Die afgelope week was ’n mengelmoes van emosies vir die 13-jarige meisie van Welkom wat al byna twee jaar vir ’n nieroorplanting wag. 

Maar hopelik is die gewag nou verby en sal Larochelle Steenberg eindelik in Oktober ’n nier, wat haar ma, Lisa skenk, ontvang. 

Vroeg Vrydagoggend het Lisa op die Gebeds groepie spesiaal vir Larochelle, ’n nuwe datum vir haar operasie aangekondig. 

“Hallo julle almal. Nuwe datum 18 Oktober,” het die mamma geskryf. 

Die 13-jarige Larochelle Steenberg wag al twee jaar vir 'n nieroorplanting operasie. Foto: Facebook.

’n Chroniese niersiekte is reeds in 2015 by Larochelle gediagnoseer en haar niere werk tans net teen sowat vyf persent. 

Lisa het verlede jaar November uitgevind dat sy ’n geskikte skenker vir haar siek dogtertjie is. Eers moes Lisa gewig verloor. Sy het ongeveer 60kg in totaal afgeskud. Maar sedertdien is die operasie drie keer uitgestel. 

Lisa het Woensdag op die Gebeds groepie spesiaal vir Larochelle geskryf die nieroorplanting, wat op 13 September sou plaasvind, vir die soveelste keer uitgestel is. 

“My kind bars in trane uit vandag omdat sy weet vandag sou alles verander het. Vandag sou die groot dag gewees het. My hart breek vir my kind,” het Lisa Woensdag op die Facebook-blad geskryf. 

“Ja my vrou en kinders, vandag die tyd sou ons lewe bietjie beter gewees het. Ek weet jy is al moeg vir dialise doen elke dag my vrou en ek weet jy is ook moeg van siek wees my kind. Ek is net so siek van worry’s maar nog steeds kyk ek op na God, wat my elke dag krag gee om ’n dak oor julle koppe te gee en sê dankie vir als wat Hy na ons toekom.

"Hou net vas ek weet dis hartseer maar God sal ons hierdeur dra, hulle sê mos elke donker wolk het n silwer rand, ons is naby een van die dae is ons daar byt net vas,” het Larochelle se pa, Donald Plekker op die blad gesê.