Lynelle Kenned het vandeesweek kosmetiese chirurgie by die Melrose Aesthetic Centre by die Melrose Arch, Johannesburg gehad.

Sy is Woensdag geopereer en herstel tans by die huis. Sy sê aan Huisgenoot sy is “sommer dieselfde dag nog ontslaan”. 

Die steke word volgende week verwyder voor sy terugkom Kaap toe, sê die aanbieder van kykNET se Jý Geld. 

“Die volledige herstelproses is omtrent ses weke,” sê Lynelle van Pasella-faam. Sy sê die swelling en kneusplekke moet nog sak.

Lynelle voel “goed, sterk en baie happy”. “Ek het (dit) al te lank uitgestel. Maar vanjaar is 'n goeie jaar vir selfsorg en selfverbetering.”

Dit kom nadat sy onlangs op Instagram met haar aanhangers gedeel het dat sy ná haar ma se dood twee jaar gelede gesukkel het met verslawing en dit oorweeg het om haar eie lewe te neem. 

Lynelle is ses jaar gelede weens omstandigheidsdepressie opgeneem en het mense gemotiveer om hul stories oor geestesgesondheid te deel. "Daar is geen swakheid daarin om uit te reik en hulp te aanvaar nie,” het sy toe op Instagram geskryf.