Duisende mense van alle ouderdomme uit alle uithoeke van die land deel prentjies, stel vrae, en deel in mekaar se lief en leed. Alles in kuiergroepe waar hulle die minderheid van die lede al in die regte lewe ontmoet het.

“Ek het net eendag per ongeluk so drie jaar gelede op dié blad afgekom,” sê Maria Meyer, ’n administrateur op die kuiergroep Babbel.

Hoewel sy baie vriende in die groep het, en ook mense in die groep leer ken het, het sy nog nooit enige van hulle van aangesig tot aangesig ontmoet nie.

“Die ouderdomme wissel van bloedjonk tot diep in die 70's,” sê Maria.

Joey Basson was vroeër lid van ’n ander kuiergroep op Facebook, en “het besef watter groot behoefte daar aan ’n meer gespesialiseerde kuierblad is".

Sy sê ook dat enigiemand welkom is om inskrywings in ooreenstemming met die bladreëls te maak en “daar is altyd belangstelling in elke onderwerp".

Volgens Joey het sy “Joey se Kuierstoepie” vyf maande gelede geregistreer, en staan hul ledetal al op amper 4 500.

“Daar is baie eensame mense, meer as wat ’n mens jou kan indink, en dié Kuierstoepie bied hulle geselskap en ’n holtetjie vir die voet,” sê Joey.

Simonè Schutte, ook ’n administrateur van Joey se Kuierstoepie sê: “Om deel te wees van ’n Facebook-kuiergroep gee my elke dag ’n lekker lag en geselskap wanneer ek nie by vriende of familie is nie.”

Annelise Smal, ’n administrateur van Babbel, vertel dat sy toevallig sowat drie jaar gelede op dié groep afgekom het. “Van die lede het ek al ontmoet, en ons is baie hegte vriende.” 

’n Administrateur van In en om die Huis, Arno Tietz-Geldenhuys, sê wat dié groep vir hom lekker maak, is dat “daar soveel verskillende mense met verskillende gevoelens is”.

Met dié groep wat op amper 150 000 lede staan, voeg hy by dat 'n mens by almal kan leer.

Lizélle Wilkinson, ’n administrateur van Joey se Kuierstoepie, sê dat 'n mens elke dag iets nuuts leer. “Om met individue te kommunikeer wat verskillende sienings het oor ’n verskeidenheid onderwerpe is vir my baie leersaam.”