Die groot wag van twee jaar is verby vir die 13-jarige Larochelle Steenberg van Welkom, wat Woensdag ’n nuwe nier kry. Haar ma, Lisa, is die skenker.

“Dit is ’n vreeslike emosionele dag," het Elenor Steenberg, Larochelle se ouma en Lisa se ma, Woensdagmiddag aan Huisgenoot.com gesê.

Sy is tans by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, waar haar dogter Lisa en kleindogter steeds in die teater is.

Larochelle Steenberg en haar ma, Lisa.

“Mammie, ek is bang,” het Lisa Dinsdagaand aan Elenor gesê.

’n Chroniese niersiekte is in 2015 by Larochelle gediagnoseer en sy het nou ’n nierfunksie van net sowat vyf persent.

Elenor vertel toe die ma en dogter mekaar Woensdagoggend in die gange op pad teater toe sien, het Lisa byna uit haar hospitaalbed opgespring om vir Larochelle te groet.

“Mammie is lief vir jou, jy gaan uiteindelik gesond wees, Mamma gaan ’n nier vir jou gee,” het Lisa aan Larochelle gesê oomblikke voordat hulle by die teater ingestoot is.

Ná die operasie sal Lisa ’n dag in die intensiewesorgeenheid aansterk voordat sy na ’n algemene saal oorgeplaas word.

Larochelle sal in die hospitaal se niereenheid versorg word.

“Nou sit ons en wag, my senuwees is op."

Elenor het teen 1.30 nm. laat weet Lisa het uit die teater gekom. “Alles het goed afgeloop met Lisa.”