Gretha Wiid het ouma geword. Sy verwag dat mense v
Gretha Wiid het ouma geword. Sy verwag dat mense veroordelend gaan wees omdat haar kleindogter buite die eg gebore is, maar vir haar is Milah “volmaak”. Foto: Gallo Images/Lubabalo Lesolle

Sy is ’n piepklein bondeltjie met ’n welige bos donker hare en ’n mondjie wat graag lag – en haar ouma se oogappel.

Stap jy by die voordeur in van die huis in Montana Tuine, Pretoria, hoor jy hoe Gretha Wiid liefderik vir die kleinding vra: “Wie is die mooiste?” Haar stemtoon is speels. “En wie is die per­fekste?”

Dan antwoord die trotse ouma self: “Jý is!”

Vir die bekende motiveringspreker is haar eerste kleinkind volmaak – al is die meisietjie met ’n bilaterale gesplete lippie en verhemelte gebore.

Dis klein Milah – maar pas twee maande oud.

En ja, haar koms is nét blye tyding, al verwag Gretha (48) saam met die vreugde oor haar eerste kleinkind dat daar ook beskuldigende vingers na haar gewys sal word.

“Hulle sal seker sê: ‘Kyk, nou het haar eie kind ’n baba buite die eg gehad,’ ” sê sy met ’n weemoedige laggie.

Gretha het haar immers nog altyd in haar bediening en by die huweliks­ver­rykingseminare en tienerkampe wat sy aanbied sterk teen voorhuwelikse seks uitgespreek. En nou is die oudste van haar vier dogters, Giano, op 23 ’n enkelma nadat haar verhouding met klein Milah se pa, Sharl Oosthuizen, beëindig is.

Hy is die broer van die internet- en televisiester en voormalige Survivor-deelnemer Katinka Oosthuizen.

“Het my kind ’n fout gemaak? Ja, sy het,” sê Gretha ernstig. Dan verduidelik sy: “Ek gaan nooit buite-egtelike seks goedpraat nie. Ek glo in die huwelik, ongeag die seer van my eie.

“Maar een ding weet ek seker: Milah is by haar naam geroep, want net God kan lewe skep. Hy is nie verras deur haar koms nie.”

Met haar geboorte op 13 September was Milah ’n volle 50 cm lank; ’n langeraat nes haar mooie ma en ouma, al is sy vyf weke te vroeg gebore en het sy net 2,6 kg geweeg.

“Is sy nie die mooiste dingetjie wat jy nóg gesien het nie?” vra Gretha in verwondering oor haar kleinkind.

‘Moederskap was vir my die lekkerste ding, en nou
‘Moederskap was vir my die lekkerste ding, en nou is ouma-­wees ook.’ Foto: Gallo Images/Lubabalo Lesolle

“En Ouma kan nie ophou soene uitdeel nie,” sê sy en los ’n afdruk van haar perskekleurige lipstiffie op Milah se voetjies.

Daar is dieselfde verwondering in haar oë wanneer sy na Milah se ma kyk. Ook op Giano is sy trots.

“Dit vat guts vir enige meisie om haar ma te bel met sulke nuus,” sê sy oor die oproep in Februarie toe sy gehoor het haar oudste dogter is swanger. “Jy weet daar gaan ’n klomp skindertonge wees; jy weet daar gaan veroordeling vir jou wees. Nogtans het Giano opgestaan en besluit om nie weg te kruip nie, maar om die wêreld in die oë te kyk.”

Dit kan maar kom, sê Gretha, daardie klippe waarmee sy verwag om bestook te word omdat haar eie familielewe nou anders uitspeel as die boodskap wat sy altyd verkondig. Sy staan in elk geval “kaal gestroop” voor mense.

“Daar is min klippe oor waarmee ek gegooi kan word. Ek besef net weer – veral ná Milah se geboorte – hoeveel mooier die wêreld sou gewees het as ons almal net ’n bietjie meer genade gehad het.

“Maar selfs al het jy nie, en selfs al wil jy ’n vinger wys, staan een ding vas: Milah is dalk buite die eg gebore, maar nie buite God se plan nie. En ek is incredibly trots op my dogter.”

’n Ouma? Sý? Dis die een rol waarin ’n mens Gretha nog nie gesien het nie. En ’n rol wat sy self gedink het sy nie gou sou vertolk nie . . .

Milah is op 36 weke vroeg gebore, maar was reeds 5
Milah is op 36 weke vroeg gebore, maar was reeds 50 cm lank – uit die staanspoor ’n langeraat, nes haar ma en ouma. En sy het met geboorte 2,6 kg geweeg. Foto: Gallo Images/Lubabalo Lesolle

“Maar hoe mooi klink dit nie?” wil sy weet. “Ouma Gretha. Ek is mal daaroor.”

Milah se ma het haar pas gevoer. Ons moet gou-gou foto’s neem, sê haar ouma, want Giano is op pad na ’n dokters­afspraak waar die plaatjie wat die baba se verhemelte bedek, verstel sal word.

Die kleinding het nuwe vreugde gebring in die huis waar Gretha die afgelope twee jaar deur diep waters is. Eers het haar eie huwelik op die rotse geloop ná onthullings dat haar man, Francois, herhaaldelik aan haar ontrou was, en toe die nuus dat hulle gaan skei.

Ook hul vier dogters is diep geraak.

“Ek wil nie verskonings vir my kind maak nie, maar ek dink nie mense besef hoe swaar kinders kry as hul ouers om die verkeerde redes in die media is nie,” sê Gretha. “Daar was baie woede en rebellie. Ek het dit verstaan.”

Haar dogters was, soos baie ander kinders wie se ouers op skei staan, nie gevrywaar van die “vraagstukke oor wat volgende” nie.

“My meisiekinders het almal baie seer gehad. Dit was te verstane. Ek het gesien hoe Giano skielik verkeerde keuses maak, alles uit rebellie en verwonding. Ek het die Here gevra: ‘Ongeag van waar U haar met haar verwonding lei, vra ek net hierdie dinge: Laat sy nie met haar siel betaal of met haar lewe boet nie.’ ”

Giano het in daardie tyd op Mosselbaai in die Wes-Kaap gaan woon.

“Daar is hierdie persepsie oor meisies wat jonk en ongetroud swanger raak, soos dat hulle drink en goedkoop is. My Giano het foute gehad, maar dit was sy nooit,” benadruk haar ma.

Net voor die begin van die inperking het Gretha die oproep uit Mosselbaai gekry. “Sy het my gebel en net gesê: ‘Mamma.’ Toe ek haar stem hoor, het ek geweet. Ek het vir haar gesê sy moet huis toe kom; dis ál wat vir my belangrik was.”

Sy het toegesien dat Giano, wat nie tans ’n werk het nie, ’n woonstel naby haar ouerhuis kry.

“Ek wou hê sy moes ’n waardige swangerskap hê, ongeag haar fout. Sy weet hoe die Here voel oor die huwelik; sy ken die implikasies van haar besluit. My doel was om seker te maak dat sy nie voel asof sy vir die wêreld moet wegkruip omdat sy ’n fout gemaak het nie. En sy het nie. Sy het die hele situasie met grace gedra.”

Sy sal nooit “buite-­egtelike seks goedpraat nie”,
Sy sal nooit “buite-­egtelike seks goedpraat nie”, sê Gretha. Maar hieroor is sy ferm: Klein Milah se lewe het ’n doel, want God het haar geroep. Foto: Gallo Images/Lubabalo Lesolle

As motiveringspreker het sy al dikwels gesien hoe foute “jong mense se identiteit en waardigheid steel”, vertel Gretha. Haar dogter sou nié dieselfde pad stap nie, nie as dit van haar afhang nie.

“Ek het al beleef hoe shame jong mense van hul waardigheid beroof. Hoe hulle hulself oortuig hulle is nie goed genoeg nie, dat hulle hul roeping misgeloop het, dat hulle nie die wêreld in die oë kan kyk nie. Ek sal nie toelaat dat ’n fout my kind so oor haarself laat dink nie.”

Want al gaan haar bediening oor die belangrikheid van die huwelik, het haar dogter se eie reis haar opnuut laat besef: God is altyd teenwoordig.

“God maak nie foute nie,” sê Gretha. “Daarom is klein Milah nie ’n glips nie, want God is nie daartoe in staat om glipse te maak nie. Haar lewe het ’n doel, want God het haar geroep.

“Dis vir my nog altyd belangrik dat mense wat buite die eg gebore is, of kinders buite die eg het, moet weet God het hulle ook lief en het hulle beplan – en by die naam geroep.”

Ek kan verstaan as ouers wat nie met hul kinders ’n pad oor seks en keuses gestap het nie, voel asof daar meer was wat hulle kon gedoen het.

Haar dogter het nie ’n maklike swangerskap gehad nie, vertel Gretha.

“Ag, ek wil nie op die detail daarvan ingaan nie,” keer sy. “Sy was baie alleen, soos enige enkelma sou wees.”

Al was dit vir haar ’n skok dat Giano swanger is, was daar geen verwyte nie, ook nie selfverwyt nie. “Ek kan verstaan as ouers wat nie met hul kinders ’n pad oor seks en keuses gestap het nie, voel asof daar meer was wat hulle kon gedoen het. Maar Giano het die waarheid geken. In dié huis skroom ons nie vir reguit praat nie.”

Sy en haar dogter het die pad saam gestap. Die uiteinde was dat hul verhouding nog hegter geraak het.
Sy besef dit het moed van Giano geverg om met haar oop kaarte oor haar swangerskap te speel.

Gretha is skielik emosioneel.

“Jy weet, die wrede waarheid is dat sy bloot kon besluit het om nie die ding te face nie. Sy kon haar swangerskap beëindig het sonder om ooit vir my daarvan te vertel. Sy was op Mosselbaai, sy kon gemaak het asof sy verpligtings daar het en nie huis toe kan kom nie, en dan bloot vir Milah laat aanneem het.

“Sy kon selfs haar lewe beëindig het – ek werk met hierdie dinge; ek beleef dit elke dag. Maar sy het nie.”

Al was sy eensaam tydens haar swangerskap, was Giano opgewonde oor die koms van haar dogtertjie, vertel Gretha.

Ek was in die teater toe sy gebore is. Hoe amazing is dit. En wat nóg meer amazing is, is dat die ginekoloog wat Milah in die wêreld gebring het Giano ook gevang het.

Sy was op ’n vrouekamp by La’Wiida Lodge in Centurion toe die geboortedag onverwags aanbreek.

Oh, what a day!” sê Gretha en lag weer vrolik.

“Ons het nie verwag dat Giano toe al in kraam sou gaan nie omdat sy toe maar 36 weke swanger was,” onthou sy oor die oproep op 13 September. “Maar toe sy met die nuus bel, het ek net daar na die ou geloop wat die praise en worship gelei het en vir hom gesê: ‘Jy het dit nie geweet nie, maar jy lei vandag die konferensie – ek gaan nou ’n ouma word.’ ”

Sy het haar na ’n hospitaal in die ooste van Pretoria gehaas waar ’n keisersnee onmiddellik uitgevoer is.

“Ek was in die teater toe sy gebore is. Hoe amazing is dit,” sê Gretha stralend. “En wat nóg meer amazing is, is dat die ginekoloog wat Milah in die wêreld gebring het Giano ook gevang het.”

Die naam Milah het Giano al lank voor haar dogter se geboorte vir haar gekies. “Dit beteken gracious one,” sê Gretha.

Eers ná die geboorte het die dokters haar geboortedefek ontdek.

“Hulle kon niks op die sonars sien tydens haar swangerskap nie,” vertel sy. “Ag, dit was maar ’n groot skok vir ’n jong, nuwe mamma. Maar ná die aanvanklike skok het dit nie meer saak gemaak nie. Sy is die mooiste, grootste geskenk wat ons al ooit van die Here gekry het. Sy is beeldskoon.”

Dokters het die gesplete verhemelte nou tydelik met ’n plaatjie bedek, maar die kleinding sal in die volgende paar maande ’n “paar operasies” moet ondergaan om dit reg te stel. Weens die gesplete verhemelte kan haar mondjie nie ’n vakuum vorm sodat sy kan suig nie.

Daarom kan Giano haar nie borsvoed nie. Milah kry haar voedings uit ’n spe­siale bottel.

“Milah moet elke drie uur gevoed word; dus kan jy jou indink hoe min slaap die jong ma inkry,” vertel Gretha.

Moederskap was vir my die lekkerste ding, en nou is ouma-wees ook. Ek het meer selfsugtig geraak met my tyd.

En die ouma?

“Nee, die ouma slaap heerlik. Ek sê jou mos ek was slim; ons het vir Giano haar eie woonstel gekry.”

Sy lag.

“Dis vir my die mooiste ding ooit om te sien hoe Giano as mamma ontwikkel. Moederskap was vir my die lekkerste ding, en nou is ouma-wees ook. Ek het meer selfsugtig geraak met my tyd. As ek nie lank van haar wil weg wees nie, sê ek: ‘Ag, ek is jammer, ek kan nie nou dit of dat doen nie; my kleinkind is op my skoot.’ Dit werk soos ’n bom.”

Storietyd is vir dié ouma die lekkerste.

“Ek kan ure aaneen vir haar stories vertel, soos oor Kedoemsie,” sê Gretha. Dit is “ ’n baie lelike boelie” wat in bababottels bly en babas laat hik.

Sy lag hardop oor dié karaktertjie wat sy in haar verbeelding opgetower het.

“Sien jy nou wat het ouma-wees aan my gedoen? Maar ek is gek daaroor.”

My kinders is nie gevrywaar van foute omdat ek doen wat ek doen nie. Ek ook nie.

“Anderdag bel Giano my en sê sy is so moeg dat sy nie meer haar oë kan oophou nie. Ek het haar gevra om haar foon op luidspreker te sit en toe vir Milah stories begin vertel – oor die reën, die wind en oor olifante. Toe ek later vir Giano vra of ek maar kan aflui, is albei vas aan die slaap. Dis ’n groot vreugde.”

Terwyl dit eintlik nou ’n blomseisoen is in haar familie se lewe, is die ergste vir Gretha om te dink aan die veroordeling wat waarskynlik weer op haar pad sal kom.  

“Ek sien al klaar die vrae: ‘Hoe kon jou kind daai fout maak? Jy is dan Gretha.’ ”

Maar hier in haar huis, omring deur haar geliefdes, is sy net “ma”, sê sy. “My kinders is nie gevrywaar van foute omdat ek doen wat ek doen nie. Ek ook nie.

“My dogter se swangerskap en Milah se geboorte het nie net fisieke uitdagings gehad nie, maar ook emosionele uitdagings. Ek weet dat Milah se pappa ook deel van God se plan is. Dit bring uit die aard van die saak ’n eiesoortige spanning, maar ek weet dat albei families net die beste vir Milah wil hê.”

As mense kies om Milah as ’n slaanstok te gebruik om na my bediening of na my kinders te kap, weet ek daardie slaanstok sê meer van hulle as wat dit van ons sê.

Die Wiids en die Oosthuizens moet nog “’ n pad stap om verhoudings in Milah se lewe te bewerkstellig”, sê Gretha.

Ja, sy is bewus van kommentaar in die sosiale media oor die stram verhouding tussen die twee families ná die verbrokkeling van Giano en Sharl se verhouding.

“Ek het nog altyd geglo dat die sosiale media net een kant van ’n saak stel en dat die eintlike waarheid – God se waarheid – met tyd sigbaar raak. Die punt is dat ons almal lief is vir Milah.”

Maar nou wil sy eers net daarop fokus om ’n ouma te wees vir haar kleinkind en ’n ondersteunende ma vir haar dogter – of ander haar nou wil veroordeel of nie.

“Eindelik het ek dit op die hart: As mense kies om Milah as ’n slaanstok te gebruik om na my bediening of na my kinders te kap, weet ek daardie slaanstok sê meer van hulle as wat dit van ons sê.

“God het vir ons hierdie geskenkie gegee – sy is beeldskoon en volmaak, en niks anders maak regtig saak nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe