Toe haar agent 14 jaar gelede vir haar die draaiboek van ’n nuwe TV-reeks in die hand stop, was sy allesbehalwe opgewonde.

“Ek gaan nie vyf jaar lank by ’n mediese reeks vashaak nie. Is jy mal? Ek’s ’n aktrise,” was Ellen Pompeo se ontstoke reaksie.

Sy wou immers ’n rolprentster wees, nie ’n kassiekoningin nie. Maar sy was so desperaat om haar huurgeld te betaal dat sy tog maar ’n oudisie afgelê het. Toe slaan sy die rol van dr. Meredith Grey los.

En kyk net nou!

Vandag is sy ’n huishoudelike naam en multimiljoenêr danksy dié gewilde reeks waarvan die 14de seisoen nou op M-Net uitgesaai word.

Ellen (48) het onlangs ’n nuwe kontrak met ’n jaarlikse salaris van meer as R240 miljoen – dis R6,9 miljoen per episode! – beklink om in nog twee seisoene van die trefferreeks te verskyn. Dit maak van haar die bes betaalde aktrise in ’n dramareeks.

Ellen beweer haar ­gewese medester Patrick Dempsey het meer as sy verdien, al is sy die ster van die reeks. Die netwerk het hulle glo teen mekaar afgespeel.

Maar sy moes hard baklei vir die vet salaris wat sy nou kry en haar stem vir vroueregte dik maak, het sy onlangs aan die tydskrif The Hollywood Reporter vertel.

Bloed, sweet en geen trane!

Toe Grey’s Anatomy in 2005 begin, is sy glo net $200 per episode betaal. En haar gewese medester Patrick Dempsey (52), oftewel McDreamy, het toe meer as sy – die hoofspeler – verdien.

Patrick se karakter, die aantreklike neurochirurg Derek Shepherd, het in April 2015 ná ’n motorongeluk gesterf.

Daar word gefluister dat Ellen glo met Shonda Rhimes (48), die skepper van die reeks, saamgewerk het om haar TV-wederhelf die trekpas te gee.

Shonda Rhimes, skepper van die reeks, staan vierkant agter Ellen.

Dit het haar glo nie aangestaan dat Patrick, ’n getroude man, luidens gerugte die kat in die donker geknyp het met ’n jonger vrou op die stel nie.

Tydens salarisonderhandelings met die TV-netwerk ABC wou Patrick nie saam met haar om een tafel sit nie, het Ellen verder aan The Hollywood Reporter vertel.

“Die netwerk het boonop die houding gehad van: ‘Ons het jou nie nodig nie; ons het Patrick,’ ” sê sy.

“In ’n stadium het ek uit beginsel $5 000 meer as hy gevra, want die reeks is Grey’s Anatomy en ek is Meredith Grey. Maar hulle wou dit nie vir my gee nie.”

Tog het dit haar nie die hasepad laat kies nie.

“Dis my program; ek is die nommer een. Ek is seker ek het soos baie ander aktrises gevoel: Hoekom moet ek wegstap van ’n wonderlike rol as gevolg van ’n ou? Ek gaan nie toelaat dat ’n ou my uit my eie huis dryf nie.”

Patrick het skaars die reeks verlaat toe ’n nuwe man aangestel word: Martin Henderson (43) in die rol van dr. Nathan Riggs. Hy is verlede Oktober stil-stil by Grey’s weg.

Ellen het daarna besluit dis tyd dat sy haar stem verhef oor geslagsongelykheid by die werk wat salarisse betref. Grey’s Anatomy het immers byna R36 biljoen vir Disney laat inrol terwyl sy die gesig en stem van die reeks is, sê sy.

“Enigeen kan goed wees in die eerste en tweede seisoen van ’n program,” laat sy hoor.

“Kan jy 14 jaar later goed wees? Dis nou vir jou talent.”

Talle Hollywoodsterre het Ellen geloof omdat sy so sterk standpunt inneem.

“Ek het baie respek vir @EllenPompeo,” het die TV-aanbieder Catt Sadler (43) getwiet. Sy het onlangs by E! News bedank toe sy uitvind sy verdien minder as haar manlike medeaanbieder, Jason Kennedy (36).

“#KenJouWaarde. Dit gaan nie net oor dollar-note nie,” het Catt bygevoeg.

“Ek hoop al die netwerke en ateljees luister,” het die Will & Grace-ster Debra Messing (49) getwiet.

Ook Grey’s se hoofskrywer, Shonda, wat agter trefferreekse soos The Fixer en How to Get Away with Murder sit, het getwiet: “Almal moet dié artikel lees. @EllenPompeo skop gat.”

Ellen se pad na sterstatus was nie maklik nie. Sy is in die stad Everett in Massachusetts gebore en was net vyf toe haar ma, Kathleen, weens ’n oordosis pynstillers dood is.

“Ek kom uit ’n Katolieke Iers-Italiaanse gesin, en dit was iets waaroor mense nie gepraat het nie,” het Ellen, die jongste van ses kinders, al aan die tydskrif Allure vertel.

“Dit is nooit regtig verwerk nie.”

Haar pa, Joseph, ’n verkoopsman by ’n tabakmaatskappy, het gou daarna weer getrou. Hy het haar aangespoor om haar drome na te streef, vertel Ellen van haar pa, wat ses jaar gelede oorlede is. Op 19 het Ellen besluit sy wil toneelspeel. Intussen het sy modelwerk begin doen.

“Ek het nie regtig daarvan gehou nie,” bieg sy.

Sy het in 1995 saam met ’n kêrel New York toe getrek. ’n Jaar later het ’n rolverdelingsregisseur haar raakgesien terwyl sy as kroegmeisie gewerk het. Sy het in advertensies begin verskyn en dieselfde jaar nog haar TV-debuut in ’n episode van Law & Order gemaak.

Eers in 2002 het sy ’n deurbraak gemaak toe sy in die fliek Moonlight Mile Jake Gyllenhaal se meisie gespeel het. Sy was toe 33 en hy ’n onbekende 21-jarige akteur.

Skielik het dit gelyk asof geleenthede wink. Maar twee jaar later het die rolle begin opdroog en sy het noodgedwonge die rol van dr. Meredith Grey aanvaar. Sedertdien het dié karakter diep in kykers se hart ingekruip en is die reeks een van die gewildstes op die kassie.

Deur die jare het Ellen die soet en die suur van roem ervaar. Sy is al as ’n diva uitgekryt en in die verlede is al gegis dat sy ’n eetsteuring het, maar sy het dit ontken.

Ellen is nou gewild onder jonk en oud en selfs onder ander glansmense. Die popsangeres Taylor Swift (28) is so ’n groot aanhanger van Grey’s Anatomy dat sy haar kat Meredith gedoop het. Drie jaar gelede het Ellen gesig gewys in ’n musiekvideo vir Taytay se liedjie Bad Blood.

Terwyl haar karakter al talle liefdesteleurstellings beleef het, gaan dit klopdisselboom met Ellen se eie liefdeslewe.

Sy het haar eie “McDreamy” aan haar sy: die musiekvervaardiger Chris Ivery (50), met wie sy al 11 jaar getroud is. Hulle het mekaar in 2003 in ’n kruidenierswarewinkel in Los Angeles ontmoet.

Saam met haar eie McDreamy, haar man, Chris Ivery, en hul oudste spruit, Stella, in 2014 by ’n basketbalwedstryd.

Vier jaar later het hulle stil-stil in New York afgehaak – sonder ’n enkele gas by hul troue. Hulle het twee dogters, Stella (8) en Sienna (3), en ’n babaseun, Eli (13 maande). Hul middelkind is met ’n surrogaat se hulp in die lewe gebring.

Sy en haar man besit talle eiendomme, maar woon nou in die spogbuurt Los Feliz in Los Angeles in ’n Mediterreense villa wat in 1930 gebou is. Onder hul bure tel Hollywoodsterre soos Angelina Jolie en Natalie Portman.

Ellen leef voluit.

“Ek dink omdat my ma op so ’n baie jong ouderdom gesterf het – 33 – waardeer ek die lewe soveel meer,” sê sy.

Sy bly fiks en gesond deur vroegoggend onder meer op ’n trapmeul te oefen en twee keer per dag 20 minute lank te mediteer, het sy al vertel. Al ry sy nou op die kruin van die suksesgolf, is dit vir haar “aaklig” om haarself op TV te sien ouer word.

“Om eerlik te wees, dit is die moeilikste deel van my werk,” sê sy.

“Maar hoe ouer ’n mens word, hoe meer besef jy die lewe gaan nie oor jou voorkoms nie. Almal word ouer en dis oukei.” 

Ellen in syfers


5 Met soveel pryse is Ellen Pompeo al vir haar rol as dr. Meredith Grey bekroon. Daaronder tel ’n People’s Choice-prys vir gunstelingaktrise in ’n TV-drama.
302 episodes van die reeks is al uitgesaai.
4,4 miljoen aanhangers op Instagram.
R240 miljoen per jaar as salaris vir Grey’s Anatomy.
Bronne: vanityfair.com, thehollywoodreporter.com, dailymail.com, people.com, wikipedia.org, theinneractor.com, wetpant.com, usmagazine.com, architecturaldirect.com, heavy.com, parents.com, ew.com, buzzfeed.com, woman.com, fame10.com; Foto's: Gallo Images/Getty Images