jerry
Jerry die kat is veilig en ongedeerd nadat hy verkeer in Brackenfell in die Wes-Kaap tot ’n stilstand geruk het. Foto: Verskaf

Michelle Buchanan vertel nadat sy Vrydagmiddag met hom by die Brackenfell-dierekliniek was, het haar katjie, Jerry, uit sy hokkie “ontsnap” en in die verkeer beland.

Dié kliniek is naby ’n groot Checkers Hyper-winkelsentrum op Brackenfell-boulevard geleë en Jerry het – soos ’n kat wat room gekry het – vryheid gesmaak en in die rigting van die woelige straat gepyl

“Jerry het naby die groot kruising by die Checkers uit sy hokkie gekom en reguit in die verkeer ingehardloop. Daardie pad is baie besig, en jy moet weet, dit was ’n Vrydagmiddag ná 16:00.”

Sy vertel hoewel sy reeds vier optelkatte gered het, is Jerry vir haar baie spesiaal omdat sy hom in ’n drein gekry en toe met ’n bottel grootgemaak het.

jerry
Michelle Buchanan, die eienaar van Jerry, het al altesaam vier katte gered. Foto: Verskaf

Jerry was gelukkig reeds by die kliniek gehelp voor hy sy eienaar gefnuik het, maar Michelle moes terugdraai en vir Jerry nog ’n inspuiting teen hondsdolheid laat kry voor sy en haar dogtertjie, Alaina (9), hom kon huis toe neem.

“Dit het in daardie stadium gevoel of daar duisende karre was toe Jerry uitbreek en reguit in die verkeer inhardloop. Almal wat daar was, het ingespring om te help en het Jerry agternagesit.”

Maar hoe meer Jerry “gejaag” is, hoe ratser het hy sy volgelinge ontduik.

Jerry het in die pad van ’n aankomende bakkie beland en hy was skielik skoonveld. Almal wat hom probeer help het, het gegil toe hulle dink dis neusie verby met die kietsie.

Tot almal se verbasing het ’n ongedeerde Jerry te voorskyn gekom en sy kattekwaad in die verkeer voortgesit met al die omstanders agterna.

“Die mense het daarin geslaag om hom na die dierekliniek terug te jaag. Hulle het ’n sirkel gevorm om hom teen die verkeer te beskerm. Jerry is toe na ’n ander motor en het eindelik in die veearts se enjinkap geklim.”

Michelle sê helpers het onder die kar geklim om Jerry te probeer gewaar, maar die veearts moes haar kap oopmaak sodat hulle Jerry kon uithaal.

jerry
Jerry weet nie net hoe om mense flink te ontduik nie; hy geniet dit ook nes enige kat om in die son te lê. Foto: Verskaf

En daar loer haar elf maande oue babakat, genadiglik ongedeerd, vir almal vanuit die enjinkap.

“Ek weet nie hoe Jerry hierdie oorleef het nie. Dit was so spesiaal dat almal ingespring het om te help. Daar was nie een persoon wat nié probeer help het nie.”

Michelle vertel daar was ’n tannie wat gehelp het om Alaina dop te hou en seker te maak haar kind is oukei.

michelle
Michelle en Shimmer poseer vir ’n kiekie. Foto: Verskaf

“Hierdie tannie het tot my handsak opgepas, want ek het dit in ’n stadium net neergegooi. Ek het geskree soos ’n mal vrou toe daar ’n lorrie ook aankom. Ek weet nie hoe Jerry oorleef het en ongedeerd is nie.”

Michelle sê sy het eers ná die tyd besef hoe erg alles eintlik was nadat ’n “oom gesê het hy het nou nog nagmerries oor wat gebeur het”.

Jerry is nou veilig tuis met geen permanente letsels van sy kattemaai in die verkeer nie – hy weet seker al te goed hy het nog agt lewens oor.

Kom neem deel aan die gesprek.

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe