Sy is blond, dinamies en maak peperduur handsakke vir Hollywood se rykes en beroemdes. En binnekort is dié Suid-­Afrikaanse boorling dalk Amerika se ambassadeur in haar vaderland.

Maar ’n hofdrama en familie­vete is op haar horison, en omstredenheid in haar verlede.

Lana Marks (65) woon al jare lank in Palm Beach, Florida, nadat sy Suid-­Afrika in die 1970’s verlaat het. Sy is die stigter van die luukse handsakhandelsmerk Lana Marks, en sterre soos Char­lize Theron, Angelina Jolie en Jennifer Aniston het al met haar ontwerpe op die rooitapyt gepronk.

Selfs die geliefde prinses Diana is gereeld met ’n Lana Marks aan die arm gesien.

In 1995 het Lana en prinses Diana mekaar in Washington, D.C., in ’n winkel­sentrum ontmoet en 'n vriendskap het tussen die twee ontwikkel. Foto: Greatstock

Die twee was goeie vriendinne en ’n mens kan vandag nog ’n handsak uit die handelsnaam se eksklusiewe Prinses Diana-reeks kies.

Maar nou lyk dit of Lana haar fokus vir ’n ruk van uitspattige modes na gewig­tige landsake moet verskuif, want pres. Donald Trump van Amerika het haar onlangs vir die Amerikaanse ambassadeurspos in Suid-Afrika benoem.

Amerika het al sedert 2016 nie meer ’n amptelike gesant in Suid-Afrika nie en haar benoeming moet nog deur die Amerikaanse senaat goedgekeur word voor die aanstelling bekragtig kan word.

Pres. Donald Trump het haar pas as ambassadeur ben
Pres. Donald Trump het haar pas as ambassadeur benoem. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit lyk of Lana opgewonde is oor die vooruitsig om na haar geboorteland terug te keer.

“Ek voel geëer om benoem te wees,” vertel sy aan Huisgenoot.

“God seën Amerika, Nkosi Sikelel’ iAfrika,” het sy ook in die sosiale media geskryf.

Maar in teenstelling met haar vrolikheid broei onweerswolke in haar geboorteland.

’n Onaangename hofsaak tussen haar en haar sibbes oor haar ouers se bates van miljoene is besig om in die Graham­stadhooggeregshof te ontvou.

Lana se broer, Malcolm Bank (59), ’n tandarts wat in Israel woon, en suster in Australië, Anne Pogroske (62), beskuldig haar daarvan dat sy haar ouers se woonstel in die Trump Plaza in West Palm Beach, Florida, sonder hul wete in haar naam oorgedra het, berig Sunday Times.

Die woonstel se waarde is glo sowat R14,4 miljoen en hulle voer aan sy het in 2013 ’n hele R2,7 miljoen uit die familie­trust na haar rekening oorgedra.

Die Trump Plaza in West Palm ?Beach, Florida. Foto: Gallo Images/Getty Images

Malcolm en Anne vra die hof moet verklaar hul ma, Blanche (89), wat aan demensie ly en by Malcolm woon, is ongeskik om haar eie sake te behartig.

Hulle vra ook Lana moet as trustee van die familietrust vervang word. Huisgenoot het Lana se kommentaar gevra, maar teen druktyd het sy nie gereageer nie.

Haar prokureur, Allan Lowndes, het laat weet sy kliënt ontken die aantygings ten sterkste en behou haar die reg voor om nie kommentaar te lewer nie. Aan die Sunday Times het sy gesê haar sibbes word deur hul “eie gierigheid en neuroses” gedryf.  

Die familievete is nie al omstredenheid wat om die blondekop hang nie.

Lana sal die vierde lid van die eksklusiewe Mar-a-Lago-klub wees wat Trump as ’n ambassadeur benoem. Trump het die eiendom waarop dié klub in Palm Beach, Florida, gebou is in 1985 gekoop en tot 1995 as ’n privaat woning gebruik.

Die klub is in April daardie jaar gestig en jy moet tot R2,8 miljoen opdok om aan te sluit, die jaarlikse ledegeld is R200 000, en vir aandete betaal jy sowat R30 000.

Net die tyd sal leer of Lana en haar Britse psigiaterman, Neville Marks (79), hul weelderige lewe in Palm Beach vir ’n paar jaar in ons land sal moet prysgee.

Maar met haar luukse ontwerpe wat sy ten duurste verkoop en vriendskappe met mense soos Trump en wyle Diana, sal sy nie gou uit die kollig verdwyn nie.

Lana kom uit ’n welgestelde familie in die kusstad Oos-Londen. Haar pa, wyle Alec Bank, was bekend in die plaaslike Joodse gemeenskap. Alec was ’n sakeman wat ver­skeie eiendomme besit het.

Die gesin het in ’n weelderige buurt op ’n groot erf met ’n tennisbaan en swembad gewoon. Die ruim huis was selfs met ’n fliekteater toegerus.

Alec het glo graag Sondae flieks daar vertoon en kon tot 40 gaste op ’n slag in die teater trakteer.  
Lana was van jongs af ’n tennisspeler en sy het volgens koerantuitknipsels op Instagram in die Suid-Afrikaanse en Franse Ope gespeel.

Dié foto van Lana, met 'n gewapende lid van die weermag as lynregter, het in die International Herald Tribune van 23 November 1979 verskyn. Sy het vir Bermuda in die Hansa internasionale tennistoernooi in Windhoek, Namibië, gespeel. Foto: Instagram (lanamarkshandbags)

Sy het Neville ontmoet terwyl hy in Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal gewerk het, en ná ’n warrelwindromanse is hulle in 1976 getroud. Dit het ’n einde aan haar sake­studie aan die Universiteit van die Witwatersrand gemaak. Hulle is landuit om op die Bermuda-eilande te gaan woon.

Hul eilandverblyf is ook in omstredenheid gehul, want hulle is in 1982 daaraan skuldig bevind dat hulle die immigrasiewetgewing van die land oortree het toe hulle ’n Suid-Afrikaanse kinder­oppasser onwettig in diens geneem het.

Saam met haar man, die psigiater Neville Marks. F
Saam met haar man, die psigiater Neville Marks. Foto: Gallo Images/Getty Images

Al is die skuldigbevinding die volgende jaar op appèl omgekeer, het Bermuda geweier om Neville se werkpermit te hernu en die gesin moes die eiland in 1985 verlaat. Hulle het twee volwasse kinders, Martin Marks en Tiffany Marks Isaacs.

Lana by haar seun, Martin Marks, en dogter, Tiffan
Lana by haar seun, Martin Marks, en dogter, Tiffany Marks Isaacs. Foto: Gallo Images/Getty Images

Lana is daarvoor bekend dat sy haarself goed bemark en vertel op haar web­tuiste hoe haar handsakryk ontstaan het.

Die idee vir haar luukse, eksotiese handelsmerk is gebore toe sy en haar man in 1984 genooi is om koningin Elizabeth se verjaardag op die koninklike seiljag die Britannia by te woon.

“Ek het ’n wonderlike rooi-en-pers uitrusting gehad. Ek het vir my man gesê ek wil graag ’n rooi handsak van krokodilleer hê,” vertel sy in ’n YouTube-­video. Sy het oral gesoek en besef “as ek soek, is daar dalk ander mense ook wat handsakke in helder, eksotiese kleure soek”.

Dit het haar ’n paar jaar geneem om die handsakmaaktegniek te bemeester, maar in 1988 was haar eerste pienk krokodilleersak ’n reusesukses.

Vandag is daar Lana Marks-winkels in Amerika, die Midde-Ooste, China, Hongkong, Engeland, Europa, Singapoer en Siprus. Haar ontwerpe kan jou tussen R37 000 en R278 000 per handsak kos.

In 1995 het Lana en prinses Diana mekaar in Washington, D.C., in ’n winkel­sentrum ontmoet saam met die prinses se vriendin Lucia Flecha de Lima, vrou van die destydse Brasiliaanse ambassadeur in Amerika.

Diana was glo onmiddellik versot op Lana se handsakke en het haar gevra om een vir haar te ontwerp; sy het later 15 gekoop.

Prinses Diana verlaat die Britse longstigting in Hatton Garden met 'n ruiker rose, die eerste wat na haar vernoem is, en 'n handsak wat deur Lana Marks ontwerp is. Foto: Tim Graham/Getty Images

Die twee vroue het ’n hegte band gevorm, en met die 20ste herdenking van Diana se dood verlede jaar het Lana gesê sy was 10 dae voor die prinses se dood veronderstel om saam met haar in Italië te gaan vakansie hou.

“Ons sou ook na die Comomeer toe gegaan het, maar my pa is skielik dood en ek moes die vakansie kanselleer om na my tuisland te reis. Sy het my in Suid-Afrika gebel en ons het ’n kans gehad om te praat, maar ek het sleg gevoel omdat sy op haar eie was en nie geweet het wat om te doen nie.”

Diana is toe saam met haar minnaar, Dodi al-Fayed, Parys toe, waar die motorongeluk haar lewe geëis het.

“Ek was jare lank geskok. Ek voel nog die pyn. Ek dink heeltyd: As sy net by my was, sou dit dalk nooit gebeur het nie.” 

Ambassadeurs: Gaan dit net oor partytjies bywoon en mooi lyk?

’n Ambassadeurspos is ’n senior aanstelling en byna gelykstaande aan ’n ministeriële pos in die kabinet, sê prof. André Duvenhage, politieke kenner van die Noordwes-universiteit.

“Die mens moet ervaring en kennis hê,” sê hy. “Jy moet politieke kennis hê, kennis oor verhoudings tussen die betrokke lande, finansies, en jy moet kan onderhandel.

“Dis gewoonlik iemand van groot statuur en jy skop hulle nie sommer agter enige bos uit nie.”

Gert Grobler, voormalige ambassadeur van Suid-Afrika in onder meer Spanje, Japan en Madagaskar, sê Lana sal haar hande vol hê as sy aangestel word.

“Ons verhouding met Amerika is belangrik en een van haar grootste take sal wees om ekonomiese samewerking te bevorder.

“ ’n Ambassadeur doen eintlik alles. Hulle moet hul land op ’n ekonomiese, politieke, sport- en kulturele vlak verteenwoordig.

“Dan is daar nog die multilaterale verhoudings met die G20 en sy sal moet help bepaal wat Amerika se rol in Afrika is.

“Sy gaan beslis nie net handsakke ronddra en sjampanje drink nie.”

Hy sê haar gebrek aan ’n politieke agtergrond behoort nie ’n krisis te wees nie, solank iemand tweede in bevel is wat wel die nodige kennis het.

Meer oor Mar-a-Lago-benoemdes vir ambassadeursposte

Lana is die vierde lid van die gesogte klub wat deur Donald Trump genomineer is om 'n ambassadeurspos te beklee.

1. Robin Bernstein (65)

Sy is ’n stigterslid van die Mar-a-Lago-klub en is op 3 Julie vanjaar ingesweer as die Amerikaanse ambassadeur vir die Dominikaanse Republiek.

Sy is ’n sakevrou wat haar eie versekeringsmaatskappy in  Florida gehad het. Robin is die tweede vrou om die pos van ambassadeur in die land te beklee ná Donna Hrinac (1994-1997).

Patrik Park (64)

Die pianis, ’n jarelange vriend van Donald Trump en bekend vir sy groot liefde vir die fliek The Sound of Music (hy het dit glo al 75 keer gekyk) het die ambassadeurskap na Oostenryk van die hand gewys vanweë “familieverantwoordelikhede” en Trevor Traina is in sy plek as ambassadeur ingesweer.

Brian Burns (81)

Hy is ’n Iers-Amerikaanse kunsversamelaar, regsman en filantroop, en hy het nee gesê vir die pos van ambassadeur na Ierland. Hy  het gesondheidsredes vir sy besluit aangevoer.


Bronne: palmbeachpost.com, theguardian.com, townandcountrymag.com, vianews

Bronne: Sajr.co.za, Businesslive.co.za, Maralagoclub.com, Palmbeachdailynews.com, Sunday Times, Bermuda-online.org, Khaleejtimes.com, Thesun.co.uk, Dailymaverick.co.za