Cari en Erik het verlede jaar hul gesin by die Apostle Islands by Lake Superior in die noorde van die deelstaat Winsconsin geneem. Dit was vir hulle so lekker en vanjaar het die paartjie besluit om weer daar met Kyra (9), Annaliese (5) en Jansen (3) te gaan kampeer.

Deel van hul vakansiepret Donderdag sou wees om met ’n 4 m lange tandemkajak na Michigan-eiland te roei, ’n afstand van ongeveer 6 km. Maar die wind het net té sterk opgesteek en die golwe net té rof. Toe kantel die kajak.

Al vyf het wel reddingsgordels aangehad. Eric en hul drie kinders het na die oewer begin swem terwyl Cari na die kajak teruggekeer het om ’n noodsak in die hande te kry. Daar was ’n selfoon in die waterdigte sak waarmee sy ’n teksboodskap aan haar suster, Bobi Jo, kon stuur.

Maar dit het vyf geduur voor Bobi Jo die boodskap ontvang het. Daar was nie selfoonsein in die gebied waar Cari-hulle was nie. Sy het onmiddellik die nooddienste in kennis gestel.

Dié het omstreeks 22:00 ’n klein liggie op die water gewaar. Dit was Cari en die flou liggie was afkomstig van die selfoon. Teen daardie tyd was Cari reeds ses uur in die ysige water van ongeveer 15 °C.

Teen middernag het die reddingspanne die lyke van Erik, Jansen en Anneliese gevind. Donderstorms het die soektog bemoeilik en Kyra is die volgende dag gevind.

Bob Krumenaker, die superintendent van die Apostle Island-gebied, sê die gesin het op ’n plek geroei waar mense dit selde met kajakke waag. Die skielike opsteek van storms maak die gebied ook bedrieglik gevaarlik en Donderdag was juis ’n dag waarop ’n storm voorspel is.

Bronne: kptv.com, detroitnews.com, abc7chicago.com