Victor Bosman (55), Charlene Lombard (27) en hulle seuntjie, Jay Lombard (5), het op 15 Januarie van Odendaalsrus in die Vrystaat geryloop.

“Hulle het na Secunda geryloop omdat Victor ’n moontlike werksgeleentheid daar gehad het,” sê brig. Motantsi Makhele, polisiewoorvoerder. 

Die gesin het glo op 21 Januarie in Secunda aangekom en het by ’n vriend op die dorp oorgeslaap. 

Motantsi sê dit is nie bekend waar die gesin vir die dae geslaap het voordat hulle in Secunda aangekom het nie. 

Op 22 Januarie het die vriend hulle na ’n taxistaanplek geneem sodat hulle weer terug Odendaalsrus toe kon gaan. 

“Die vriend het later daardie dag ’n oproep van Victor ontvang wat hom gevra het vir geld om kos te koop. Hy het vir sy vriend gesê dat hulle in Alberton is. Die vriend het geld in Victor se bankrekening betaal,” sê Motantsi. 

Dit was glo die laaste wat die vriend van hulle gehoor het. 

“Die gesin is nooit weer gesien nie en die familie kan hulle nie op hulle selfone in die hande kry nie.” 

Die familie van die gesin het ’n saak van vermiste persone by die Odendaalsrus-polisiekantoor oopgemaak. 

  • Enigiemand met inligting rakende die gesin kan vir ao. Maria de Wet by 073 200 2739 skakel.