Dit staan onder aanhangers wêreldwyd as “the beautiful game” bekend en nou is die planeet se grootste sportskouspel weer in volle gang.

Ja, die 2018-Wêreldbekersokkertoernooi (WB) in Rusland het afgeskop. En tot die laaste eindfluitjie op 15 Julie blaas, sal al die aksie, drama, vreemde geite en skandes slaafs deur so 3,4 miljard TV-kykers dopgehou word.

Dis die helfte van die wêreldbevolking.

Al het Bafana Bafana nie die toernooi gehaal nie, sal ons hier in Suid-Afrika waarskynlik ook vierkantige kassie-oë ontwikkel.

Die SAUK het onderneem om 44 van die 66 wedstryde regstreeks uit te saai en DStv se SuperSport saai alles uit. Boonop word die wedstryde deur 12 plaaslike radiostasies uitgesaai.

As Rusland se vyf doele teen Saoedi-Arabië se nul in die openingswedstryd van 17 Junie ’n maatstaf was, kom hier sommer groot drama. Die wedders se geld is op Brasilië, maar eers moet hulle verby 31 ander spanne kom.

Maar dit is natuurlik nie net sokker wat die Wêreldbeker so ’n belewenis maak nie; dit wemel ook van aardighede agter die skerms.

Die middelvingerseremonie

In die sosiale media is die openingseremonie in Moskou se Loezjniki-stadion as uiters teleurstellend bestempel.

Dansers in kleurryke sweetpakke en sokkerbal-uitrustings het allesbehalwe byval gevind. En die Britse sanger Robbie Williams se stokou liedjies, soos Let Me Entertain You, was flou.

“Ek weier om te glo dat dit die Wêreldbeker se openingseremonie is. Ek soek Shakira,” het een getwiet.

Robbie Williams. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Daar was nie ’n beter openingseremonie as die een in Suid-Afrika in 2010 nie,” het nog ’n twiet verklaar.

Robbie het vir ’n relletjie gesorg toe hy sy middelvinger vir die kamera wys terwyl die staatshoof, pres. Wladimir Poetin, in die presidensiële losie was.

Die ongeskikte vinger was glo die sanger se reaksie op bespiegeling dat die staatshoof se regime hom met regeringsgeld betaal het om op te tree. “Ek doen dit verniet,” het Robbie teruggekap.

Hoe het júlle hier gekom?

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Dit is dalk yskoud in Ysland, maar die span van dié Wêreldbekernuweling is kookwater op die sokkerveld. Die piepklein land het vanjaar vir die eerste keer gekwalifiseer.

Die Loezjniki-stadion in Moskou, met sy 80 000 sitplekke, het plek vir ’n kwart van Ysland se bevolking van 330 000.

Hul doelwagter, Thór Halldórsson, is boonop een van die land se bekendste rolprentmakers. Dit is ook Panama se eerste keer by die toernooi.

Juan Carlos Varela, hul president, was so ingenome dat hy 11 Oktober, die dag toe die span gekwalifiseer het, tot ’n openbare vakansiedag verklaar het.

Sokkerspelers – of modelle?

Foto: Twitter.

Hul spanfoto lyk kompleet soos ’n Dolce & Gabbana-advertensie. Iran sal waarskynlik nie die WB-trofee huis toe neem nie, maar mense wêreldwyd volg nou die span se doen en late.

Hoekom? Want die manne is super-aantreklik. Een Twitter-gebruiker het geskryf: “Wel, skielik het ek ’n span om voor te skree.”

Nog een wou weet of die span deel is van die Wêreldbeker-sokkertoernooi of dalk eerder die Mnr. Heelal-kompetisie.

Russiese boewe

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Rusland se sokkeraanhangers is nie juis bekend vir hul vreedsame gedrag nie. Die spelers en aanhangers is berug vir hul onbeskaafde optrede en rassistiese uitlatings.

Skeidsregters het selfs in vanjaar se WB die reg om ’n wedstryd te stop of te laat vaar as rassisme of ander diskriminasie voorkom.

Tydens ’n 2016-sokkerwedstryd tussen Rusland en Engeland in Marseilles, Frankryk, het honderde Russiese aanhangers enigiemand wat Engels gelyk het, aangeval en winkels geplunder.

Rusland het georganiseerde “skollieklubs” wat sekere professionele sokkerspanne steun. Hulle reël geheime gevegte teen ander klubskollies in woude waar die polisie hulle nie kan sien nie.

Ka(a)tjie van die baan

Foto: Gallo Images/AFP.

Die dowe huiskat Achilles wat by die Sint Petersburg-museum woon, gaan glo vanjaar deur aanhangers gebruik word om die uitkoms van die Wêreldbeker te voorspel.

Die “psigiese” kat het glo nog net een keer tevore ’n sokkerwedstryd, tydens die Konfederasiebeker verlede jaar, verkeerd voorspel.

Hy is natuurlik nie die eerste diertjie wat kwansuis ’n sokkerprofeet is nie. In 2010 het Paul die seekat, van Engeland, korrek voorspel Spanje sou die toernooi wen. Hy het uit twee bokse met die landsvlae van Spanje en Duitsland daarop die boks met Spanje se vlag gekies.

Achilles sal tussen twee bakkies kos met die vlae van die lande in die eindstryd daarop kies.

Speel in styl

Foto: Gallo Images/Getty Images.

Iran is dalk die sexyste span, maar die Nigeriese span is die stylvolste. Hul tasse is vol ontwerperspakke en hul speeluitrusting lyk soos iets uit Vogue.

Nike het die span se uitrustings vir die veld ontwerp. Drie uur nadat die retro-uitrustings in Februarie in Nike-winkels vir Nigeriese ondersteuners beskikbaar gemaak is, was dit uitverkoop.

Spring maar in die kooi; hou dit net vervelig

Duitsland, Spanje, Mexiko en Chili se afrigters het hul spelers verbied om seks tydens die WB te hê. Volgens dié afrigters is dit ’n mors van die spelers se energie en ’n afleiding.

Brasilië se afrigter het sy spelers die groen lig gegee vir seks, maar verbied om “akrobatiese” seks te hê.

Maar dit keer nie die aanhangers nie. Nege maande ná die Wêreldbeker in 2006 in Duitsland het die land se geboortesyfer met 10% toegeneem.

Suid-Afrika se geboortesyfer het glo ook nege maande ná die groot sokker hier toegeneem.

Kitsfeite

  • Die wenspan kry sowat R471 miljoen, die naaswenners R337 miljoen en elke deelnemende span R108 miljoen by Fifa.
  • Dit kos Rusland R162 miljard om die WB aan te bied. Hulle het nege van die 12 stadions (twee in Moskou) nuut gebou.
  • Die amptelike gelukbringer, die wolf Zabiwaka, is die handewerk van ’n grafiese ontwerpstudent, Ekaterina Botsjarowa.
  • Die wenspan kry nooit die regte Fifa-wêreldbeker nie. Sodra die wenspan met die trofee op die veld poseer het, kry hulle ’n goedkoper replika.

Die Wags

Die Wêreldbeker het geen tekort aan Wags, oftewel spelers se “wives and girlfriends”, wat hul sokkerstermaats vanuit die paviljoene aanspoor nie.

Hier is ’n lys van die mooiste Wags by vanjaar se toernooi.

Georgina Rodriguez (24), meisie van Cristiano Ronaldo (33, Portugal). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Perrie Edwards (24), meisie van Alex Oxlade-Chamberlain (24, Engeland). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Ruby Mae (23), model en meisie van Dele Alli (22, Engeland). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Ekaterina Akinfeeva (31), vrou van Igor Akinfeev (32, Rusland). Foto: Facebook.
Sara Salamo (26), aktrise en meisie van Isco (26) (Spanje). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Han Hye-jin (36), vrou van Ki Sungyueng (29, Suid-Korea). Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hou, hart, hou!

Vir dié wat nie ’n benul het wat op die veld aangaan nie, is daar g’n tekort aan mooi mans om na te kyk nie.

Hier is die sexyste sterre by die toernooi.

Yann Sommer (29) van Switserland. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Nacer Chadli (28) van België. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Thorgan Hazard (25) van België. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Brasilië se Philippe Coutinho (26). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Duitsland se Mats Hummels (29). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Brasilië se Neymar jr. (26). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Engeland se Dele Alli (22). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Portugal se André Silva (22). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Iran se Ramin Rezaeian (28). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Senegal se Keita Baldé Diao (23). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Nigerië se William Troost-Ekong (24). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Tunisië se Fakhreddine Ben Youssef (26). Foto: Gallo Images/Getty Images.