Pasop vir koedoes en beeste op pad plaas toe, waarsku ’n dorpenaar vooraf. En groot klippe wat bande kan sny. Die pad neem ’n mens verby die outydse huise op die dorp en kronkel dan grondpad verder. Eers verby die klein begraafplaas op regterhand; ’n ent verder verby die munisipale vullisplek.

En dan, ná sowat 10 km deur die vredige landskap waarin bruin klipkoppies boggelrug maak bo groen plate soetdoringbome, sien jy die groot bord langs die grondpad: Naauwhoek. Onder die plaasnaam, soos ’n gewete uit die graf, staan: Deon Steenkamp.

Maar die naambord is bedrieglik, want Deon is nie meer die baas van die plaas nie. Sy stem het lankal stil geword; sy spore onder die stof toegewaai. Eenkant teen die plaashek lê ’n eensame tarentaalveer. Die werf is stil, verlate.

Ja, beaam ’n plaaswerker wat hek toe kom, dit was Deon se plaas, maar ’n ander boer huur nou die grond. Dan stap hy weg met twee brakke op sy hakke. En daar, skaars 50 m verder met die oprit, is die vaalpienk huis waar die byna onuitspreeklike dade destyds gepleeg is.

Die mense is weg; die huis staan leeg. Dis nou al langer as ses jaar sedert Deon (44), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), in 2012 hier in die opstal vermoor is.

Ses jaar vandat die egpaar se enigste seun, Don (toe 15), om hulp gaan soek het nadat sy gesin – so het hy aan die polisie vertel – in ’n plaasaanval vermoor is.

Die plaashek na Naauw­hoek, sowat 10 km suid van Griekwa­stad in die Noord-Kaap, waar Don op 6 April 2012 sy ouers en suster in die opstal om die lewe gebring het.

Die sogenaamde Griekwastad-moorde het dié klein Noord-Kaapse gemeenskap verpletter. En nadat die polisie Don in hegtenis geneem het en die tienerseun daarvan aangekla is dat hy sy gesin uitgewis het, het mense landwyd sy verhoor met ingehoue asem gevolg.

Terwyl koerantopskrifte deesdae wemel van nuus oor ’n ander opspraakwekkende dubbeljeugmoord – die moorde wat die Noordwes-dorpie Stella in Mei geruk het – en die vermeende moordenaar Xander Bylsma (19), wat eersdaags verhoor sal word, wonder mense oraloor wat van Don geword het.

Nes Xander was hy bloedjonk toe hy in die beskuldigdebank moes verskyn, en nes op Stella het die gebeure by Griekwastad ’n boeregemeenskap in rou gedompel.

Don is vandag nie meer ’n tiener nie. Hy het op 15 Augustus 22 geword in die Groenpunt-tronk naby Deneysville in die Noord-Vrystaat, waar hy sy vonnis van 20 jaar uitdien nadat hy in 2014 skuldig bevind is aan die moorde. Hy studeer deesdae rekenaarstudie en word in ’n enkelsel aangehou, berig Netwerk24.

’n Beklemmende, neerdrukkende atmosfeer van tragedie hang oor die werf en die toegesluite huis, waar niemand vandag woon nie. Die tuin, eens Christel se trots, is dor en dood, soos ’n vaalbruin roukleed.

Naauwhoek word deur die eksekuteurs van Deon Steenkamp se boedel van miljoene rande in ’n trust gehou en verhuur tot tyd en wyl die boedel afgehandel is. Meer wou die eksekuteurs nie sê nie.

Ingevolge die bebloedehand-regsbeginsel mag Don nie uit sy ouers se boedel erf nie omdat hy hulle vermoor het. Hier sal hy waarskynlik nooit kan woon nie . . .

Don Steenkamp het sy gesin uitgewis.

Op die Naauwhoek-naambord is steeds die afbeelding van ’n pronkende perd. Dis ’n soort herinnering aan gelukkiger tye toe Marthella en Don albei talentvolle perdesportruiters was en Christel, hul ma en grootste ondersteuner, padkos gemaak en saam met hulle na elke kompetisie gereis het.

Griekwastad is so klein, as ’n mens vir ’n hoender uitswaai, ry jy amper die dorpie mis. Van Kimberley vat jy die N28 weswaarts deur die vlaktes van die Kalahari wat eindeloos na weerskante uitstrek.

Dan, ná 150 km, is jy skielik daar. Die boomryke middedorp beslaan net ’n paar straatblokke. Daar is die NG kerk, een vulstasie, twee of drie drankwinkels, die landdroshof, ’n restaurant en kroeg. Die dorp dien meestal die skaap- en beesboere van die uitgestrekte distrik, asook handelaars in halfedelstene soos tieroog.

Die NG kerk met sy gekleurde loodglasvensters het sowat 250 lidmate, vertel die koster, Johan van Zyl. Dit was hier, met die Paasdiens in 2012, dat die gemeente die Steenkamps die laaste keer voor die moorde gesien het.

Hulle is op daardie Goeie Vrydag vermoor. Vandag nog onthou die gemeente daardie verskriklike Paasnaweek en die gebeure daarna. “Met hul roudiens was hier meer as 400 mense,” vertel Johan. “Ons moes nog stoele indra.”

Elke jaar op die dag van hul dood word ruikers van laventel en rose weer op die plekke geplaas waar die Steenkamps in die kerk gesit het. In die kerktuin is drie sementvoetspore aangebring, een vir elkeen van die slagoffers.

Die mense van Griekwastad het ses jaar later steeds vrae oor die tragedie wat hul rustige gemeenskap so geskud het.

In die kroeg, waar boere graag ’n lafenis kom soek nadat hul dorpsake afgehandel is, sê ’n halfedelsteenhandelaar, Peet van der Westhuizen: “Tot vandag toe kan ek regtig nie verstaan hoekom Don dit gedoen het nie.”

Ander dorpenaars eggo telkens dieselfde woorde, vergesel deur dieselfde, half ongelowige kopskud. “Ons is eintlik al moeg om daaroor te praat,” laat hoor nog ’n man by die kroegtoonbank knorrig.

Bennie Jordaan, wie se vrou, Morené, die kroeg besit, verduidelik: “Ons probeer nog die stukke van ons lewe optel en aangaan. Maar ons sal hulle nooit vergeet nie. Ons kan nie.”

Dan val die knorrige kroegdrinker weer in: “Niemand praat meer daaroor nie. Ons wil eerlikwaar liewer net daarvan vergeet,” sê hy en stap uit.

Die gedenkmuur op die dorp waarin die vermoorde Deon, Christel en Marthella se oorskot rus.

Die moorde het Griekwastad “op die map gesit”, sê Morené droogweg. Om al die verkeerde redes.

Sy was ’n vriendin van Christel en ’n medelidmaat van die kerk aan die bopunt van die dorp se hoofstraat, vertel sy. “Hul sitplekke in die kerk, waar hulle elke liewe Sondag gesit het, is nou leeg. Niemand sit op hul plekke nie,” sê Morené.

Toe die Steenkamps nog geleef het, het Morené dikwels by hulle op die plaas gaan kuier, waar Deon suksesvol met skape geboer het. “Maar alles op die plaas het agteruitgegaan. Dis omdat niemand meer in die huis woon nie,” sê sy.

Die man wat nou die grond huur, woon glo in Pretoria, maar wou nie kommentaar lewer nie. Net ’n paar van die Steenkamps se oorspronklike werkers is nog op die grond.

Vir Morené is veral die agteruitgang van Christel se geliefde tuin hartseer. “Christel het geweet hoe om dinge mooi te maak,” vertel sy. “Deon het altyd vir haar mooi klippe uit die koppies vir die tuin aangery. Nou is daar niks van haar tuin oor nie.”

Oor hoe dit met Don gaan, wil familie en vriende nie eintlik praat nie. “Dit gaan goed met hom,” het ’n familievriend wat Don in die tronk besoek by navraag gesê. “Hy studeer, maar origens het hy geen voordele nie. Hy is nes enige ander gevangene.”

“Daai kind het voor ons oë grootgeword,” sê Morené nou. “Ons kon dit nie toe glo nie en ek kan dit steeds nie glo nie. Ons moet ons seker berus in wat die hof gesê het . . . Maar vir ons was hy net ’n doodgewone kind.”

Ry ’n mens Griekwastad uit in Groblershoop se rigting, is die heel laaste gebou langs die deurpad die Proviand-restaurant. Die gebou is in 1899 opgerig, in die era toe die dorp die administratiewe setel van die Griekwavolk was en veroordeelde moordenaars aan ’n boom langs die huidige hoofstraat opgehang is.

Dis hier dat Don glo kort ná die moorde op sy ouers en suster in die restaurant se toilette die droë bloed van sy hande afgewas het nadat hy “kom hulp soek” en vertel het onbekende aanvallers het sy gesin uitgewis. Hier het die eienares van die restaurant hom glo ’n glas suikerwater ingejaag vir die skok. Maande later is hy in hegtenis geneem en van moord aangekla.

Don, wat nooit borgtog gekry het nie, is nou al langer as ses jaar agter tralies. Maar die jong egpaar wat ons vandag in die restaurant begroet, sê hulle weet niks. Hulle het die plek gekoop en die vorige eienaars is intussen landuit.

Dis so al asof Griekwastad die spore van die tragedie probeer uitvee. Maar in die kroeg vertel Bennie: “Wanneer ons uit die dorp gaan en iewers in ’n gastehuis oorslaap en die mense vra waar ons vandaan kom en ek sê Griekwastad, dan vra hulle oor die moorde . . .

“Dis soos ’n seer wat dan weer oopgekrap word. Dis dan van voor af seer.”