Dr. Aaron Motsoaledi sit met sy elmboë op sy houtlessenaar, sy vingers verstrengel, so al asof hy bid.

Luister ’n mens na sy kritici, is gebede dalk wat nodig is om sy ambisieuse maar omstrede plan vir goeie gesondheidsorg te laat werk.

Motsoaledi is in die spervuur weens sy voorstel om ’n openbare mediese skema, die sogenaamde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), in plek te stel.

Dat openbare gesondheidsorg in Suid-Afrika in ’n krisis is, sal min mense betwyfel. Sommige staatshospitale is oorvol, dienslewering is soms gebrekkig, dokters en verpleegsters spartel om by almal uit te kom en waglyste is lank.

Openbare gesondheidsorg is soms swak, maar die gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi glo sy Nasionale Gesondheidsversekeringsplan sal dié probleme kan oplos.

Net dié wat groot bedrae kan opdok, kan privaat gesondheidsorg bekostig of betaal om tot ’n privaat mediese fonds te behoort.

Volgens die plan wat Motsoaledi probeer deurvoer, sal almal in die land tot ’n nasionale mediese skema behoort en hopelik toegang tot gehalte-gesondheidsorg kry.

Maar teenstanders van die NGV beskou die plan as ’n resep vir selfs groter chaos. Dit sal ’n enorme klomp geld kos. Waar gaan die geld en hulpbronne vandaan kom? wil hulle weet.

Met sy hande so verstrengel, oorweeg Motsoaledi ons vraag versigtig: Glo hy werklik dit sal werk?

“Natuurlik glo ek daarin. Heelhartig,” sê hy, sy stem die ene selfvertroue.

“Dit is die enigste manier hoe ons gehaltegesondheidsorg vir almal sal inlui. Dis nie net ek wat sê dis nodig nie. Dis deel van die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat deur alle partye in die parlement aanvaar is. Maar wanneer ek dit in werking wil stel, begin hulle vrae vra.”

Op die oog af is die NGV ’n bewonderenswaardige plan. Slaag dit, sal almal in die land, ongeag hul inkomste of werkstatus, toegang hê tot dieselfde medici en geriewe, ook dié wat tans net vir mediesefondslede beskikbaar is.

Maar die grootste struikelblok in die weg van die NGV is juis die gemors waarin die bestaande openbare gesondheidsorgstelsel hom bevind.

In Julie vanjaar moes provinsiale parlementslede vir gesondheid rekenskap gee aan die parlementêre gesondheidskomitee.

Die rede?

’n Skokkende verslag deur die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde. Daarvolgens is net vyf van die 696 openbare gesondheidsinstellings, byvoorbeeld klinieke en staatshospitale, wat in 2015-’16 geïnspekteer is op peil.

Dit het te min dokters en verpleegpersoneel, te min beddens, swak higiëne, ’n tekort aan gesofistikeerde mediese toerusting vir die behandeling van ernstige toestande soos kanker, en reusebegrotingstekorte.

Hoe kan Motsoaledi se plan slaag met so ’n vrot openbare gesondheidstelsel as vertrekpunt? En hoe gaan ons daarvoor betaal?

‘Al die geld moet in ’n poel betaal word om almal te dien’.

Dit is waar dat vir die gesondheidsversekering om te gebeur ons die openbare gesondheidstelsel moet herorganiseer, erken Motsoaledi met ’n instemmende knik van sy kop en sprei sy arms wyd oor die glimmende houtoppervlak van sy lessenaar.

Dan verstrengel hy weer sy vingers in daardie amperse biddende houding. Personeeltekorte sal ’n kopseer vir die NGV wees, gee hy toe, want 80% van spesialiste is in die privaat sektor en versorg tans net 16% van die bevolking.

“Maar die probleem met die privaat gesondheidstelsel is wanneer jou mediese fonds uitgeput is, sê hulle: ‘Gaan nou; tsamaya (loop). Jou geld is op.’ En hulle raai jou aan om na die openbare sektor te gaan, waar jy behandel sal word tot jy herstel. Die NGV gaan al dié onreëlmatighede regstel.”

Hy wys daarop dat privaat mediese skemas ingevolge die NGV nie oornag sal verdwyn nie.

Die NGV sal oor ’n tydperk van 12 tot 15 jaar ingefaseer word, en eers as dit ten volle in werking is, sal daar nie meer, volgens hom, ’n behoefte aan mediese skemas wees nie.

Sy kritici, voeg hy by, sê hy moet die openbare gesondheidstelsel regruk voor hy die NGV van stapel kan stuur.

Geld, sê Motsoaledi, is die enigste ding wat nodig is om die gesondheidstelsel te herstruktureer. Wanneer al die geld saamgegooi word – die geld wat die regering en burgers aan gesondheidsorg bestee – sal daar genoeg wees vir hulpbronne vir almal.

Die reg op gesondheidsorg

“Ek wag gretig vir mense wat die NGV na die konstitusionele hof sal neem. Die konstitusionelehofregters sal dit verdedig. Gesondheidsorg is ’n reg en die regters sal alles doen om te sorg dat dit die reg van die mense is.”

Die reg op gesondheidsorg kan nie van ’n mens se status of sy stand in die lewe afhang nie, sê hy.

“Niemand mag noodmediese aandag geweier word nie. Mense word deur ambulanse agtergelaat omdat hulle nie ’n mediese fonds het nie. En die waarheid is die meeste mense kan nie die hoë koste van privaat hospitale bekostig nie.”

Statistieke Suid-Afrika se huishoudelike opname vir 2017 het getoon 71,2% van huishoudings het openbare klinieke gebruik, en sowat 27% het aangedui hulle sou na privaat dokters en klinieke gegaan het as hulle dit kon bekostig.

Hy sê die staat het privaat gesondheidsorg vanjaar met R57 miljard gesubsidieer, maar dit bevoordeel net dié wat ’n mediese fonds kan bekostig.

“Hoekom mag hulle jou nie in ’n privaat kliniek of hospitaal behandel wanneer jy nie ’n mediese fonds het nie, al dra jy by deur belasting?” vra hy.

Maar wat gaan dit kos en waar gaan die geld vandaan kom? Hoeveel dit gaan kos, kan hy nie nou projekteer nie, maar die geld moet uit die tesourie kom, meen hy.

Hy wys daarop die regering kry geld van persoonlike belasting (byvoorbeeld op salarisse), BTW (wat selfs die armstes moet betaal), korporatiewe belasting van maatskappye en die belasting wat by ons grense ingevorder en in die tesourie gestort word.

“Die armes betaal belasting, wat elke jaar gebruik word om privaat klinieke en hospitale te subsidieer.”

Motsoaledi wil die gaping tussen ryk en arm oorbrug en sorg dat alle Suid-Afrikaners toegang het tot gratis hoëgehaltesorg. “Al die geld moet in ’n poel betaal word om almal te dien.”

Waar kom sy passie vandaan om die armes te help?

Motsoaledi vertel die storie van ’n Pretoriase huiswerker se kind. Die kind het amper in die gesin se swembad verdrink. Die huiseienaar het die kind na ’n privaat hospitaal geneem, want die staatshospitale in Tshwane was vol.

“Die enigste beskikbare hoësorgeenheid was in ’n privaat hospitaal, want dit word vir net 16% van die bevolking gereserveer. As ’n openbare hospitaal vol is, moet die privaat sektor pasiënte toelaat. Hulle kry immers subsidies van die regering,” sê hy.

Dié hospitaal het die kind noodbehandeling gegee, kortstondig opgeneem en ’n rekening aan die werkgewer gestuur. Hy het geweier om te betaal aangesien dit ’n noodgeval was en staatshospitale nie kon help nie.

“Jy kan die teenstrydigheid en onreëlmatigheid sien,” sê Motsoaledi.

“Dit is hoekom ons universele gesondheidsorgdekking moet hê. Ons visie is dat almal, ongeag inkomste, teen 2030 ’n gelyke peil van sorg moet hê; daarom het jy ’n gemeenskaplike fonds nodig.”

Suid-Afrikaners moet geduldig wees, sê hy. Die bekendstelling word beplan om oor die volgende 12 jaar in drie fases plaas te vind.

Hy sê dit sal werk. “Die twyfelaars moet weer dink. Die vooroordeel teenoor die armes moet uitgewis word.”

Skoksyfers van ons sukkelende gesondheidsorg
  • In die Vrystaat wag 400 kankerpasiënte op bestralingsbehandeling. Die provinsie het twee bestralingsmasjiene, maar een is gebreek.
  • Regsrekenings weens wanpraktyksake neem toe. Mpumalanga het ’n “geraamde aanspreeklikheid” van ’n allemintige R7,6 miljard aangemeld, terwyl die Vrystaat deur eise van R2 miljard in die gesig gestaar word en die Noord-Kaap R1,4 miljard.
  • Gauteng het in die huidige jaar deur R22 miljard se “vrugtelose en verkwistende uit­gawes” geploeg en R443 miljoen se vrugtelose uitgawes van vorige jare opgehoop.
  • Noordwes het meer as 4 000 vakante poste en die Vrystaat sowat 4 400.
  • Mpumalanga het ook ’n personeeltekort en steun swaar op Kubaanse dokters en hulp van Gauteng vir hoër vlakke van sorg. Hulle het nie geld om nuwe personeel aan te stel nie.
Ekstra bronne: News24, Health-e.org.za, theconversation.com