Vir drie maande het die enkelma geglo haar ridder
Vir drie maande het die enkelma geglo haar ridder op die wit perd se naam is Desmond Newland. Foto: Verskaf

Vir drie maande het die enkelma geglo haar ridder op die wit perd se naam is Desmond Newland.

Jenny Scheepers* (38) van Welkom beweer sy wou verloof raak aan die man saam met wie sy gehoop het om na die Kaap te verhuis en ’n nuwe lewe saam met hom en haar jong seun te begin.

Sy het selfs ná hul ontmoeting einde Februarie haar werk in die versekeringsbedryf gelos.

Maar alles het op Sondag 23 Mei in duie gestort toe die polisie by hul blyplek opgedaag het. Later sou sy uitvind Desmond is eintlik Michal Jacobus Willemans (36), wat op parool uit die tronk is weens diefstal.

Jenny is dieselfde aand in hegtenis geneem. Michal het met net die klere aan sy lyf, sy selfoon en twee pakkies sigarette die hasepad gekies. Sy is glo voor haar kind in hegtenis geneem en moes daarna twee weke agter tralies in ’n gevangenis in Kroonstad deurbring. Huisgenoot weerhou haar regte naam om die identiteit van haar kind te beskerm.

Huisgenoot het vroeër berig Michal is ’n voortvlugtige vermeende glyjakkals wat oor die land heen vir verskeie beweerde misdade gesoek word.

In een van sy beweerde gewetenlose misdade het hy na glo op ’n onderwyseres, Lalie Reynecke (54) van Pretoria, toegeslaan nadat haar regterbeen weens ’n afgryslike infeksie, geamputeer is. Toe steel hy na bewering haar suster, Ina Bower (68), se Lexus-voertuig.

Michal het glo die motor vir R47 000 verkoop met die belofte dat hy vir haar ’n ander motor sou bekom. Maar toe maak hy spore.

In een van Michal Willemans (links) se beweerde mi
In een van Michal Willemans (links) se beweerde misdade het hy na bewering op ’n onderwyseres, Lalie Reynecke (middel) van Pretoria toegeslaan. Foto: Verskaf

Huisgenoot het dié saak by die Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion bevestig, maar daar is nog ’n reeks sake van oor die land heen wat bymekaar getrek moet word. Hy het verskeie vals identiteite gebruik, insluitend Desmond Newland, Michal Meyer, Michael Smit en Dulland Holland.

Intussen vertel Jenny hoe hy haar by sy swendelstreke betrek het en sy nou vir eers alleen in die hof tereg moet staan . . . Sy ontken enige skuld en voer aan sy het nooit geweet die bedrywighede waarmee hy besig is, is glo onwettig en skelm nie.

Maanskyn en rose

Jenny vertel sy het “Desmond” deur ’n gemeenskaplike vriendin ontmoet.

“Hy het toe nog kwansuis in die Kaap gebly en my vriendin sou my soms nader trek wanneer hulle video-call. Ek dink hy het gevoelens vir my vriendin gehad, maar toe dinge nou nie verder met hulle gaan nie, het ek besef ek en hy het tog baie in gemeen.

“My ma is nes syne oorlede. Hy het vertel hy het sy twee kinders in ’n ongeluk verloor. Ek het hom eintlik jammer gekry. Natuurlik sou ek eers later uitvind dit was alles leuens.”

Jenny vertel haar seuntjie het erge aandagafleibaarheidsindroom en is ook op die outismespektrum. Sy was ’n enkelma vir hom toe Desmond op 28 Februarie “van die Kaap” kom kuier het.

Hy het glo met die Intercape-bus daar opgedaag, met net ’n tas by hom.

“Ek het nooit rede gehad om te glo hy steek enigiets weg nie. As jy hom iets gevra het, het hy altyd baie logiese antwoorde gehad.”

Sy vertel hy het gesê hy het ’n paneelklopbesigheid in die Kaap, en wou hê sy en haar kind moes saam met hom terugggaan. Jenny het uit haar werk bedank.

“Maar sy kuier van ’n week het twee geword en toe drie . . . Hy het gesê hy het heelwat sake in Johannesburg wat hy eers moes afhandel.”

Jenny en haar seun het saam met hom na Gauteng gereis en in gastehuise oorgebly.

“Vir my seuntjie was dit ’n groot joyride.”

Hy het onder meer vir haar en haar kind kos en kle
Hy het onder meer vir haar en haar kind kos en klere gekoop. Foto: Verskaf

Intussen het sy verneem van sy “onderneming” om mense se karre te verkoop, ’n “wins” te maak en dan weer vir hulle ’n ander voertuig te bekom.

“Soos ek verstaan het, het hy die voertuie teen kosprys of iets gekry, want hulle is ge-repossess.”

Intussen het hy hulle met sy “wins” bederf deur alles te betaal. Hy het onder meer vir haar en haar kind kos en klere gekoop.

“Ek is nie gepla nie, maar hy het gehou van duur klere. Ek weet hy het ook vir homself egte leerskoene en ’n smart watch gekoop.”

Later, “toe hy sy beursie verloor” en sy rekeninge glo gevries word, het hy haar bankrekening begin gebruik. Sodra geld inbetaal word, het sy die kontant by die bank getrek en vir hom gegee. Sy is dan terug Welkom toe, terwyl hy nog “sake” moes doen.

“Ek het niks daarvan gedink nie, want ek het gedink hy moet net eers sy goed uitsorteer.”

Jenny was daar toe hy glo vir Lalie en haar suster, Ina, ingedoen het.

“Ek het hom elke dag gevra: Wanneer bring hulle nou die tannie se nuwe kar?”

Inhegtenisneming

Die aand van 23 Mei, toe die polisie Desmond in Welkom by hul blyplek kom konfronteer, kon sy nie glo wat sy hoor nie.

“Hulle wou hê hy moes saamkom polisiekantoor toe. Hy was heeltyd buite, glo om met sy prokureur te praat: ‘Ek sal alles uit-sort en hulle verkeerd bewys,’ het hy gesê.”

Maar toe hy verdwyn, het die polisie haar nog dieselfde aand in hegtenis geneem. Sy is eers op 3 Junie op borgtog vrygelaat.

“Ek het twee weke in die tronk geslaap. Maar die ergste vir my is die trauma waardeur my kind is.”

Sy begin huil.

“As my seuntjie my nou nie sien nie, raak hy histeries. Vanoggend voor hy skool toe gaan, toe vra hy: ‘Gaan Mamma nog hier wees as ek terugkom, of gaan Mamma weer tronk toe?’ Dít het my gebreek. Net om te dink my kind moet wonder of sy ma nog daar gaan wees as hy van die skool af kom.”

Sy vertel sy wil net hê dat Michal nou vasgetrek moet word. “Dis ’n nagmerrie wat net nie ophou nie. Ek wil net aangaan met my lewe.”

  • Jenny moet weer op 30 Junie as medepligtige op aanklag van bedrog in die Welkom-landdroshof verskyn, terwyl Michal steeds skoonveld is.
  • Huisgenoot het die saaknommer bekom en die inligting met ’n betroubare bron in die polisie bevestig. Kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng, het vroeër aan Huisgenoot bevestig Michal Willemans word wyd gesoek.
  • Enigiemand met inligting wat tot sy inhegtenisneming kan lei, word gevra om kapt. Yolanda Hulme van Welkom op 071-482-1670 of konst. Neo Mothekhe by 064-039-6968 te bel.

*Skuilnaam

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe