Die voormalige deelnemer aan die 1984 en die 1992 Olimpiese Spele het die nuus só op haar Facebook-blad aangekondig: "Ek het nie woorde nie, net goeie herinneringe. Ek glo jy het rus gevind. (Quintus Budd 11 Maart 2018)."

Hy was 56 jaar oud.

Meer besonderhede is nie beskikbaar nie. Zola het op Huisgenoot se navraag geantwoord dat sy in hierdie stadium nie oor haar broer se dood wil praat of kommentaar wil lewer nie.

So het Zola Budd hulde aan haar broer op haar Facebookblad gebring.

Na die omstrede voorval gedurende die 1984 Olimpiese Spele toe Zola en die Amerikaner Mary Decker tydens die 3 000 m-wedloop gebots en geval het, was Quintus die een wat na haar uitgereik het. 

Hy het aan die UPI-aanlynnuusblad vertel hy was baie bekommerd oor sy suster na sy in die onsmaaklike voorval betrokke was.

“Ek het net gewens dat sy hier kon wees sodat ons haar 'n groot druk kan gee en sê sy is steeds ons heldin,” het Quintus vertel.

Hy was ook aan haar sy tydens haar troue in 1989 met die Bloemfonteinse sakeman, Mike Pieterse, en het haar weggegee. Sy en haar pa, Frank, was in daardie stadium vervreem van mekaar en hy het nie die troue bygewoon nie.

In Februarie 2015 het Zola dié familiefoto gedeel.

Op Zola se Facebookblad het boodskappe van ondersteuning ingestroom.

Elsabe Van Onselen-Snijman skryf: “Jammer om te hoor. Mag God jul omvou en dra in tyd. Liefde.”

Sy is so jammer, skryf Sonja Stroebel.

“Mag Jesus julle hele familie toevou in sy arms en vir julle troos gee. Ek dink aan jou maatjie en bid vir julle.”

Suzette Venter se boodskap is: “So jammer om te hoor! Sterkte en in ons Gebede!!”

Woorde van ondersteuning het vir Zola op haar Facebookblad ingestroom.

Zola bevind haar in Myrtle Beach, Suid-Carolina en is die hoofafrigter (mans en vroue-landloop) by die Coastal Carolina-universiteit.

Bykomende bronne: runnersworld.co.za, upi.com