Die Oliviers se ingerigte bus vir hul epiese reis.
Die Oliviers se ingerigte bus vir hul epiese reis. Foto: Verskaf

Maar toe bars die covid-19-bom.

Hulle is nou gestrand op ’n familie-wildsreservaat op Hammanskraal, net ’n paar kilometer van die vierslaapkamerhuis in Pretoria wat hulle vir altyd wou verlaat.

Ma Monique Olivier (32), pa Pieter (46), Pieter jr. (24), Conrad (21), Tommy (12), Sonika (11) en die vierjarige toy pom-hond, Daimler, sit nou met voete wat jeuk om eindelik die pad te vat die wye wêreld in.

Die toypom, Daimler, is deel van die Oliviers op h
Die gesin se pommer, Daimler, is deel van hul epiese reis. Foto: Verskaf

“Ons het die bus in November gekoop en begin om haar te omskep,” vertel Monique aan Huisgenoot. "Ons was net voor die inperking in Maart met haar klaar, en toe kon ons skielik nêrens heen gaan nie,” voeg sy by.

“Suid Afrika is eerste op die lys. Dan Namibië. En dan die res van die wêreld.

“My man kyk al vier jaar lank na programme op YouTube van oorsese mense wat motor homes het. Dit was ’n groot droom om eendag sy eie bus te hê.

“My man het baie hard gewerk sy hele lewe lank. Ek het toe besluit genoeg is genoeg.”

Hulle het 22 jaar lank hul eie onderneming met myn-masjinerie gehad, wat hulle moes verkoop omdat hulle gesukkel het om skuld in te vorder.

Ná baie ver ry en lank soek, het hulle eindelik die regte bus in Krugersdorp gekoop.

“Dis groot genoeg om baie saam te vat op ons reis. ’n Karavaan is beknop. Die bus kan maklik ses mense gemaklik slaap.”

Die wasgoeddraad aan die bus. Foto: Verskaf
Die wasgoeddraad aan die bus. Foto: Verskaf
Die bus het sy eie wasgoed-ruim. Foto: Verskaf
Die bus het sy eie wasgoed-ruim. Foto: Verskaf
Die kombuis op die bus. Foto: Verskaf
Die kombuis op die bus. Foto: Verskaf
Die bushuis se kombuis. Foto: Verskaf
Die bushuis se kombuis. Foto: Verskaf



Hul oudste seun, Pieter, is in sy laaste jaar van argitektuur op universiteit en hul tweede oudste, Conrad, het pas as dieselwerktuigkundige gekwalifiseer. Die twee jonges was leerders aan die Laerskool Magalieskruin in Pretoria.

“Ons home school al ’n jaar lank, en ons gaan beslis daarmee aanhou. Hulle gaan baie meer leer deur die wêreld te verken as om heeldag net in boeke te staar.”

Pieter, Conrad, Tommy en Sonika het self die gewone groot bus omgebou in die huis op wiele. Hulle was in Maart klaar en het toe ingetrek.

“Ons het ’n dubbelbed, die twee kleintjies het elkeen ’n bunkbed en ons bank kan omskep word in ’n sleeper couch as die oudstes die een of ander tyd by ons wil aansluit.

“Ons het ’n volle huis: ’n yskas en vierplaatgasstoof. Die stort is lekker groot, en ons het ’n Porta Potti as toilet. Ek het ’n wasmasjien en tuimeldroër onder in die bus.

“En dan is daar ook twee tenke onderin; een vir vars water en die ander een vir vuil water. Vir krag het ons ’n inverter en batterye en ons skaf binnekort ons sonpanele aan,” vertel Monique.

“Ons Suid-Afrikaners het gemaklik geraak deur net gou iets te gaan koop. Ons het tydens die inperking geleer dat ons meer kan bak en brou en ons eie dinge maak.

Die kinders se stapel-beddens op die bus. Foto: Ve
Die kinders se stapel-beddens op die bus. Foto: Verskaf
'n Bank in die bus wat kan oopslaan in 'n bed. Fot
'n Bank in die bus wat kan oopslaan in 'n bed. Foto: Verskaf
Die bus se kantoor en TV-kamer. Foto: Verskaf
Die bus se kantoor en TV-kamer. Foto: Verskaf

“Ons het tyd gehad om meer navorsing te doen oor waar ons die goedkoopste kan kry. En ons het geleer dat ons sonder heelwat kan klaarkom en om minder onnodige goed te koop.”

“Ons kon ’n paar rand spaar die afgelope paar jaar, maar nie genoeg om ons vir altyd te dra nie,” sê Monique.

Pieter sr. is nes Conrad ’n gekwalifiseerde diesel-werktuigkundige.

“Hy kan nie wag om op die pad te kom om mense hier en daar te help vir ’n ekstra inkomste nie.

“Ek het onlangs my diploma in fotografie gekry, en ek kan nie wag om op die pad my portefeulje uit te bou en my onderneming te begin nie. Daar is so baie om af te neem en natuurlik kan ons nie wag om alles wat mooi is te sien nie.”

As hulle die oseane moet oorsteek, sal hulle eers die bus met ’n skip laat oorgaan en agterna oorvlieg.

Hulle sien die meeste daarna uit om soveel moontlik vir so goedkoop moontlik te sien, vertel Monique. “En om baie kulture te kan ervaar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe