En die broeke van sjefs en kelners in die kombuis begin bewe wanneer sy haar opwagting in hul eetplek maak.

Op haar blog, Whale Tales, deel sy gereeld “soet” en “suur” pryse uit; nie net aan eetplekke nie, maar ook aan banke, winkels, lugrederye – noem maar op. Chris neem foto’s en draai nie doekies om nie.

Een ding is seker – ’n mens wil nie aan hierdie sosiale vlinder van Kampsbaai, Kaapstad, se snykant wees nie.

Chris
In aksie op die Camino De Santiago in Spanje. Foto: Verskaf

“Moenie die walvis oor die drumpel laat tree nie,” het een van haar “slagoffers” eenkeer in die kuberruim teruggekap.

“Dit was die ou ek," vertel Chris aan huisgenoot.com "Groot, vet en lelik. Die naam is net ’n teken van minagting. Dit het toe seergemaak, maar nie meer nie,” vertel die vietse 66-jarige met ’n voorliefde vir kort-kort rokkies.

Sedert 2016 het sy van ’n ongelukkige, ongesonde 120 kg weggekrimp tot ’n lenige 75 kg. “Ek het in 20 jaar geen romantiese verhoudings gehad nie en het die leemte met kos gevul.

"Dit was maklik, want ek was ’n kosskrywer,” verduidelik sy. “Ek wou net hê iemand moes my weer soen.”

Haar transformasie het begin toe sy vir Graham Goble op 23 Maart 2016 ontmoet het by die Michelin bekroonde sjef Jan-Hendrik van der Westhuizen se boekbekendstelling vir JAN: A Breath of French Air.

Chris
By die teater. Foto: Verskaf

“Ons het 14 jaar tevore oor die telefoon gepraat toe ek vir hom raad gegee het oor sy gastehuis,” onthou Chris. “Hy het na my toe aangestap gekom om my daarvoor te bedank.”

Hulle het vriende op Facebook geraak en gereeld begin gesels. “Hy het my nooit veroordeel oor my gewig of daarop kommentaar gelewer nie, maar ons intellektuele gesprekke het my tot introspeksie gelei.”

Hulle het nooit ’n romantiese verhouding aangeknoop nie, maar die koeël was deur die kerk: Chris was verlief en dit was nie meer vir haar nodig om die gat in haar hart met kos in haar mond te vul nie.

Stadig maar seker het sy gewig begin verloor. In Oktober 2016 ontdek sy dans. Sy en vriende het na La Parada in Constantia-nek in die suide van Kaapstad gegaan. DJ René Tanguy en sy span het popmusiek gespeel en sy het haarself en haar lyf oorgegee aan vier ure op die dansvloer.

Chris
Op een van haar oorsese reistogte. Foto: Verskaf

Sedertdien is sy elke Sondag daar om te dans. Dit help haar om haar gewig stabiel te hou. Sy gaan stap ook elke dag, ten minste 10 000 tree op haar Fitbit. As sy dans, kan dit opskiet na 30 000.

“Ek besef nou ek het aan depressie gely vir al daardie jare, maar omdat ek ’n tough cookie was, wou ek dit nie glo nie.”

Sy het in daardie twee dekades ook nie omgesien na haar tande nie en dit het gebreek of uitgeval. Saam met die gewigsverlies het sy nuwe tande bygekry.

“Reg om weer vir ’n slag gesoen te word,” voeg sy by.

“Ek het weer my 18-jarige self ontdek,” vertel sy. Die 20-jariges wat saam met haar dans, vertel hulle wil soos sy lyk en selfvertroue hê; nie wees soos hul ma’s en oumas wat oorgewig is en voor die TV sit nie.

Chris het weer vir haar ’n skaal gekry en teken haar gewig elke dag in haar dagboek aan. “Jy moet elke dag met jou gewig gekonfronteer word,” meen sy.

Sy eet nie brood nie; niks koolhidrate meer nie. Sy eet baie vis en vars kos.

Chris drink water met suurlemoenskywe in eerder as daardie geliefde cappucino’s wat sy desjare een ná die ander weggeslaan het.

“Ek kook net eiers tuis en eet seldery en wortelstokkies as snoeperye.

Wanneer Chris dan ’n restaurant resenseer, kan sy met ’n skoon gewete weglê omdat sy andersins so gesond eet.

“In 2017 het ek vir ’n operasie gegaan om my borste te lig sodat ek weer met trots ’n bra kon dra, want dit het weer gelyk of ek agtien is.

"Ek het ’n liefdesverhouding met myself begin.”

Sy moes selfs ’n kleiner nommer skoen begin dra, omdat haar enkels nie meer so geswel was nie. Haar dokter het haar toestemming gegee om op te hou met haar medikasie vir tipe 2-diabetes en bloeddruk.

Twee jaar tevore het sy besluit sy wil haar Whale Cottages verkoop. Sy het 20 jaar tevore begin met ’n gastehuis in Hermanus met dié naam. En daarna het nog in Plettenbergbaai, Franschhoek en Kampsbaai hul deure oopgemaak.

Met dans hou sy haar lyf slank. Foto verskaf
Met dans hou sy haar lyf slank. Foto verskaf


Die impak van die gewilde aanlynbesprekingsplatform Airbnb en die swak ekonomie, het veroorsaak dat sy nie meer genoeg geld in die somermaande gemaak het om haar deur die stiller wintermaande te dra nie.

Sy moes al die gastehuise verkoop. En het later haar eie woning in die rykmansbuurte Fresnaye verkoop om na ’n woonstel in Kampsbaai te trek waar sy nou woon.

“Ek het aanvanklik soos ’n totale mislukking gevoel, maar dit was die eerste stap om dinge in my lewe te laat gaan en ligter van lyf en gemoed te word. Ek het nie meer die spanning van gaste, ontbyt maak, personeel, die instandhouding van geboue gehad nie. Ek was vry,” vertel sy.

Sy het begin skryf aan die SwitchBitch-boeke. Die eerste boek wentel om haar transformasie, die tweede een oor haar ervaring in Spanje om die Camino van 460 km oor drie weke te stap.

Die derde boek, waaraan sy nou skryf, gaan oor haar avonture wat haar van volgende week af inwag.

Sy gaan vir 10 dae by haar seun, Alex, in Engeland kuier. Dan gaan stap sy die Portugese Camino van 300 km oor twee weke.

Havana, Kuba, is haar volgende bestemming, waar sy twee weke lank dansklasse gaan neem en dan ’n week skryf oor die ervaring.

Sy wil dit gaan doen in die hotel waar Ernest Hemingway ook geskryf het.

In Buenos Aires, Argentinië, gaan sy weer vir twee weke leer dans en ’n week lank skryf. Sy is vir drie maande weg van die huis. “Dis vreesaanjaend, maar baie meer opwindend,” sê sy.

Chris lewe van die rente van die beleggings wat sy gemaak het nadat sy al haar eiendom verkoop het.

Aan die einde van verlede jaar het sy 'n 27-jarige by ’n dansplek ontmoet – dié wou sommer in 'n stadium met haar trou.

Maar dinge het nie uitgewerk nie en hulle het sedert verlede naweek nie meer kontak met mekaar nie.

Intussen het ’n ander 27-jarige haar onlangs vurig gesoen, Chris se eerste vry in 20 jaar.

“Ag, daar is nog baie 27-jariges,” spot sy. “Ek sien veral uit na Kuba . . . Ek is nie meer so veroordelend, afgeslote, kwaad, uitgesproke nie.

"Ek is meer toeganklik . . . soos met dans, moet ek leer ek kan nie alles beheer nie. Ek moet beheer kan verloor . . .”

  • Vind Chris op Twitter:@Ulmenstein Facebook: Chris von Ulmenstein en Instagram: @Chris_Ulmenstein