moordenaar Johan Brody.

Hy was ’n Transnet-pensioentrekker, maar het tot onlangs as bestuurder vir WestWeigh Systems, ’n maatskappy wat  onder meer weeg- en verpakkingstoerusting vervaardig het, gewerk. Die maatskappy is gelikwideer.

Die susters is deur vriende en kollegas as onafskeidbaar beskryf.

Tanya het as ’n onderwysassistent by ’n kleuterskool gewerk en Ounooi as ’n vragmotorbestuurder. Hul kollegas het albei susters as “liefdevolle en omgeemense” beskryf.

Die vermoorde Tanya Brody.
Die vermoorde Anna-Marie
Die susters se begrafnisbrief.

Ounooi, het hulle vertel, kon altyd lekker uit die maag lag en Tanya se “dankbaarheid” vir almal in haar lewe was aansteeklik.

David is nes sy susters later geprys vir die “uitsonderlike mens” wat hy was. David het 12 jaar as tegniese tekenaar vir Global Roofing Solutions gewerk. Sy baas, Gerrit du Toit, het gesê hy sal nooit weer iemand soos David ontmoet nie.

Die vermoorde David
'n Foto van die vermoorde David Brody op sy kis voor in die kerk.

David, het hy vertel, was ongelooflik toegewyd en daar was “altyd tyd vir ’n grappie”.

Sy beste vriendin, Candice Thomas, wat 32 jaar met hom vriende was, het in haar huldeblyk gesê David was ’n “rock-ster” en die beste lugkitaarspeler wat ’n mens ooit sou ontmoet. Hy is as die held in die treurspel bestempel.