Dit is 20 Augustus 2018, die eerste dag van Greta Thunberg se skoolstaking om teen die klimaatskrisis te betoog, en haar ouers is bekommerd. Nie oor die reaksie wat sy ontlok terwyl sy alleen met haar plakkaat buite die Sweedse parlement staan nie; hulle is bekommerd oor hoeveel van die bone en pasta in haar kosblik sy sou eet.

Hulle wil bitter graag hê sy moet alles opeet, maar hulle weet dis onwaarskynlik. Want ondanks Greta (nou 17) se invloed sedert daardie eerste oggend toe sy op haar fiets geklim en parlement toe gery het, was die veldtog vir zero uitlaatgasse wêreldwyd nog altyd vir haar ouers ondergeskik aan hul begeerte dat hul kind weer gesond moes wees.

Dié boodskap klink hard en duidelik op in die gesin se memoires, Our House Is on Fire: Scenes of a Family and a Planet in Crisis. (Die opbrengs word vir liefdadigheid geskenk.) Die boek is nou vir die eerste keer in Engels uitgegee.

In November 2014 is Greta in die Sachsska-kinderhospitaal opgeneem. Sy was toe 11. Dit was nadat die noodeenheid van die Stockholm-sentrum vir eetsteurings bevind het sy toon tekens van verhongering. Haar bloeddruk en polsslag het skerp gedaal. Verwardheid, depressie en aspergersindroom, wat toe nog nie by haar gediagnoseer is nie, het haar laat ophou eet.

Sy het twee maande lank sonder kos gebly voor sy besef het sy sal moet eet, andersins sal sy in die hospitaal beland. Greta het “in ’n donkerte verdwyn”, vertel haar ouers, Malena Ernman en Svante Thunberg.

Op skool is sy geboelie. Sy het ophou lag en klavier speel. Sy het heeltyd gehuil – snags wanneer sy moes slaap, by die skool, in die klas en tydens pouses. Nie net het sy geweier om te eet nie; sy het ook geweier om skool toe te gaan.

Sy het selektief stom geword en nie haar stem buite die huis gebruik nie. Dis veral ’n kommerwekkende newe-effek van haar siekte, met dié dat haar kragtige stem van haar die wêreldfiguur gemaak het wat sy vandag is.

Voor die sindroom eindelik gediagnoseer is, was sy verlore. Die gesin was verlore. Hul lewe saam – soos uit die titel van die boek blyk – was besig om in te plof.

Haar kosinname is opgeteken. Lyste is gemaak van die soort kosse waarna sy moes “streef” om te eet – gnocchi, rys, avokado. Die minute en ure wat dit haar geneem het om piepklein hoeveelhede kos in te neem, is getel en aangeteken. Ook hoeveel keer sy gekou het.

Te midde van dit alles het Greta ál meer in die klimaat begin belangstel. Met ’n helderheid en doelgerigtheid kenmerkend van mense op die outismespektrum kon sy nie verstaan hoekom die wêreld nie op die dringende behoefte aan die zero vrystelling van koolstofdioksied reageer nie.

Dit was ’n verpletterende tyd vir haar gesin – haar ma, ’n operasangeres, het ’n senu-ineenstorting gehad en weens stres en kommer oor Greta tydens ’n uitvoering op die verhoog inmekaargesak. Sy het medikasie vir depressie gebruik.

Hul huis was metafories aan die brand, maar so ook die wêreld, soos Greta besig was om te ontdek. Die gebrek aan optrede om die klimaatskrisis die hoof te bied het haar skynbaar ’n rede gegee om soggens op te staan.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
Greta vroeër vandeesmaand in Brussel, België, waar sy by ’n omgewingsberaad ’n toespraak gelewer het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar vir haar ma en pa het die omgewingsveldtog nooit die swaarste geweeg nie; eerder die feit dat dit haar skynbaar weer gelukkig maak – of eintlik dat dit haar aan die lewe hou.

Sedert daardie eerste staking het Greta die Amerikaanse president, Donald Trump, getakel, na New York gevaar om by die Verenigde Nasies se klimaatspitsberaad te praat, is sy as die tydskrif Time se persoon van die jaar aangewys en het Greta ’n toespraak by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos gelewer.

Wêreldleiers luister na haar of, in Trump se geval, word verplig om na haar te luister, al is hy hoe ergerlik oor die mag van haar stem wat sy oor die klimaatskrisis laat hoor.

Maar in die aanloop tot haar eerste skoolstaking was haar ouers baie bekommerd oor hoe haar boodskap ontvang sou word. Om haar op enige mediabelangstelling voor te berei, het Greta vir haar pa gesê: “Ondervra my asof jy een van hulle is.”

Greta noem asperger-sindroom haar superkrag. Dit help haar die syfers ontleed, die wetenskap vereenvoudig, steun werf en by kinders oral in die wêreld aanklank vind.

Svante het haar gevra: “Het jou ouers jou opgesteek? Jy gaan dié vraag heeltyd kry.”

“Dan sal ek hulle die waarheid vertel,” was haar antwoord. “Ek is die een wat julle beïnvloed en nie andersom nie.”

In die dae ná die verstommende sukses van haar eerste skoolstaking het die gesin dieselfde kritiek gehoor: dat Greta ’n spreekbuis is vir “iemand, ’n reklame-agentskap”, vertel haar ma.

Want hoe, aan die standaarde van haar kritici gemeet, kon dié onbeholpe tiener uit vrye wil optree? Hoe kon sy ’n kitssukses wees met net ’n handgeverfde plakkaat wat lui “Skolstrejk för klimatet” (skooltaking vir klimaat), ’n Instagramrekening en ’n foto van ’n ysbeer om haar boodskap oor te dra?

Die onderstroming van die kritiek was duidelik: Tieners is jonk en onervare; daarom het hulle ’n gebrek aan mag en oortuiging. Haar ouers kon dit alles maklik ignoreer omdat hulle so verlig was oor die positiewe veranderings wat hulle by hul dogter gesien het.

“Ek beloof jou enige ouer wie se kind ’n hele paar jaar nie met mense gepraat het nie en wat net ’n paar kosse op ’n handjievol voorafbepaalde plekke kon eet, sal bly wees om daardie komplikasies te sien verdwyn,” sê Malena. “Ek beloof dat jy as ouer die verandering as uiters positief sal beskou. Byna soos ’n sprokie. Soos towerkrag.”

In die tyd van die eerste staking in 2018 het Greta se pa gesien hoe sy wegneemnoedels by ’n ondersteuner aanvaar. Sy het die boks geneem, soos altyd aan die kos geruik, maar pleks van dit weggooi, het sy stadig ’n bietjie daarvan met ’n vurk na haar mond gebring.

Eers een vurk vol, toe die volgende, toe die volgende – tot alles op was. Dit was ’n wonderwerk. Svante was verstom. Dit was die eerste duidelike teken dat dinge besig was om te verander. Soos haar ma verduidelik: “Daar is skynbaar geen uiterlike perk nie. Selfs as ons haar probeer terughou, hou sy net aan.”

Greta by haar pa, Svante Thunberg.

Greta noem asperger-sindroom haar superkrag. Dit help haar die probleem duidelik “sien”. Dit help haar die syfers ontleed, die wetenskap vereenvoudig, steun werf en by kinders oral in die wêreld aanklank vind.

“Wanneer sy na die wêreld kyk, is dit asof sy die koolstofmolekules sien wat uit motors en vliegtuie vrygestel word, die besoedeling van al die ander bronne,” sê prof. Simon Baron-Cohen van die Sentrum vir Outismenavorsing in Cambridge, Engeland.

“Sy tel dit soos sy voorheen kilojoules getel het. Daar is geen botsende belange, politieke party of belanghebbende agter haar nie. Sy verteenwoordig hierdie onafhanklike stem, en dít is deel van haar krag.”

Haar diagnose is vir haar voordelig eerder as ’n soort gestremdheid, soos haar kritici dit dalk wil voorhou. Dit gee haar besonderse vaardighede – ’n byna obsessiewe taaiheid en fokus. Maar dit was nie altyd so nie. Voor die sindroom eindelik gediagnoseer is, was sy verlore. Die gesin was verlore. Hul lewe saam – soos uit die titel van die boek blyk – was besig om in te plof.

Greta se emosionele en fisieke uitdagings het op 11 jaar begin toe sy pre-adolessensie bereik. Dit het lank geneem voor die sindroom by haar gediagnoseer is, soos wat dikwels die geval is met meisies op die spektrum.

As enigiets die gesin meer definieer as die veldtog teen die klimaatskrisis, is dit dat ’n verskillende toestand elk by Greta, haar suster, Beata (15), en onlangs ook hul ma gediagnoseer is wat óf met die outismespektrum oorvleuel óf daarop val. Aandaggebrekhiperaktiwiteitsteuring (AGHS) is op 45 by Malena gediagnoseer.

Greta se emosionele en eetprobleme het begin op wat as die tipiese tyd vir meisies op die spektrum beskou word. Die verwardheid wat hulle ervaar maar lank kon verbloem, bereik ’n kritieke punt wanneer hul liggaam begin verander – iets skrikwekkends vir ’n meisie met outisme.

 Foto: Gallo Images/Getty Images
By haar ma, Malena Ernman, ’n opera­sangeres. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daarby werk die “nabootsing” van gedrag op die speelterrein nie meer nie – die manier waarop hulle dit voorheen “weggesteek het” dat hulle anders as ander kinders is. Die verskille tussen hulle en die ander word dus dan duidelik.

In Greta se geval kon sy nie op sogenaamde “normale maniere” sosialiseer nie en boelies het haar in die visier gekry – soos met vele meisies soos sy gebeur.

Sy is openlik op die speelterrein uitgelag en rondgestamp. Pouses het sy huilend in die meisietoilette weggekruip. Kort ná die afknouery het sy haar begin uithonger. Dit het vir Greta ’n manier geword om die omgewing om haar te probeer beheer.

“Die hormoonveranderings laat die liggaamsvorm verander,” sê Simon.

“En vir ’n outistiese mens wat nie van verandering hou nie, is die veranderings aan haar liggaam buite beheer. Dié mens probeer eintlik die wêreld bestuur, want outistiese mense wil baie beheer uitoefen.”

In die jare voor Greta se diagnose het die gesin in ’n Volvo V70 propvol poppe, teddiebere en driewiele deur Europa getoer. Malena het as ’n operasangeres opgetree en Svante het na die kinders gekyk. Die somers het hulle in Glyndebourne (Engeland), Salzburg (Oostenryk) en Aix-en-Provence (Frankryk) deurgebring.

Die res van die jaar het die meisies Berlyn, Parys, Amsterdam en Barcelona besoek. Die gesin het nie vriende gehad nie en geen familie buiten ’n ouma nie. Hulle het net mekaar gehad, en volgens Greta se ma was dit genoeg. “Ons daaglikse lewe was soos niemand anders s’n nie,” vertel sy.

“Dit was wonderlik.” Maar toe Greta ophou eet, is die towerspel verbreek. Hulle het haar gesmeek om te eet, vertel haar ma. Hulle het geskree, gesoebat, gehuil en haar op elke denkbare manier probeer omkoop. Al taktiek wat gewerk het, was om elke krieseltjie kos neer te skryf wat sy inneem. Een kosdagboekinskrywing lui: “Middagete: 5 gnocchi. Tyd: 2 uur en 10 minute.”

Greta het paniekaanvalle begin kry, saam met wat Malena onthou as: “ ’n Geween wat 40 minute lank aangehou het. Ons het haar nie hoor skree sedert sy ’n baba was nie.” Voor Greta se diagnose het haar ma elke siekte moontlik nagevors, van anoreksie, ’n glutenallergie en urienweginfeksies tot neuropsigiatriese diagnoses. ’n Skoolsielkundige het eerste vermoed dis “hoogs funksionerende aspergersindroom”.

Net toe die lewe vir die gesin begin verbeter, met ’n diagnose vir Greta en ’n eetplan wat werk (sy kon toe steeds net ’n paar dinge eet wat op ’n spesiale manier berei is), is hulle in 2016 deur ’n nuwe krisis in die gesig gestaar. Greta se suster, Beata (toe 10), het ook ernstige emosionele probleme begin ervaar. Dit was asof “die ontploffing op presies dieselfde oomblik ontketen is”, vertel hul ma.

“Sy het ineengestort. Sy kon dit nie meer verduur om by ons te wees nie.”

Eenkeer het Beata DVD’s uit ’n boekrak by die spiraaltrap afgesmyt tot in die kombuis en vir haar ma geskree: “Jou bleddie f***** teef! Jy gee net vir Greta om. Nooit vir my nie. Jy is die slegste verdomde ma ter wêreld.”

Malena sê: “Dis baie moeiliker om ná die tweede hou staande te bly. Nou het jou jongste dogter ekstra sorg nodig. Greta se ineenstorting was dalk ernstiger, want sy het ophou eet, maar hierdie ervaring is op ’n ander manier pynlik.”

Die gesin moes opnuut ’n krisis hanteer, net met ’n ander kind. Die somer van 2016 klink soos loutere hel: Beata kon geen geluid verduur wat die gesin maak nie, selfs dié van hul asemhaling. Die geringste geluid het ’n uitbarsting veroorsaak.

Enige voorstel vir ’n gesinsaktiwiteit is begroet met: “Bly stil, jou f***** idioot.” Hulle het hul kos op plastiekborde in ’n gastekamer geëet sodat sy hulle nie sou hoor nie. En in die somer het twee stelle bure terselfdertyd met opknappingswerk begin. Rusies in die gesin het elkeen met krapmerke aan die gesig gelaat.

“Te midde van dit alles het ons ’n afspraak by ’n psigiatriese eenheid vir kinders en adolessente gekry. Ek het in die spreekkamer inmekaargesak omdat ek nie kom asem kry nie,” vertel Malena.

Antidepressante en kalmeermiddels is vir haar voorgeskryf. Jy kan jou skaars voorstel dat sy kon deurdruk, en sy erken sy kon nie. Soms het sy, weens chroniese moegheid en depressie, in die bed gelê – nie in staat om te beweeg nie – met haar kop vol van die soort gedagtes wat sy weet sy nie behoort te hê nie.

“Ons skree. Ons krap. Ons hamer teen mure. Ons stoei. Ons huil. Ons verduur,” onthou sy. “Maar stelselmatig kom ’n nuwe insig, en daarmee saam begin Beata se reis.”

Greta se pa is ’n ingetoë man; dus kan jy jou dit beswaarlik voorstel dat hy in die openbaar sal ineenstort. Maar in die herfs van 2016 het hy onophoudelik oor Beata begin huil. Hy en Malena het toe pas by ’n dokter gehoor Beata het dalk 90% AGHS, 60% outisme, 50% opposisioneel-opstandige gedragsteuring of 70% obsessief-kompulsiewe steuring (OKS). “Maar dis steeds geen ware diagnose nie,” het die dokter vir hulle gesê.

“Jy moet haar help,” het Svante huilend gesoebat. Sy vrou vertel hy het daardie frase oor en oor herhaal – vreesbevange dat hulle op die punt was om ’n tweede dogter te verloor net nadat hulle die eerste gered het.

Greta by haar jonger suster, Beata. Beata het aanv
Greta by haar jonger suster, Beata. Beata het aanvanklik met Greta se nuutgevonde roem gesukkel.

Eindelik is AGHS met elemente van aspergersindroom, OKS en opposisioneel-opstandige gedragsteuring by Beata gediagnoseer. En met medikasie en prosedures het die gesin begin probeer om hul lewe te laat werk. Soms kan hulle nie almal saam onder een dak woon nie.

“Elkeen van ons neem ’n kind en ons woon op verskillende plekke. Alle gesinne het ’n held. Beata is ons s’n. Toe Greta op haar slegste gevoel het, was dit Beata wat ’n paar treë teruggestaan en op haar eie reggekom het. As sy dit nie gedoen het nie, sou niks gewerk het nie.”

Dinge het so beduidend vir Beata, ’n talentvolle sangeres, verbeter dat sy later vanjaar saam met haar ma in ’n nuwe musiekspel oor die Franse sangeres Édith Piaf in Stockholm sal optree.

Beata kerf nou vir haar ’n loopbaan as sangeres ui
Beata kerf nou vir haar ’n loopbaan as sangeres uit en gaan eersdaags saam met haar ma in ’n musiekspel oor Édith Piaf optree.

In ’n deel van Our House Is on Fire bevraagteken Malena die besluit om so ’n openhartige boek oor die gesin se inploffing te skryf – “uitgebrande mense op ’n uitgebrande planeet”. Dit is in Swede uitgegee voor Greta ’n wêreldwye aktivis geword het. Toe was Malena as ’n operasangeres nog die bekende een in die gesin; nie haar dogter nie. “Ek behoort nie ’n boek te geskryf het oor hoe ek gevoel het nie,” sê sy.

“Ek behoort nie ’n boek te geskryf het oor hoe my gesin die afgelope paar jaar gevoel het nie. Maar ek moes net. Want ons het aaklig gevoel. Ek het aaklig gevoel. Svante het aaklig gevoel. Die kinders het aaklig gevoel. Die planeet het aaklig gevoel.

“En ons moes daaroor skryf. Saam. Want toe ons eers besef hoekom ons gevoel het soos ons gevoel het, het ons begin herstel.”

Greta het nie begin beter word net omdat daar eindelik vir haar gesê is dis oukei om te wees wie sy is nie; sy het begin beter word omdat sy toegelaat is om te wees wie sy is. Dit het beteken sy kon beheer oor haar eie lewe uitoefen, en dít op haar eie manier, nes ons elke dag sien sedert sy ’n sê oor die toekoms van ons planeet gekry het.

Our House Is on Fire: Scenes of a Family and a Pl
Our House Is on Fire: Scenes of a Family and a Planet in Crisis deur Malena en Beata Ernman en Svante en Greta Thunberg. Uitgegee deur Allen Lane,
© Louise Carpenter/THE TIMES MAGAZINE/ News LicensingGALLO IMAGES/AFP, Gallo Images/Getty Images, Facebook/malena ernman