Raymond Papapavlou
Die eens gelukkige egpaar: Vir vriende en geliefdes het dit gelyk asof Raymond en Simoné Papapavlou doodgelukkig is. Foto: Facebook

Net meer as ’n week nadat ’n familielid van die vermoorde Raymond Papapavlou van Limpopo in die media gesê het hy help nou sélf met die ondersoek na sy susterskind se moord, het die plaasbestuurder se onteerde vrou ’n beskermingsbevel teen dié familielid bekom.

Die hoekoms en die waaroms gaan hulle nie met die media bespreek nie, sê Simoné Papapavlou se regsverteenwoordiger, Louw Erasmus, Donderdag aan Huisgenoot.

“Ons gaan geen kommentaar lewer op die saak nie,” sê hy. “Japie is die man met wie julle moet praat.” 

Louw verwys na Japie Jonker, Raymond se oom aan moederskant, wat net meer as ’n week gelede aan Rapport gesê het hy help self met die ondersoek na Raymond se moord, “want die polisiewerk is te vrot”.

Japie, wat ook ’n buurman van die Papapavlou-egpaar was, het dié nuus aan Huisgenoot bevestig.

Raymond Papapavlou
Japie Jonker. Foto: Facebook/Japie Jonker

“Daar is baie partye wat bang is omdat ons te naby aan die waarheid kom oor die gebeure wat op daardie nag afgespeel het,” sê hy. “Simoné en haar regspan probeer nou rondtrippel en die aandag op iemand anders vestig.” 

’n Tydelike beskermingsbevel is vroeër vandeesmaand teen hom verkry, sê Japie. Hy sal vandeesweek weer in die hof moet verskyn wanneer ’n permanente bevel glo uitgereik sal word.

Japie word in dié dokument beveel om Simoné nié aan te rand, te beledig of te intimideer nie. Hy mag ook nie kontak met haar hê nie en ook nie naby aan haar huis in Bronkhorstspruit, in Gauteng, kom nie.

Maar die verwysings na aanranding en intimidasie is loutere nonsens, koes Japie.

“Ja, ek het dalk dinge gesê wat kon gebly het. Dit gebeur wanneer jy kwaad is. Maar ek het op aandrag van my eie regsverteenwoordiger vroeër aan haar ’n brief geskryf om verskoning te vra vir wat ek gesê het. Maar dis onsin dat ek haar ooit fisiek leed aangedoen het of dat ek wou, ek weet nie eens waar sy woon nie.” 

Raymond Papapavlou
Daar is kort ná die moord op Raymond beweer dat Patricia Ray-Lee Smith en Simoné ’n liefdesverhouding gehad het. Simoné het dit ontken. Foto: Facebook

Sy énigste doel is om antwoorde te verkry op die onbeantwoorde vrae oor die omstandighede wat daartoe gelei het dat ’n lewelose Raymond op 4 Oktober dood in sy bed aangetref is, sê Japie.

Die plaasbestuurder is destyds aangetref met ses skietwonde – een aan sy kop en nog vyf aan sy lae rug.

Simoné het destyds vertel sy het “waarskuwingskote” vanuit die aangrensende woonkamer geskiet toe vermeende “aanvallers” toegang tot die egpaar se huis verkry het. Dit was sy wat die buurtwag en polisie na die toneel ontbied het.

Maar dís toe dat ’n dramatiese wending plaasvind: Nadat daar dae lank oor Simoné se beweerde verhouding met Patricia Ray-Lee Smith, ’n vriendin, gegis is, is Patricia van moord en sameswering aangekla. Die twee was glo jare lange vriende.

Raymond Papapavlou
Patricia Ray-Lee Smith met een van haar eerste hofverskynings. Foto: Deon Raath

Sers. Tshepo Mogana, die destydse ondersoekbeampte in die saak wat intussen geskors is, het tydens Patricia se borgtogaansoek getuig dat die twee vroue glo die moord saam beplan het. 

Simoné se naam is hierna as verdagte by die klagstaat gevoeg, maar sy is sedertdien nog nie formeel aangekla nie.

Dis vir hulle pynlik dat daar soveel maande later nog geen vordering is nie, sê Japie. Tog bly hy vol vertroue dat daar binnekort ’n deurbraak sal wees. 

“Ek weet ons is op die regte spoor,” sê hy. “Ons kom nader en nader aan die waarheid, en dit maak die skuldiges bang. Maar een ding bly seker: Ons sal veg vir geregtigheid – ons skuld dit aan Raymond.”

  • Patricia verskyn weer op 11 Junie in die distrikshof op Groblersdal. Die polisie in Limpopo het nie onmiddellik reageer op ’n versoek om kommentaar nie.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe