Om weer op afsprake te gaan was vir Morgan Deane nie maklik nie. “ ’n Ervaring, eerder as ’n suksesverhaal,” beskryf sy dit in haar blog The Green Girl’s Guide to Divorce.

“Jason was my ongemaklikste verhouding wat nooit begin het nie. Hy was vuurwarm en wonderlik vir ’n baie kort rukkie.”

In die inskrywing wat sy in Augustus gemaak het, vertel die voormalige vrou van die krieketheld Graeme Smith hoe sy in haar motor sit en wag vir die man wat sy op die toe-oë-afspraak moes ontmoet.

“Ek het in die skaduwee onder ’n groot eikeboom gesit, die straatlig het die groefies tussen my wenkbroue verlig terwyl ek senuagtig aan die binnekant van my wang kou. My kop het vinnig van links na regs beweeg terwyl ek gewonder het: ‘Gaan hierdie ou so groot soos ’n reus wees of ’n klein mannetjie wat in twee gesaag is’? Ek was steeds nie seker of ek die moed sou hê om uit my motor te klim nie.”

Dit was ’n jaar sedert sy en Graeme uitmekaar is en sy was toe nog nie op een afspraak nie. “Ek was op ’n punt waar ek dringend afleiding nodig gehad het.”

If I ever drop my head down it will only be to admire my shoes ???? #weheartit

A post shared by Morgan Deane (@morgandeane) on

Die jong man was baie aantreklik, maar jonk, vertel Morgan. “Ek het hom gegroet en gedink: ‘Nie sleg nie, Morgan, glad nie sleg nie.’ Hy was lank en vol selfvertroue. Hy was aangenaam. As ek regverdig moet wees, het hy my help vergeet van my nimmereindigende pyn van die knaende egskeiding, wat in daardie stadium sterk aan die gang was.”

Die eerste uur van die afspraak was gewoon, brei sy dan uit. Sy moes eers vir die knaap vertel wat verkeerd gegaan het in haar huwelik en dit was amper asof sy hom moes oortuig sy is oor haar eks. “Ek het gedoen waarmee ek die beste is. Wawiele. Nee wag, verkeerde storie. Ek het vir ons tequilas bestel.”

??????

A post shared by Morgan Deane (@morgandeane) on

Die eerste paar afsprake waarop hulle gegaan het, was pret, sê Morgan. “Ek onthou toe ons soen het dit regtig goed gevoel. Ek het sulke hoë verwagtings gehad.” Tot sy saam met hom huis toe gegaan het en besef die jong man is eintlik presies dit. Baie jonk. En dat hy nie die leefstyl lei waaraan sy gewoond is nie.

“In die kamer was ’n bed. Eintlik was die hele plek so groot soos ’n bed. Die toilet was letterlik langs die voordeur, wat langs die stoof was, wat langs die eenmanrusbank was met die kussing daarop wat so geplaas is dat ’n besoeker dadelik die laggende daggaplant kan sien wat daarop gedruk is.” 

A post shared by Morgan Deane (@morgandeane) on

Sy erken sy was op ’n hele paar afsprake saam met Jason uit en al was hy baie mooi om na te kyk, was hul denke en idees ligjare verwyder.

En al het haar eerste probeerslag om weer iemand te ontmoet, misluk, het dinge daarna momentum gekry, verklap sy. “Die storie eindig nie hier nie; my reis het net begin. Ek was optimisties en heeltemal onbewus dat ek op die punt was om ’n grys area te betree wat bekend is as ‘The Dating Twylight Zone’. Ons gaan nog tequilas nodig hê, garçon/seun . . . of bring dalk sommer die hele bottel.”