Aqeelah en Tanweer Regal van Athlone, Kaapstad, sou op 21 Junie hul troue hou. Maar toe die inperking van 21 dae in Suid-Afrika afgekondig word en ’n verlenging daarna, het die verloofdes oorweeg om hul planne uit te stel.   

In ’n gesprek met ons sustertydskrif YOU vertel die twee hoe hulle later die slim idee van ’n verbyrytroue gekry het, wat hulle ook ’n paar rand help spaar het.

“Ons het sewe jaar gelede deur ’n familievriend ontmoet,” sê Aqeelah (22) aan YOU. Hulle was eers goeie vriende toe Aqeelah nog op hoërskool was en op haar studies wou fokus. 

In 2016 het hulle amptelik begin uitgaan en in November 2019 verloof geraak. ’n Behoorlike plegtigheid met 600 gaste is vir 21 Junie vanjaar beplan.

“Eers was ons veronderstel om hierdie groot troue in ’n saal te hê. Dit was voor corona en voor die inperking begin het en was ons aanvanklike plan,” vertel Aqeelah.

Aqeelah en Tanweer Regal
Die pasgetroude paartjie. Foto: Verskaf

“Maar toe wou party van ons gaste nie met foto’s tevrede wees nie. Hulle het besluit hulle wou ons op die dag sien en dis hoe die idee vir ’n verbyrytroue ontstaan het.” 

Dit was twee dae voor 21 Junie dat hulle besluit het om op ’n ongewone manier hul planne vir hul groot dag voort te sit. Maar in die ure daarna het hulle voor ’n uitdaging te staan gekom.  

“My buurman wat kanker gehad het, is die vorige aand oorlede en ons was bekommerd ons verbyrytroue-tyd sou met sy begrafnis bots,” sê Tanweer (23) aan YOU

“Gelukkig het ons bedagsame bure. Ons het ons medelye aan hulle gaan betoon en dit was toe dat hulle vir ons sê hulle het die begrafnis na ’n vroeër tyd verskuif. Ons was so gelukkig.” 

Die bruid het ’n elegante wit rok, bypassende kopserp en sluier gedra met ’n blink masker daarby. Haar bruidegom was in ’n swart pak uitgevat en het ’n bypassende masker gedra. Die troue is in hul motorhuis gehou. 

“Ons het beplan om ’n verhoog in die inrit te hê, maar dit het so te sê begin reën, toe skuif ons eerder na ons motorhuis,” verduidelik Tanweer.

Aqeelah en Tanweer Regal
Aqeelah en Tanweer Regal Foto: Verskaf

“Ek het vir vier jaar gewag en was baie opgewonde,” sê hy oor hul groot dag. “Dit was steeds baie lekker, want ons het ons naby familie in hul motors laat verbyry,” sê die pasgetroude Aqeelah.

Die verbyrytroue het vanaf 12:30 in Surrey Estate plaasgevind en teen 13:15 was hul intieme plegtigheid afgehandel.

 Nadat hulle mekaar die jawoord gegee het, het die egpaar met ’n sambreel in die hand buite gestaan om met hul trouklere te spog, geskenke te ontvang en hul gaste met kosbakkies te bedank. 

“Ons het almal gevra om asseblief by die inperkingreëls te hou en in hul motors te bly. Neem jou foto, kry jou bakkie kos en hou aan ry om vir ander plek te maak,” vertel die egpaar. 

“Elke enkele mens het iets gekry,” voeg die verheugde bruidegom by. 

Hulle het eers vir 600 gaste begroot wat R150 per kop sou kos. “Ons het ons kostes besnoei na amper niks nie vergeleke met wat ons sou betaal het,” vertel Tanweer. 

Terwyl Aqeelah nou ’n vierdejaarstudent in siviele ingenieurswese is, en Tanweer ’n bestuurder vir sekuriteitsondernemings, sien die pasgetroudes daarna uit om ná die inperking na hul eie huis te trek. 

“Hy is baie sorgsaam en is altyd daar om iemand anders te help . . . Dis een van die goed waarvan ek die meeste van hom hou,” sê Aqeelah van haar man. 

“Sy het die meeste geduld vir my en sy verstaan die soort mens wat ek is . . . Sy is baie beleefd,” antwoord Tanweer.