En dit het alles met ’n onskuldige hoofpyn begin. 

“Op 10 Januarie het Hanru gekla hy het hoofpyn en ek het vir hom hoofpynpille gegee. Hy het die afgelope paar maande soms oor hoofpyn gekla, maar ek het nie veel daarvan gedink nie. Toe begin hy opgooi, en ons jaag toe met hom Waterfall-hospitaal toe, want hy was deurmekaar en kon net nie ophou opgooi nie,” vertel sy ma, Lizette Pienaar (46). 

Die dokters het eers gedink hy het breinvliesontsteking. 

“Hulle het gesien sy witbloedtelling is baie hoog al was sy infeksietelling nul. Toe doen hulle ’n scan en sien hy het bloeding op sy brein. Ons het nie ’n mediese fonds nie en die dokters probeer hom toe oorplaas na ’n staatshospitaal, maar hulle kon nie vir hom ’n bed kry nie weens Covid-19,” sê Lizette. 

Lizette se suster het die R150 000 wat die hospitaal geëis het om Hanru te behandel, betaal. 

“Die dokters het toe op ’n scan gesien daar is ’n gewas langs sy nier. Hulle glo dié gewas druk van die are toe wat sy bloeddruk verhoog, die hoofpyne veroorsaak het en toe tot die bloeding in sy brein gelei het,” vertel sy. 

Lizette glo egter die een ná die ander ingryping van God het plaasgevind. 

“Een van die dokters by die hospitaal het ingestem om Hanru verniet te behandel. Familie en vriende het geld geskenk, en Hanru kan nou nét hier in dié hospitaal behandel word.

“Dinsdag het Hanru ’n beroerte gehad en dokters het vir my gesê my besige seuntjie gaan aan die linkerkant van sy lyf verlam wees, maar toe hulle hom wakker maak uit sedasie, het hy nes altyd gesukkel om stil te sit,” vertel Lizette. 

Hanru het dié video maande voor sy hospitalisasie opgeneem. Hierin bid hy vir sy medemens en doen ’n oproep op mense om te bid.

Dokters het dié week twee gaatjies in Hanru se skedel gemaak en dreineringspype in gesit om die bloeding op sy brein te verwyder. 

“Hy gaan Sondag in om die niergewas te verwyder. Ons weet nog nie of dit kanker is nie, maar ons glo en vertrou dit sal nie wees nie.”

Hanru, ’n voormalige leerling van Laerskool Lynnwood, is ’n kranige hokkiespeler.

Hanru (links) saam sy ma Lizette en ouboet Lian va
Hanru (links) saam sy ma, Lizette, en ouboet, Lian van Deventer. Foto: Verskaf

“Hy is ongelooflik besig. Hy is baie spontaan en praat ons ore gewoonlik van ons kop af. Hy is gek oor perde en poetse bak. Hy het net vandag gesê: ‘Mamma ek is nou moeg gelê soos julle vir my sê ek moet lê, ek wil opstaan,’ maar hy moet maar nog ’n bietjie stil lê tot sy operasie Sondag.”

Lizette sê dit gaan hulle ’n verdere R1 miljoen kos om Hanru se gewas te verwyder. 

“Ek het vanoggend daai papiere geteken, maar ek weet die Here sal voorsien. Hy het nog altyd. Ons het ’n Facebook-blad begin om mense op hoogte te hou van Hanru, dis Hanru’s Miracle,” sê sy. 

Lizette, ’n verkoopsbeampte, het verlede jaar weens die pandemie haar vaste inkomste verloor, en sy en Hanru woon nou by haar suster in Midrand. 

“Ek wil vir ander ma’s sê om ag daarop te slaan as jou kind van hoofpyne kla maar dokters sê tog hulle sou nie maklik die gewas gevind het as iemand net hoofpyn het nie . . . maar ’n mens wonder tog,” sê sy en sug. 

“Ons is so dankbaar vir almal se hulp. Hopelik stap Hanru een van die dae by sy nuwe skool se hekke in,” sê sy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe