Drie dekades al wag ’n gebroke ouerpaar van Pietermaritzburg op antwoorde oor die verdwyning van hul dogter.

Hulle weet net Fiona Harvey (toe 12) is een van ses meisies wat tussen 1988 en 1990 deur die pedofiel Gert van Rooyen en sy houvrou, Joey Haarhoff, ontvoer is.

Maar op 15 Januarie 1990, met die polisie op hul hakke, het Van Rooyen vir Haarhoff en homself doodgeskiet. Die geheim oor die lot van hul slagoffers is saam met hulle graf toe.

Oor wat gebeur het nadat Fiona des­tyds naby haar ouerhuis ontvoer is, weet haar ma, Eve Harvey, vandag steeds niks. Geen liggaamlike oorskot om te begrawe; geen leidrade nie.

Rapport het destyds oor die tergende raaisel berig. Argieffoto

Maar in ’n dramatiese wending beweer die 41-jarige Lea Sloane nou sý is Fiona – en dat sy destyds onverklaarbaar deur Van Rooyen vrygelaat is.

'Ja, dis ek'

Op ’n vraag of sy Fiona Harvey is, antwoord Lea in ’n boodskap aan Huis­genoot: “Ja, dis ek. Ek is sy.”

Maar Lea se aansprake word bevraagteken.

Lea Sloane (41) van Oos-Londen beweer sy is Fiona Harvey.

“Ek weet nie hoekom hierdie vrou dit doen nie,” sê Don Chandler, ’n ondersoekbeampte in die saak.

“Fiona se ouers is oud, sieklik en broos. Ek dink dis onregverdig om hulle in die middel van die nag te bel en te sê jy het hul dogter gekry. Daar moes ’n sielkundige en dokter by hulle gewees het.

“Wat my betref, is hierdie storie nie waar nie. Die ­ouers het na die foto’s van haar gekyk en is seker dis nie sy nie. Hierdie hele storie het nou weer ou wonde oopgekrap.”

Don het aan Huisgenoot gesê Eve en haar man, wie se identiteit sedert Fiona se verdwyning stilgehou word, is “sieklik” en sien nie kans vir die media se navrae nie. Huisgenoot kon ook nie daarin slaag om die ouerpaar telefonies te bereik nie.

’n Anonieme polisiebron sê reguit aan Huisgenoot: “Lea Sloane is nie Fiona Harvey nie. Ons is al sedert verlede jaar bewus van haar bewerings en het al onderhoude met haar gedoen. Dis onwaar.”

Maar aan ons sê Lea: Sy ís Fiona – en sy sal alles in haar vermoë doen om dit te bewys.

Lea vertel in ’n onderhoud met Sunday Times (27 Januarie) sy het reeds DNS-monsters aan die polisie gegee om te vergelyk met die DNS wat destyds deel van die ondersoek was.

'Vriendelike man en vrou'

Die blonde vrou beweer sy onthou hoe sy hand aan hand gestap het met ’n “vriendelike” man en vrou wat vir haar lekkers sou koop. Later het sy in ’n kamer wakker geword saam met vyf ander meisies.

Die ander slagoffers was Tracey-Lee Scott-Crossley (14), Joan Horn (13), Odette Boucher (11) , Anne-­Marie Wapenaar (12) en Yolanda Wessels (12).

Die foto van Fiona wat destyds in koerante verskyn het.

Sy sê sy is seksueel mishandel en dat Haarhoff haar hande en voete op ’n stoof verbrand het sodat sy nie uitgeken kon word nie. Maar Van Rooyen het haar glo “maande of jare later” by ’n afgeleë plek afgelaai.

“Ek het gedink hulle gaan my doodmaak,” het sy aan die koerant vertel.

Volgens haar is sy eindelik terug na haar ouerhuis, maar dit was verlate. Toe laai ’n verbyganger haar op en verkoop haar as ’n seksslaaf . . . Daarna het sy glo weer ontsnap, maar sy wei nie verder daaroor uit nie.

Sarah Carlisle, ’n inwoner van Pietermaritzburg, het aan The Witness vertel sy het die Harveys se huis – waarin hulle 30 jaar gewoon het – in 2003 by hulle gekoop en woon sedertdien daar.

Ander skrapse besonderhede in Lea se verhaal laat die skeptici kopkrap. Daar was immers al voorheen dramatiese onthullings oor die slagoffers, maar elke keer was dit vals.

Swendelaars op die loer

In 2015 het Anne-Marie se broer, Herman (toe 53), en ma, Kobie (toe 82), se hoop opgevlam nadat hulle gekontak is deur “weldoeners” wat haar glo uit seksslawerny in Mexiko gered het. Só skryf die Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl in sy onlangse boek, Gert & Joey: Nuwe Lig op ’n Raaisel van Dertig Jaar.

Die Wapenaars het duisende rande na bankrekenings in Mexiko oorbetaal, maar dit was swendelaars.

Vandag sê Herman aan Huisgenoot: “Haar bewerings is ontstellend; dit wek die indruk dat iemand met inligting nou na vore tree. Ek weet nie wat die doel van hierdie persoon is nie. Ek glo dit nie.”

Hy is nie al een nie.

“ ’n Mens hoop dit is dié keer die waarheid. Daar is tog op die oog af ooreenkomste tussen Lea en Fiona . . . Maar die kanse is bitter skraal,” sê ’n tweede anonieme polisiebron.

“ ’n Mens kan jou nie indink sy beweeg al die jare in die land rond sonder dat sy ooit opgemerk is nie. Destyds was die meisies se ontvoering op elke voorblad.”

Die kollig

As Lea se bewerings wel onwaar is, kan dit sielkundig verklaar word, sê prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy beklemtoon hy spreek hom nie uit oor die waarheid daarvan nie.

“Daar is verskeie motiewe hoekom mense valse verklarings maak, maar meestal gaan dit oor die aandag wat hulle kry. Vir hulle is dit emosioneel bevredigend om in die kollig te wees. Soms is daar ander voordele, soos geld, maar meestal skuil ’n sterk minderwaardigheidskompleks daaragter,” sê Dap.

“Daar is ’n leemte in die persoon se lewe wat hulle smag om te vul. Met ’n saak soos dié sal dit gebeur dat die aandag op hulle gevestig word, hoewel die persoon nie werklik omgee hóé nie.

“Die belangrikste vraag is hoekom die persoon daarna smag. Wanneer nie al die feite op die tafel is nie, versterk die media bloot die persoon se gedrag.”

Hy sê valshede kan ’n verwoestende impak op die slagoffers se naastes hê.

Dreigemente en regsgevolge

Sedert haar bewerings teenoor Sunday Times het Lea besluit om nie verdere onderhoude toe te staan nie, sê Nico Fourie, regsverteenwoordiger vir die pleegsorgaksiegroep Foster Care Action Group, wat nou na Lea omsien.

“Ons advies is dat die ondersoek eers sy gang moet gaan en ons tyd gegun word om beter op die hoogte te kom van die feite voor verdere onderhoude gedoen kan word wat die ondersoek dalk kan beïnvloed,” sê Nico.

“Lea stel haar aan regsgevolge bloot met haar weergawe van feite, veral te midde van dreigemente waarvan sy reeds die slagoffer was.”

Lea sê sy sal bewys sy is Fiona.

In haar boodskap aan Huisgenoot sê Lea: “Ek wil my storie vertel, maar op ’n verantwoordelike en beheerste manier. Ons word ernstig aangeval deur gesig­lose mense met sinistere agendas. Ek is nie gesond genoeg om hierdie onnodige stres te hanteer nie.”

Ondanks die onsekerheid bly families hoopvol.

“Ons is positief dat daar nou iets gaan uitkom,” sê Linette Boucher, ma van Odette Boucher.

Nog ’n ouer van een van die vermiste meisies, wat anoniem wil bly, sê: “As sy terugkom en daar is hoop dat die ander meisies ook veilig is, is dit ’n groot seën. Niks is onmoontlik vir die Here nie; nie ’n enkele ding nie.”

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, sê Lea se bewerings word onder­soek – die Van Rooyen-saak is nooit gesluit nie.

FOTO'S: GALLO IMAGES/DAILY DISPATCH/MARK ANDREWS, VERSKAF