Chelsea Pearce (29) van Halifax in Wes-Yorkshire, was net vir enkele ure “die ma waarvan sy altyd gedroom het om te wees” toe ’n dodelike bloedklont haar lewe eis.

Chelsea Pearce
Chelsea se gesin is verpletter ná haar skokdood. Sy het altyd daarvan gedroom om 'n ma te wees. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

Haar familie het gesteier van skok, en ’n hegte familievriend, Rhea Procter (21), en Chelsea se ma, Colette Pearce (57), het vertel van die verplettering en dit wat die toekoms inhou vir die seun wat sy agtergelaat het.

Chelsea het aan ’n onderliggende longtoestand gely en het dus 'n beplande keisersnit-operasie gehad.

Als het volgens plan verloop, maar tog het ’n vroedvrou enkele ure ná sy die lewe aan haar eersteling geskenk het op die nuwe mamma afgekom waar sy ineengestort en ophou asemhaal het.

Chelsea Pearce
Chelsea en haar lewensmaat Robbie kort ná die geboorte van hul seuntjie. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

Mediese personeel het haar probeer bybring en medikasie gegee om die bloedklont wat hulle ontdek het te verdun, maar dit het na haar hart beweeg en veroorsaak dat dit onmiddellik gaan staan het. 

Colette het deur die trane vertel die laaste keer toe sy haar dogter gesien het, was toe sy haar by die hospitaal afgelaai het om aan haar seuntjie die lewe te skenk. 

“Ek het nie woorde nie, sy was nog my baba. Dit voel asof my hart uitgeruk is. Dit was haar eerste baba en sy wou so graag ’n ma wees. Sy was mal oor babas, en het gewerk as tuisverpleër en was opgelei as vroedvrou.

Chelsea Pearce
Baba Roman. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

“Sy het saans haar maag vasgehou en met hom gepraat. Sy kon nie wag om hom te ontmoet nie.”

Chelsea sou aanvanklik op 4 Desember die lewe skenk, maar haar water het op 26 November gebreek en sy is hospitaal toe gejaag.

“Dit was haar droom om ’n ma te wees, dis al wat sy wou hê,” het die familievriend Rhea vertel. “Alles het om babas gedraai.

“Sy het vier niggies en nefies gehad en het elkeen soos haar eie behandel. Sy was ’n pragtige mens, onbaatsugtig en het altyd aan ander gedink.”

Chelsea Pearce
Chelsea Pearce is enkele ure ná haar baba se geboorte oorlede. Foto: Caters News Agency/Magazinefeatures.co.za

Oor baba Roman het sy gesê: “Hy is piekfyn, Chelsea is deel van hom. Hy het reeds begin bottel drink. Chelsea sou so trots gewees het. 

“Haar lewensmaat Robbie (29), is verpletter en desperaat om alles te doen wat sy vir hom gesê het. Sy het hom gevra om na haar seuntjie om te sien en dis presies wat hy doen.”