Steenkamp dien in die Boksburg-gevangenis ’n vonnis van 20 jaar uit vir die moord op sy ouers, Deon en Christel, asook die moord op en verkragting van sy jonger suster, Marthella (14).

Ons besoek hom gereeld. Dit is nie net omdat hy verjaar nie

Steenkamp beoog steeds om appèl aan te teken teen sy vonnis en die saak moontlik te laat heropen.

Bennie Heckroodt, familievriend van die Steenkamps wat naby Kimberley in die Noord-Kaap boer, het Dinsdag aan Huisgenoot.com vertel hy en sy vrou, Hanlie, sal Steenkamp waarskynlik die naweek weer gaan besoek. Bennie het soos gewoonlik die afgelope naweek nog telefonies met hom gesels.

Don Steenkamp is op aanklagte van moord, verkragting en regsverydeling skuldig bevind.

“Ons besoek hom gereeld. Dit is nie net omdat hy verjaar nie,” het Bennie, Steenkamp se voog ná sy ouers se dood, gesê. Volgens Bennie bly Steenkamp “besonders positief”, maar hy wou nie uitwei oor die moeilike omstandighede waarin hy hom bevind nie.

Hy wou hom ook nie uitlaat oor die beoogde appèlaansoek nie. Hy sê daar is ’n hele groep wat Steenkamp elke naweek besoek en steeds onwrikbaar in sy onskuld glo.

Steenkamp is op aanklagte van moord, verkragting en regsverydeling skuldig bevind ná die opspraakwekkende voorval vyf jaar gelede op Goeie Vrydag op 6 April 2012 op die plaas Naauwhoek in die distrik Griekwastad.

Sy gesin is met twee onderskeie vuurwapens afgemaai. Hy het beweer hy het oorleef omdat hy in die skuur was.

Die hof het egter sy weergawe van gebeure verwerp en bevind hy het waarskynlik sy gesin uitgewis om die verkragting van Marthella te verbloem.

Huisgenoot het Dinsdag betroubaar by ’n bron met insae in sy beoogde appèlaansoek verneem die bewyse om die verkragting, die “vreemde DNS” op die moordwapens, die “gebrekkige” vingerafdrukke wat geneem is en die moontlike invloed wat die media se teenwoordigheid op Steenkamp gehad het, sal alles deel vorm van die verdediging se saak.

Hy is ’n doodgewone, normale kind

Steenkamp was 15 jaar oud toe die moorde gepleeg is en steeds minderjarig toe hy in die Noord-Kaapse hooggeregshof verhoor is. Aangesien hy as 16-jarige nog minderjarig was ten tyde van die moorde, het hy outomaties die reg om appèl aan te teken en hoef hy nie daarvoor aansoek te doen nie.

Huisgenoot het betroubaar verneem ’n datum is nog nie vasgestel nie aangesien die verdediging se ondersoek voortduur.

Hy is ’n pragtige, pragtige, doodnormale kind. Hy is glad nie simpatiesoekerig nie.

’n Bron na aan Steenkamp wat nie geïdentifiseer wil word nie, maar gereeld en wettiglik met hom kontak het, het Dinsdag op sy verjaardag vertel Steenkamp is steeds dieselfde mens.

“Die media het hom uitgebeeld as ’n monster, ’n kinderverkragter. Ek het die kind op ’n diep vlak leer ken. Hy is ’n doodgewone, normale kind. Wat my verstom, is dat hy deurlopend nooit enige kunsmatigheid of skynheiligheid getoon het nie. Hy is ’n pragtige, pragtige, doodnormale kind. Hy is glad nie simpatiesoekerig nie.”