Je-Ani Swiegelaar as die karakter Annatjie “Vleis” de Vries in die toneelstuk Sê my naam soos ‘n Starbucks Knaap. (Foto: PictureCafé)
Oud en jonk kuier by die kosstalletjies. (Foto: PictureCafé)
Feesgangers by die feesterrein op die Bult. (Foto: PictureCafé)

Vandag (Woensdag) is daar reeds meer mense op die terrein as in dieselfde tyd verlede jaar, sê Delmari van Zyl, feeskoördineerder.

Sowat 30% meer kaartjies as verlede jaar is ook reeds verkoop.

Delmari sê dit is moeilik om te voorspel hoeveel mense uiteindelik die fees gaan bywoon, maar gegrond op kaartjieverkope wil dit lyk of sowat 70 000 mense verwag kan word.

Van die gewildste produksies is Koöperasiestories (gegrond op PG du Plessis se gewilde verhale), Drie van die Bestes (met Danie Niehaus, Mathys Roets en Kevin Leo) en Pa maak vir My ’n Vlieër, Pa (Chris Barnard se internasionaal gerekende teaterstuk).

Die produksie PG: ’n Lewe Vol . . . , is net so gewild. Van ons voorste kunstenaars kom in hierdie opvoering bymekaar om hulde te bring aan die bekroonde dramaturg en storieverteller PG du Plessis.

Om in die vraag na kaartjies te voorsien, is daar nou inderhaas meer plekke beskikbaar gestel in die Beeld-ouditorium vir die eenmalige vertoning Saterdagaand.

Mense wat dit wil bywoon, sal moet gou spring vir kaartjies, waarsku Delmari.

Verblyf is skaars soos hoendertande, maar laatslapers kan by verblyf@aardklop.co.za aanklop om moontlik gehelp te word.