Die grootoog meisiekind wat verlede jaar aan haar melk verstik het by haar dagmoeder in Mbombela toon volgens haar ouers verbetering. 

Verna Mulder, Mienke se ma, het bevestig die oogarts sê haar jongste dogtertjie kan iets sien.

“Omdat sy nog so jonk is, kan hy nog nie vir ons sê wat Mienke kan sien nie, maar sy kan wel iets sien,” sê Mienke se ma. 

Baba Mienke het Dinsdag goeie nuus by die oogarts gekry.

Nadat Mienke verstik het, het sy meer as 15 minute lank nie asem gehaal nie. Dokters het vir haar ouers gesê sy sal nooit kan sien, hoor, loop of eet nie.

Ryno, haar pa, sê hulle glo sy kan hoor, want sy reageer op klanke, en Dinsdag het hulle die goeie nuus oor haar oë gekry. 

“Die dokter het gesê daar is vorme van brein aktiwiteit, so haar oë en haar brein kommunikeer met mekaar, en dis wat ek wou hoor. Ek kan werk met dit. Dis iets en dis goed genoeg vir nou,” het hy aan Huisgenoot.com gesê.

Baba Mienke is gestremd gelaat na sy aan haar melk verstik het.

Volgens hom toon Mienke vordering. “Sy word sterker; sy tel haar koppie al meer op.”  

Mienke het nou ’n voorskrifbril gekry omdat haar een ogie bietjie swakker is.

“Dankie Heer dat ons Mienke-pop kan sien! Ek weet wanneer sy weer teruggaan ná ses weke, gaan die dokter sommer heeltemal verstom staan oor hoe haar ogies verbeter het,” het Verna op Facebook geskryf. 

Verna en hul drie dogters woon die afgelope paar maande weer in Benoni sodat hulle naby aan Mienke se dokters en terapie kan wees, terwyl Ryno in Mbombela gebly het. Elke naweek het hy na Benoni gery om vir sy gesin te gaan kuier.

Nou is Ryno gelukkig nader aan sy gesin. “Ek het ’n oorplasing Witbank toe gekry, so ek ry daagliks, maar kan darem by die huis slaap,” sê hy.