Die Bethlehemse gemeenskap is steeds in skok oor die skielike dood van Gerard de Boer (45) – die eienaar van Solomons Mica op die dorp.

Gerard se vrou, Lize, en sy pa, Henk, het Saterdagaand net voor 19:00 op sy liggaam afgekom. Gerugte dat Gerard verwurg is, is Maandag deur die plaaslike polisie ontken. 

Kapt. Screamer Tshabalala, Bohlokong-speurhoof, het aan Huisgenoot gesê ’n moordondersoek is steeds aan die gang, maar sy dood was glo nié deur verwurging veroorsaak nie.

“Die ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium, en meer inligting kan nie onmiddellik met die media gedeel word nie,” sê hy.

Intussen het die familie van Gerard Maandag aan Huisgenoot gesê hulle is stukkend en nog nie emosioneel gereed om met die media te praat nie.

Susan Janse van Rensburg, ’n kollega van Gerard, sê die familie is “van hulle sinne af” oor die dood van hulle pa; vriend; geliefde en mentor.

Gerard de Boer
Gerard de Boer. Foto: Facebook/Hoërskool Witteberg

“Lize is heeltemal out of her mind. Sy is heeltemal stukkend en verpletterd. Sy kan byna nie met enigiemand praat nie. Dit gaan terrible met die hele familie – ons harte bloei vir hulle,” sê sy.

Sy sê die De Boer’s se familie kom nou van regoor die land om Lize en die kinders by te staan.

“Die vier seuntjies weet van hulle pa se dood, maar hulle is baie verward. Dood maak nog nie vir hulle sin nie. Die dogtertjie weet nog nie; hulle beskerm haar nog. Maar dis maar verskriklik moeilik. Om te dink jy moet jou kinders bystaan en ondersteun terwyl jy self nie kans sien om uit die bed te klim nie.”

Redene Labuschagne, ’n vriend van Gerard wat meer as ’n dekade lank nou saam met hom gewerk het, sê aan Huisgenoot sy weet twee dae later steeds nie hoe om die skok oor haar vriend se dood te vewerk nie.

Sy het enkele dae voor sy dood nog aan Gerard ’n foto-boodskap gestuur waarop gestaan het: “Die grootste verskil tussen geld en tyd: Jy weet altyd hoeveel geld jy het – maar jy sal nooit weet hoeveel tyd jy het nie . . .” 

Vier dae later is hy dood.

Gerard de Boer
Gerard en gesin. Foto: Facebook

“Toe ek die nuus hoor, het ek gedink dit kan nie wees nie. Dis nie waar nie. Iemand versprei vals nuus. Tot ’n ou vriend dit vir my bevestig het. Ek kan dit werklik nie glo nie . . .” sê ’n bewoë Redene.

Hy is beskryf as ’n vriendelike man met ’n hart vir die gemeenskap.

“Hy was betrokke by alles. Hy het altyd geweet hoe om jou moed in te praat; en altyd ’n kompliment gegee. Jy kon enige tyd op sy knoppie druk, en hy sou jou help.”

Gerard het ’n groot behoefte gehad om ’n verskil in sy gemeenskap én in die land te maak, meen sy.

“Daar was nog te veel wat hy moes doen – en wou doen. Hy wou nog so groot verskil in die wêreld maak. Ek kan my dit nie indink waardeur sy geliefdes moet gaan nie . . . Dit voel vir my of Bethlehem nie net ’n groot boom verloor het nie, maar asof hulle ’n hoofaar na hulle hart verloor het.”

Sy aarsel ’n oomblik.

“Ek sal nooit vergeet hoe opgewonde Gerard was toe hy uitvind Lize verwag ’n dogtertjie nie. Hulle het vier seuns. Hy het so opgehelder – dit was vir hulle so ’n groot ding. En nou sal hy nooit deel van haar, of van die res van sy gesin, se lewe wees nie.”