Die getroue hond is intussen aan ’n hondeskuiling oorhandig, berig Mail Online.

Die sewejarige hond van gemengde ras, wat nou met die bynaam Xiao Bao (“klein skat”) deur ’n werknemer gedoop is, het in Februarie saam met sy bejaarde eienaar by die hospitaal aangekom toe die coronavirus-pandemie ’n hoogtepunt beleef het. 

Sy eienaar is slegs vyf dae later aan die virus dood en Xiao Bao het geweier om die perseel te verlaat. Die hond het vir meer as drie maande in die hospitaal se voorportaal uitgehang en personeellede het hom gevoed en versorg. 

Hospitaalwerkers het na Xiao Bao gekyk totdat die inperking in Wuhan gelig is en daarna het Wu Cuifen – wat die hospitaal se supermark bestuur – na hom omgesien, berig Mirror.    

“Ek het die klein hondjie die eerste keer in middel April opgemerk toe ek teruggekeer het werk toe. Ek het hom Xiao Bao genoem. Dis die naam wat ek hom gegee het,” sê Wu.

“Hulle het vir my vertel Xiao Bao se eienaar, ’n pensioentrekker, is met die coronavirussiekte in die hopsitaal opgeneem. 

“Toe sterf hy, maar Xiao Bao het dit nie geweet nie en het net in die hospitaal agtergebly opsoek na hom.

“Hy het nooit die hospitaal verlaat nie. Dis ongelooflik roerend en so lojaal. Ek het die hond leer ken en hom later in die winkel ingenooi.

“Elke oggend as ek oopsluit, het Xiao Bao daar vir my gewag. En teen die einde van die dag het hy my afgesien.” 

Wu sê die hond het geweier om te gaan, selfs nadat hy ver weg van die hospitaal afgelaai is. Die personeel het intussen die Small Animal Protection Association om bystand gekontak ná klagtes en bekommernisse oor die hond geopper is.

Bronne: Mail Online, Mirror