Vir hul honderdduisende volgelinge was hulle ’n prentjiemooi gesin: die heilsame blonde ma, die toegewyde pa, hul vier pragtige biologiese kinders – en die dierbare seuntjie met spesiale behoeftes wat hulle uit China aangeneem het en hulle gehelp het om ’n YouTube-sensasie te word.

Ondernemings het oor hul voete geval om ouerskaps- en leefstylinskrywings op die beïnvloeder Myka Stauffer se kanaal te borg – een van hulle was die Hollywoodster Kate Hudson se sportdragreeks, Fabletics.

Die idilliese Instagramlewe wat Myka en haar man, James, geskep het, het die geld laat inrol. Maar nou verkrummel hul aanlyn sakeryk omdat dit uitgekom het die prentjie wat hulle voorgehou het, was een groot leuen.

Die paartjie het onlangs erken hulle het Huxley, die nou vyfjarige seuntjie wat hulle in 2017 aangeneem het, opgegee omdat sy behoeftes meer is as wat hulle kan hanteer.

Dit het ’n storm van kritiek in die sosiale media ontlok, en die borge het een vir een begin onttrek. Hul aanhangers was geskok en die einste mense wat hulle voorheen in groot getalle gevolg het, het hulle as skynheilige monsters uitgekryt.

Myka (33) en James (34) het in ’n emosionele video wat soos ’n veldbrand aanlyn versprei het, aangekondig hulle het vir Huxley “ ’n ander tuiste gevind” weens sy mediese en gedragsprobleme. Hy het nou ’n nuwe “vir-altyd-gesin”, sê Myka, en woon by ’n nuwe mamma wat as mediese kundige beter in staat is om sy uitdagings te hanteer – nogal ironies, sê kritici, aangesien Myka self ’n opgeleide verpleegster is.

Myke en James
Myka en James Stauffer in die video waarin hulle aan hul aanhangers vertel dat hulle ’n nuwe tuiste vir Huxley gekry het. Foto: Youtube

“Daar is baie spesiale behoeftes waarvan ons nie bewus was nie,” sê James. Die paartjie gee nie te veel detail oor sy behoeftes nie “uit respek vir Huxley se privaatheid” en verklap ook nie waar hy nou woon nie. Maar dit lyk of niemand presies weet waar Huxley is nie, en die Stauffers word nou deur owerhede ondersoek in ’n poging om vas te stel waar hy is en wat die werklike omstandighede van die nuwe aanneming is.

Intussen het Myka alle tekens van Huxley op haar Instagramblad uitgewis en nou is daar net foto’s van haar biologiese kinders, Nakova (8), Jaka (6), Radley (4) en Onyx (11 maande).

Myke en James
Myka saam met Huxley en drie van haar biologiese kinders, (van links) Jaka, Na­kova en Radley. Foto: Instagram/@mykastauffer

Die oomblik toe Myka en James destyds vir Huxley die eerste keer sien, was daar ’n verbintenis, sê hulle.

“Ons het net geweet hy is ons kleinding,” het Myka in 2017 ná die aanneming oor die tweejarige gesê. Chinese aannemingsowerhede het Huxley se spesiale behoeftes as “breinskade” beskryf.

“Toe ons na sy lêer kyk, het dit aangedui hy het ’n breingewas, maar die merkwaardigste is dat sy verjaardag ’n dag ná myne is,” het Myka gesê.

“As verpleegster in onkologie het gewasse my nie bang gemaak nie. “Toe ons huis toe kom, het daar ’n groot verrassing op ons gewag as gevolg van onakkurate inligting in die lêer. Ons seun het inderwaarheid ’n beroerte in die baarmoeder gehad, asook vlak 3-outisme en sensoriese verwerkingsverteuring.

“Dit het baie tyd geverg om sy nuwe diagnose te verwerk en daarby aan te pas. Ons het ons 10 maande lank op breingewasse voorberei (voor hy huis toe gekom het) en nie een keer nagelees oor outisme of beroerteskade nie – dit het ons onkant gevang.”

Die Stauffers het nogtans moeite gedoen om hul meer as 700 000 volgelinge op YouTube en 200 000 aanhangers op Instagram te vertel die nuwe inligting het hulle nie afgeskrik nie.

“Hy’s vandag vier,” het Myka verlede jaar geskryf, “en begin woorde vorm en ook woorde herhaal. Hy het ook meer as 15 gebare waarmee hy kommunikeer. Hy’s ’n wonderlike kind en sy toestand behels nie soveel algemene sorg nie – al wat jy nodig het, is ’n groot hart en om elke dag geduldig te wees.”

Myka het ’n woordvoerder vir internasionale aanneming geword en aan haar volgelinge gesê: “Aanneming is wonderlik, ongeag hoe die kind aangeneem word. Dis nie maklik nie. Jy sal twyfel aan jouself, maar jy sal daardeur kom en nooit jou lewe sonder daardie kind kan voorstel nie. Ek en my man is beter ouers vir al ons ander kinders as gevolg daarvan.”

‘Veelvuldige skrikwekkende gebeure is in die huis beleef’

So wat het dan skeefgeloop? Al wat Myka verklap het, is “ons ander kinders het veelvuldige skrikwekkende gebeure in die huis beleef.

“En as een van my biologiese kinders dié gebeure veroorsaak het, ná al die hulpverlening en gedrag wat ons aanskou het, sou ons ongelukkig ook geen ander keuse hê as om hulp te soek om aan hul behoeftes te voldoen nie.”

Myka en James het hul keuse probeer verdedig deur te beweer – ietwat onwaarskynlik – dat Huxley ten gunste was van die stap om vir hom ’n ander tuiste te vind. “Huxley wou 100% hierdie besluit hê,” het Myka geskryf.

Myke en Huxley
’n Teer oomblik voor dinge skeefgeloop het. Myka het sedertdien alle foto’s van Huxley van haar sosiale media verwyder. Foto: Instagram/@mykastauffer

“Ons het tydens familietyd saam met ander mense gesien hy het hulle gedurig gekies en hy het baie emosie getoon om vir ons te wys hy soek daardie gesin.”

Sy voeg by sy en James het hul bes gedoen met Huxley. “Ná veelvuldige evaluerings het verskeie mediese kundiges gevoel hy benodig ’n ander gesin en dat hy met sy mediese behoeftes meer nodig het as wat ons hom kan bied.”

Die teenreaksie in die sosiale media was vinnig en wreed. Wat dit veral erg maak, is dat die Stauffers nooit gehuiwer het om Huxley deel van die storie te maak wat hulle oor hulself bemark het nie; die seuntjie het dikwels in geborgde inskrywings verskyn.

Benewens die Myka Stauffer-YouTube-kanaal het die gesin ook die Stauffer Life-kanaal, wat oor hul daaglikse lewe gaan, bedryf. James, ’n meganiese ingenieur, het ’n kanaal genaamd Stauffer Garage bestuur – oor hoe om vuil karre diep skoon te maak – met meer as 500 000 aanhangers.

Die gesin se winsgewende kontrakte met Fabletics en babakos- en produkvervaardigers soos Little Lots, Danimals en Playtex Baby het baie met Huxley te make.

Die fotogeniese kindjie en die emosionele storie agter sy aanneming het vir die Stauffers tienduisende meer volgelinge gebring, wat beteken het hulle kon borge meer geld vra.

“Die situasie met Myka Stauffer is baie ontstellend,” het iemand op Twitter geskryf. “Kinders is nie ’n hond wat jy by die skuiling aangeneem het en kan teruggee as dit nie goed uitwerk nie.”

Een vrou genaamd Cleary, ’n Koreaan wat deur Amerikaners aangeneem is, sê: “Dit dra by tot die stigma wat aan aangenome kinders kleef, die opvatting dat ons dalk ‘minder permanent’ as biologiese kinders is.”

Dr. Todd Grande, ’n dosent in ’n beradingsprogram by die Wilmington-universiteit, Delaware, het die kwessie op sy YouTube-kanaal bespreek.

“Myka het haarself as ’n kampvegter vir internasionale aanneming bemark. As sy haarself uitgebeeld het as iemand wat sukkel, sou dit eerliker gewees het. Dis asof hulle Huxley soos ’n babahondjie behandel het wat nie meer oulik of nuttig was nie.” 

BRONNE: PARADE.COM, MARIECLAIRE.COM, TODAY.COM, DESERET.COM, NBCNEWS.COM, BUZZFEED.COM, YOUTUBE.COM, DAILYMAIL.CO.UK