Irma Sánchez Albarrán (50) en haar dogter, Nayeli Morales Sanchez (26), was saam met talle feesgangers in Panjamo op 'n meganiese pretrit wat in Mexico as die “el rosticero” bekendstaan, 'n gondel wat meer as 10 m die lug in rondswaai.

Op die video kan gille van ekstase en angs gehoor word elke keer dat die gondel waarin hulle sit, eers na die een kant en dan na die ander swaai, net om kort voor dit geheel en al in die ronde draai, terug te tuimel.

Maar toe verander die frekwensie van die gille, toe dié op die gondel se gille vermeng met dié van die toeskouers op die grond, wat moes toekyk hoe die veiligheidstaaf wat die insittendes in posisie moes hou, oopswaai.

Irma tuimel na benede, gevolg deur Nayeli. Die twee het ongeveer 10 m ver geval.

Irma is op die toneel dood verklaar, terwyl Nayeli luidens berigte nog in ’n kritieke toestand in die hospitaal is.

’n Emosionele Misael, Irma se jongste seun, het die honderde vriende en familielede wat haar begrafnis bygewoon het, in trane toegespreek. Met verwysing na die pretrit-apparate wat tot sy ma se dood gelei het, het hy gesê dit is teleurstellend dat "gemors" altyd na hul gemeenskap gestuur word.

Hy soek ook antwoorde oor wat presies op daardie noodlottige pretrit skeefgeloop het.

WAARSKUWING: VIDEO'S MAG SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL

Bronne: am.com.mx, dailymail.co.uk, mirror.co.uk