Voel jy angstig wanneer jy vir ’n oomblik opgestaan het en nie jou foon by jou het nie? Of wanneer jy saam met vriende kuier en besef daar het meer as ’n uur verbygegaan dat jy nie na daardie glimmende skerm gekyk het nie? 

Foto: Pexels

Indien wel, is jy beslis nie die enigste een nie. Daar is selfs mense wat so verknog is aan hul foon dat hulle erken hulle kyk daarna gedurende seks.

Die bevinding het aan die lig gekom in ’n onlangse peiling wat gedoen is deur die internasionale maatskappy iPass, wat internettoegang op koordlose toestelle verskaf.

Die peiling is onder 1 700 professionele mense in Noord-Amerika en Europa gedoen en het bevind dat 7% van mense uit die groep na hulle foon kyk gedurende omgang.

Foto: Pexels

Altesaam 72% doen dit wanneer hulle op die toilet is en 11% het erken dat hulle hul foon sal nagaan in ’n begrafnisdiens. Daarby het 62% van die deelnemers gesê hulle voel angstig wanneer hulle nie aan WiFi verbind is nie.

“Jy mag dalk angstig voel op ’n eerste afspraak of gedurende ’n groot voorlegging, maar dit lyk asof die eenvoudige moontlikheid dat jy sonder WiFi kan wees, genoeg is om mense oor die randjie te stoot,” se Patricia Hume van iPass.

“As daar ooit enige twyfel was, bewys ons verslag dat sosiale etiket iets van die verlede is wanneer dit kom by die gebruik van slimfone. Tegnologie en slimfone het ’n integrale deel van ons lewe geword – soveel so dat daar geen scenario oor is waar mense nie hulle foon sal nagaan nie. Verder verwag hulle ook dat hulle aan WiFi verbind moet wees wanneer hulle dit doen.”

Die verslag het ook bevind dat 23% van die deelnemers WiFi sal kies bo noodsaaklike daaglikse aktiwiteite soos om te bad en te stort, en 19% kies dit bo menslike kontak. 

Foto: Pexels

Altesaam 61% sê dit is “onmoontlik” of “baie moeilik” om WiFi op te gee, meer as seks (58%), kitskos (42%), rook (41%), alkohol (33%) of dwelms (31%).