Pieter Visagie soos hy vandag lyk.

Pieter Visagie (24), 'n rekenmeester van Volksrust in Mpumalanga, het altyd gedink hy sal nooit maer wees of gemaklik kan leef nie. Maar nadat hy sy lewe soos handomkeer verander het, wil hy vandag vir ander mense wat ook met 'n gewigsprobleem worstel, sê niks is onmoontlik nie.

As skoolseun aan die Hoërskool Volksrust was hy reeds die groot een wat uitgestaan het onder die res, vertel Pieter.

“Daar is altyd met my gespot en vir my gelag. Dit het veroorsaak dat ek nie eintlik gesosialiseer het nie en dus amper geen vriende gehad het nie.”

Ná skool het dinge net erger gegaan. “Ek het my afgesonder in my gemaksone van in die kantoor en in my huis wees met die lieflike kos wat my gemaklik laat voel het byderhand.”

In daardie tyd het hy nooit ontbyt of middagete geëet nie, maar wanneer hy saans by die huis kom, het hy sommer twee of drie borde gemorskos verorber wat hy met 'n liter gaskoeldrank afgesluk het.

 “Ek het vier jaar lank 'n ongesonde leefstyl gehad, 'n oormaat van kos, die lewe van 'n kluisenaar en 'n skaal wat op 190 kg gestaan het. In my kas het 7XL-hempde en nr. 54-broeke gehang.”

Pieter het destyds 7XL-hempde gedra.

Weens sy gewig het hy die senuwees in sy linkervoet beseer, waarvoor die dokter hom met 'n pynstiller behandel het.

Die dokter het, sonder om doekies om te draai, vir hom gesê hy sal nooit 30 haal as hy met sy leefstyl aanhou nie.

Hy het groot geskrik en besef dat hy sy lewe in orde moet kry, onthou Pieter daardie dag in Oktober 2016. “Ek was moeg vir moeg en uitasem wees en die ongemaklikheid om in die publiek gesien te word.”

Pieter het met die dieëtplan, Lean Again, begin. Dit behels onder meer dat sy voedselinname beperk is tot net 90 g vleis en 90 g groente wat hy twee keer per dag mag eet. Hy het ook vitamien- en proteïenaanvullings gedrink.

Vandag, 15 maande later, weeg hy 95 kg en het hy sy oorgroot klere verruil vir 'n L-hemp en 'n nr. 38-broek.

Hy het ook intussen by die gimnasium aangesluit.

Dit is onbeskryflik hoe een mens se lewe in 15 maande kan verander, beskryf Pieter sy reis. “Ek wil graag vir ander mense 'n inspirasie wees met die boodskap dat niks onmoontlik is nie. Jy moet net self besluit om jou kopskuif te maak.”

Pieter (links) in sy groter dae. Saam met hom is sy ouers, Sandra en Roelf, en broer Rudi.